Wednesday, April 9, 2008

KINDERS VAN GOD

`N GEBOORTE BO ALLE GEBOORTES

LEES: Ps 2; Lukas 1:26-38; Kategismus Son 14
TEKS: Luk 1:32-35; Ps 2:7
SING: Ps 89:3,4; Ps 86:1,2; Ps 86:3,5; Ps 2:4,6


Ons glo dat nie een van die Twaalf Artikels weggelaat mag word of verander word nie.
As een pilaar van die geloof losgelaat word, stort alles in een. Dit is deur die hele geskiedenis ervaar.

Hierdie feit word egter deesdae nie deur almal geglo nie. Daar is mense wat aan van die fondamentstene van die Christelike verander, en dan nog glo dat hulle Gereformeerd is.

So bv glo ons ook dat `n mens in ALLE BESONDERHEDE in die koms en geboorte van Jesus Christus moet glo - soos dit in die Woord van God opgeteken is – as hy die saligheid wil beërwe.
Daar is egter baie wat nog die naam van Christen wil dra, wat nie meer glo aan die maagdelike geboorte van Christus, of in Sy Godheid of Sy opstanding uit die dood nie.

Wat ons in Sondag 14 bely, is vir ons ewige saligheid nodig.

I.DIE ENIGGEBORE SEUN VAN GOD

Waarom is dit vir ons saligheid nodig om dit te glo ?

Omdat, as iemand dit nie glo nie, hy elders sal moet gaan soek na sy saligheid . . . wat hy nie sal vind nie.
By die mens self is dit nie te vind nie.

Daar is mense wat begin glo het dat hierdie belangrike leerstelings van die Kerk maar dinge is wat die Apostels self uitgedink en in die Bybel ingeskrywe het.
Hulle glo dat die Apostels dit dan gedoen het om hulle eie idees te steun en hulleself geloofwaardig te maak.

Luister na wat Christus Self sê hieroor:
DAAR MAG NIE `N JOTA OF TITEL AAN HIERDIE WOORD VERANDER WORD NIE.
Wie iets byvoeg OF WEGLAAT, is die saligheid kwyt ! (Openb 22:18,19.)


KOM ONS KYK NA DIE GEWONE GEBOORTE VAN `N KIND.

Hy het ouers, uit wie hy verwek is.
Hy is liggaam en siel, wat `n wonderlike verbintenis is wat God Self geskape het.

Selfs by sy dood hou hierdie verbintenis slegs TYDELIK op, want op die opstandingsdag word ALMAL se liggaam en siel weer verenig. Ons noem hierdie verbintenis die menslike natuur.



= 2 =

Die mens is die kroon van Sy skepping . . . Oorspronklik na God se beeld geskape: in ware geregtigheid en heiligheid.

Na die sondeval is hierdie beeld egter verbreek.
Nou word alle mense in sonde ontvang en gebore. Ons is almal kinders van die toorn, uit onsself bestem vir die ewige dood in die buitenste duisternis.
Die dood tree in, soos God beloof het (Gen 2:17). Geestelik sterf die mens in sy sonde. Die liggaamlik dood volg vir almal, en die ewige dood – die helse straf – het op almal gewag.

By sy oorgeërfde liggaamlike eienskappe erf die mens ook nou die geestelike erfenis van die sonde.

Elke mens het sy eie persoonlikheid en wese, maar almal saam het in die eerste Adam geval.


Geen sondaar kan eers vir sy eie sonde betaal nie.


In Sy genade bring God vir ons egter die Een wat deur Sy volmaaktheid vir ons kan betaal.
God die Seun, ewige God, neem mensevlees aan: ons mense-natuur. Daarmee breek Hy die doodslyn wat van die sondeval almal se deel moes wees.

God gryp van BO af in en doen vir ons wat geen mens kan nie: daar word versoening met Hom bewerk.
Teenoor Satan se leuen aan Eva, dat ons soos God sal word, het ons die afgrond betree. Geen gewone skepsel kan eers vir homself die skuld oor die sonde betaal nie, wat nog vir `n ander.

Om buite die lyn van die erfsonde te wees, word Christus op `n wonderbare manier ontvang en gebore . . . SONDELOOS ! Sy ontvangenis is `n wonder van God die Heilige Gees, en Hy word uit `n maagd gebore.
Die krag van die Allerhoogste het haar oorskadu.

As elke geboorte al `n wonder is, hoeveel meer het hier nie gebeur nie.

God die Seun kom na die wêreld en vereenselwig Hom met ons.
As MENS het Hy die losprys kom betaal.
Hoewel sondeloos, het Hy ons sondes op Hom kom neem.


Wat nie uit Adam en Eva se nageslag op natuurlike wyse kon kom nie, word moontlik, wanneer die Skepper van die natuur Self hierdie wette ophef: `n wondergeboorte vind plaas.

2.DEUR HOM IS ONS OOK WEER KINDERS VAN GOD

Jesus Christus, hoewel God, kon na Sy mensheid in ons plek tree.


= 3 =

Ons het slegs die ewige dood verdien, maar Hy verdien vir ons die ewige lewe.

Nou kan ons nog `n vrug van Sy verdienste ken: In hierdie lewe reeds word ons weer kinders van God, deur die geloof in Christus se verdienste.
Om anders te wil glo, is om God Self tot leuenaar te maak. Dan soek mens deur die invloed van Satan jou saligheid elders.

Wat bykans 2000 jaar gelede in Bethlehem gebeur het, was dat daar goddelike lig deurgebreek het in hierdie wêreld se sondige donkerte.

Uit die hoogte kom ons Verlosser, om ons hieronder te ko red.
Hy neem mensevlees aan, om vir ons te betaal.
Hy is heilig, om ons onheiligheid te kan dra aan die kruis, en ons sondes te bedek.
Hy bly ook God, en Sy Godheid, wat wel alomteenwoordig is, is ook met Sy mensheid verenig.

Hy kom in vernedering, om ons te verhoog tot kinders van God !

Amen.

- - - 0 - - -

No comments: