Wednesday, April 9, 2008

KINDERS VAN GOD

`N GEBOORTE BO ALLE GEBOORTES

LEES: Ps 2; Lukas 1:26-38; Kategismus Son 14
TEKS: Luk 1:32-35; Ps 2:7
SING: Ps 89:3,4; Ps 86:1,2; Ps 86:3,5; Ps 2:4,6


Ons glo dat nie een van die Twaalf Artikels weggelaat mag word of verander word nie.
As een pilaar van die geloof losgelaat word, stort alles in een. Dit is deur die hele geskiedenis ervaar.

Hierdie feit word egter deesdae nie deur almal geglo nie. Daar is mense wat aan van die fondamentstene van die Christelike verander, en dan nog glo dat hulle Gereformeerd is.

So bv glo ons ook dat `n mens in ALLE BESONDERHEDE in die koms en geboorte van Jesus Christus moet glo - soos dit in die Woord van God opgeteken is – as hy die saligheid wil beërwe.
Daar is egter baie wat nog die naam van Christen wil dra, wat nie meer glo aan die maagdelike geboorte van Christus, of in Sy Godheid of Sy opstanding uit die dood nie.

Wat ons in Sondag 14 bely, is vir ons ewige saligheid nodig.

I.DIE ENIGGEBORE SEUN VAN GOD

Waarom is dit vir ons saligheid nodig om dit te glo ?

Omdat, as iemand dit nie glo nie, hy elders sal moet gaan soek na sy saligheid . . . wat hy nie sal vind nie.
By die mens self is dit nie te vind nie.

Daar is mense wat begin glo het dat hierdie belangrike leerstelings van die Kerk maar dinge is wat die Apostels self uitgedink en in die Bybel ingeskrywe het.
Hulle glo dat die Apostels dit dan gedoen het om hulle eie idees te steun en hulleself geloofwaardig te maak.

Luister na wat Christus Self sê hieroor:
DAAR MAG NIE `N JOTA OF TITEL AAN HIERDIE WOORD VERANDER WORD NIE.
Wie iets byvoeg OF WEGLAAT, is die saligheid kwyt ! (Openb 22:18,19.)


KOM ONS KYK NA DIE GEWONE GEBOORTE VAN `N KIND.

Hy het ouers, uit wie hy verwek is.
Hy is liggaam en siel, wat `n wonderlike verbintenis is wat God Self geskape het.

Selfs by sy dood hou hierdie verbintenis slegs TYDELIK op, want op die opstandingsdag word ALMAL se liggaam en siel weer verenig. Ons noem hierdie verbintenis die menslike natuur.



= 2 =

Die mens is die kroon van Sy skepping . . . Oorspronklik na God se beeld geskape: in ware geregtigheid en heiligheid.

Na die sondeval is hierdie beeld egter verbreek.
Nou word alle mense in sonde ontvang en gebore. Ons is almal kinders van die toorn, uit onsself bestem vir die ewige dood in die buitenste duisternis.
Die dood tree in, soos God beloof het (Gen 2:17). Geestelik sterf die mens in sy sonde. Die liggaamlik dood volg vir almal, en die ewige dood – die helse straf – het op almal gewag.

By sy oorgeërfde liggaamlike eienskappe erf die mens ook nou die geestelike erfenis van die sonde.

Elke mens het sy eie persoonlikheid en wese, maar almal saam het in die eerste Adam geval.


Geen sondaar kan eers vir sy eie sonde betaal nie.


In Sy genade bring God vir ons egter die Een wat deur Sy volmaaktheid vir ons kan betaal.
God die Seun, ewige God, neem mensevlees aan: ons mense-natuur. Daarmee breek Hy die doodslyn wat van die sondeval almal se deel moes wees.

God gryp van BO af in en doen vir ons wat geen mens kan nie: daar word versoening met Hom bewerk.
Teenoor Satan se leuen aan Eva, dat ons soos God sal word, het ons die afgrond betree. Geen gewone skepsel kan eers vir homself die skuld oor die sonde betaal nie, wat nog vir `n ander.

Om buite die lyn van die erfsonde te wees, word Christus op `n wonderbare manier ontvang en gebore . . . SONDELOOS ! Sy ontvangenis is `n wonder van God die Heilige Gees, en Hy word uit `n maagd gebore.
Die krag van die Allerhoogste het haar oorskadu.

As elke geboorte al `n wonder is, hoeveel meer het hier nie gebeur nie.

God die Seun kom na die wêreld en vereenselwig Hom met ons.
As MENS het Hy die losprys kom betaal.
Hoewel sondeloos, het Hy ons sondes op Hom kom neem.


Wat nie uit Adam en Eva se nageslag op natuurlike wyse kon kom nie, word moontlik, wanneer die Skepper van die natuur Self hierdie wette ophef: `n wondergeboorte vind plaas.

2.DEUR HOM IS ONS OOK WEER KINDERS VAN GOD

Jesus Christus, hoewel God, kon na Sy mensheid in ons plek tree.


= 3 =

Ons het slegs die ewige dood verdien, maar Hy verdien vir ons die ewige lewe.

Nou kan ons nog `n vrug van Sy verdienste ken: In hierdie lewe reeds word ons weer kinders van God, deur die geloof in Christus se verdienste.
Om anders te wil glo, is om God Self tot leuenaar te maak. Dan soek mens deur die invloed van Satan jou saligheid elders.

Wat bykans 2000 jaar gelede in Bethlehem gebeur het, was dat daar goddelike lig deurgebreek het in hierdie wêreld se sondige donkerte.

Uit die hoogte kom ons Verlosser, om ons hieronder te ko red.
Hy neem mensevlees aan, om vir ons te betaal.
Hy is heilig, om ons onheiligheid te kan dra aan die kruis, en ons sondes te bedek.
Hy bly ook God, en Sy Godheid, wat wel alomteenwoordig is, is ook met Sy mensheid verenig.

Hy kom in vernedering, om ons te verhoog tot kinders van God !

Amen.

- - - 0 - - -

BYBELSE TYDS-VOLGORDE

VOLGORDE VAN DIE OU TESTAMENT

Hoewel julle nie die vorige jare se artikels hieroor gehad het nie, gee ek tog hierdie laaste oor die volgorde van Ou en Nuwe Testament se volgorde.
As julle die hele reeks wil kry, laat weet my gerus op htdevilliers@gkpretoria.org.za, dan werk ek daaraan om dit alles te publiseer.


WEEREENS: HIERDIE DIEN OOK AS `N BYBELLEES-GIDS

2 Kon 23:28-30; 2 Kron 35:20-27 – Koning Josia sterf in oorlog.
2 Kon 23:31-34;2 Kron 36:1-4; Jeremia 22:10-12 - Goddelose Joahas volg hom op, Farao Nego verplaas hom met sy seun Eljakim.
2 Kon 23:36-24:16; 2 Kron 36:5; Jer 26:1-19, 27:1-11; Habakuk 1:1-3:19; Jer 35:1-19, 25:15-38 – Profesieë in tyd van goddelose Jojakim en Jojagin.
2 Kon 24:7, 24:17-25:30; Dan 1:1-3; Jer 25:1-11, 36:1-8, 45:1-5, 46:1-12; Dan 1:4-20; Jer 26:20-24, 22:13-19, 36:9 – Ballingskap van Juda begin.
Dan 2 – Droom van koning Nebukadnesar van Babel.
Jer 36:10-32 – Koning vernietig Jer se profesie
Jer 13:1-20:18 – Jeremia se profesieë.
2 Kon 24:1; Jer 47:1-7, 48:1-49:39 –Nog prof’e
2 Kon 24:2-20; 2 Kron 36:6-16; Jer 52:28; Jer 22:24-30; Ester 2:6; Jer 21:1-14, 22:1-23, 23:1-24:10, 27:12-22, 29:1-31:40, 28:1-16, 28:17, 37:1-2, 52:1-2 Gebeure voor en tydens
Ballingskap.
Eseg 1:1-6:14, 7:1-4:27; Jer 52:3-5, 39:1; 2 Kon 24:5-18; Jer 52:29, 32:1-5, 34:8-22; 29:1-16; Eseg 26:1-28:19 – Profesieë voor en tydens begin van Babiloniese ballingskap.

VERDERE PROFESIEë EN GEBEURE AAN BEGIN VAN DIE JUDA-BALLINGSKAP
Eseg 30:20-31:18; Jer 37:3-21, 32:6-34:7, 38:1-27, 39:15-18, 38:28; 2 Kon 25:3; Jer 52:6, 39:2-3; 2 Kon 25:4; Jer 39:4, 52:7; 2 Kon 25:5; Jer 39:5, 52:8; 2 Kron 36:17; Jer 52:9, 39:6, 52:10; Eseg 12:13-14; 2 Kon 25:6-7; Jer 39:7, 52:11.
2 Kon 25:8-10; 2 Kron 36:19; Jer 39:8, 52:12-14.

5e VLAAG VAN WEGVOERING VANUIT JUDA, EN WAT VOLG
2 Kon 25:11-21; 2 Kron 36:18,20-21; Jer 39:9-10, 52:15-27; Ps 94:1-23; Ps 74:1-23; Ps 79:1-13; Klaagl 1:1-5:22.

DIE BALLINGSKAP VERDER
2 Kon 25:22-26; Jer 39:11-14, 40:1-16, 41:1-43:13; 2 Kon 25:25;
Jer 46:13-28, 44:1-30; Eseg 33:21-33, 25:1-17, 28:20-26, 32:1-32.

6e WEGVOERING EN VERDER
Jer 52:30; Dan 3:1-4:3; Eseg 33:1-48:35, 29:17-21, 30:1-19;
Dan 4:4-37; 2 Kon 25:27-30; Jer 52:31-34.
Jeremia oorlede ongev 561 v.c.
Dan 7:1-28; “BALLINGSKAPS-PSALMS”: Ps 67, 123, 130, 137.
Dan 8:1-27; Jes 13:17-22; Jer 25:12-14, 50:1-51:64; Dan 5:1-31.

PERSIë NEEM WêRELDMAG OOR
Jes 44:28; Dan 1:21, 11:1, 9:1-27; Ps 102. LW: Daar is soms groot verskille oor die plasing van Psalms in tyd-volgorde.

TERUGKEER UIT BALLINGSKAP
Esra 5:13; 2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4; Ps 126, 85; Esra 1:5-16,
6:3-5; Dan 6:1-28, 10:1-21, 11:2-12:13; Esra 2:1-70; Neh 7:5-72;
Neh 12:1-26; Esra 3:1-7; Ps 87.
HERBOU VAN TEMPEL EN JERUSALEM EN TYD VAN LAASTE O.T.PROFETE

Esra 3:8-13; Ps 84, 107, 66; Esra 4:1-24; Ps 129; Esr 5:1.
Haggai 1:1-10; Esr 5:2; Hag 1:11-2:9; Sag 1:1-6; Hag 2:10-23;
Sag 1:7-17, 4:6-10, 1:18-21, 2:1-6:15; Esr 5:3-6:14; Sag 7:1 – 8:23; Esr 6:15

Esr 6:16-22; Ps 146, 111, 112, 113, 116, 117. Word ook genoem as moontlike tyd van ontstaan van Pss 147-150, 48, 81.

Sag 9:1-14:21; Ester 1:1-10:3; Esr 7:11-10:44; Neh 1:1-7:4; 1 Kron 9:2-34, 11:1-36; Neh 7:73-10:39, 12:27-43; Ps 147, 148, 149, 150; Neh 13:4-5, 12:44-47, 13:1-3; Ps 119; Ps 1; Neh 13:6-31.

Moontlike plasing van Maeagi: 397 v.C.
Darius II van Persië : 423-404 v.C.
Nehemia : 415 v.C.
Dood van Nehemia : 405 v.C.

Maleagi 1:1-4:6

Ou Testamentiese bedeling eindig ongeveer 331 v.C.


- - - 0 - - -
MENSE EN GEBEURE UIT DIE KERKGESKIEDENIS

(Soms gebruik ekself-uitgewerkte referate of ander bronne, maar in hoofsaak probeer ek u kennis en belangstelling vir hierdie sake wek met verkorte weergawes uit “Gechiedenis der Kerk” van Berkhof en De Jong -- HtdeV)

UITWASSE NA DIE HERVORMING

Wettiese heiliging (selfwerksaamheid vir saligheid)

Die eis dat slegs volwassenes gedoop mag word, is een van die eise wat onkundiges begin verkondig het.
Toe hulle in Switserland oor hulle self-heiligende dwalings vervolg word, versprei die vlugtelinge hulle dwaalleer van Nederland in die Noorde tot by die Alpe. Veral handwerkers en kleinburgers het dit aangehang.

Hulle leer was die “perfeksionisme”, wat glo dat mens in hierdie lewe al volmaak kan word …. Veral deur sommige wettiese voorskrifte te volg.
Hulle glo nie dat God se genade die geloof voorafgaan nie, maar dat dit die mens is wat homself vir God aanvaarbaar maak.
Die eed, ampte, die staat, militêre diens word deur hulle afgewys. Die Roomse wêreld-ontvlugting keer deur hulle terug.

Rewolusionêre toekomsveragting

Onder Melchior Hoffmann bloei chiliastiese idees spoedig op. Hulle verwag – teenoor Openbaring – dat gelowiges nie die vervolging van die laaste dae sal ervaar nie.

Hoffmann sien Strassburg in Duitsland as die aanstaande nuwe Jerusalem. Na sy dood neem `n bakker uit Haarlem, Jan Matthijsz, in Nederland die mense op tou. Hy glo dat die mense God se ryk moet laat kom: rewolusie !
Op verskeie plekke probeer doperse volgelinge die plaaslike regerings oorneem. In Munster verlaat Lutherane en Rooms die stad, en doperse van oral af stroom in – tot Matthijsz self. Dit sal dan nou die nuwe Jerusalem wees. Onder Knipperdolling, die nuwe burgemeester, vind `n massale wederdoop plaas, en `n kommunistiese gemeenskap word gevorm.

Toe `n Roomse leër die stad aanval, word dit vir hierdie mense `n heilige oorlog.
Matthijsz word opgevolg deur die Leidnse Jan Beukelzoon. Hy grond “sy” ryk op sogenaamde innerlike openbaringe deur die Gees. Dit was egter `n gees sonder die Woord. Beukelzoon “gebruik” wel die Skrif om veelwywery in te voer. Hy laat homself as “koning van geregtigheid” uitroep.
Prag en praal kenmerk sy skrikbewind.

Die Roomse herower die stad egter weer.

Verdere vervolging

Die doperse volgelinge keer weer terug na die “stille gemeentes”, wat hulle voor 1530 wou wees.
Wrede vervolgings volg egter. Hulle verloor baie aanhang, maar die Fries, Menno Simons, hou die volgelinge in Nederland en Noord-Duitsland bymekaar met vroom en steng reëls. Dit was dan die ontstaan van die Mennonisme.
Parallel hiermee ontstaan die Hernhüters in Marawië, Suid-Duitsland. Hulle vertrek na vervolinge na Hongarye en selfs die Oekraïne.

Siritualistiese mistiek

Mistici, wat hulle min aan doop en belydenis gesteur het, het nie groot gemeenskappe gevor nie. Hulle was te individualisties. Tog reik hulle invloed wyd.
Hulle rig hulle op die “goddelike gees, waarvan die mensesiel `n vonk is. Hulle verkondig `n “inwendige woord”, waardeur hulle die Wet kan vervul. Die kerke word verag en die Bybel “is vergif”.

Na vervolginge land van hulle in Pennsylvania, VSA, as die Schwenckfeldiane – genoem na een leier, Kaspar Schwenckfeld.

“Redelik-sedelike” Christendom

Van Desiderius Erasmus – samesteller van die Griekse Nuwe Testament, se volgelinge het geen nut ervaar van die Bybel nie. Hulle het verval in suiwer humanisme. Hulle het die suiwere Bybelse leer verdring met kritiek daarop en die Bybel slegs rasionalisties en moralisties opgevat.
Die Spaanse ketter, Servet, het die leer oor die Drie-Eenheid verwerp en Jesus slegs as `n “voorbeeldige mens” voorgehou. Die Heilige Gees is vir hom net `n krag.

Vandag

In die huigdige tyd leef al daardie sektes en dwalinge voort.
Hulle het geleen by die ou heidense idees van die Grieke en Romeine, en ketters soos Origenes nageloop met hulle versoening van heidendom en Bybel.

Vandag, danksy al die afwykende geskrifte wat voorgehou word as “nuwe vertalings”, word in die Kerk van Christus dwalinge gesaai soos sekerlik nog nooit te vore nie. Hierdie vertalings is gebaseer op o.a. die verdraaide Minderheidsteks van die Nuwe Testament, waarin Origenes en eendersvoelendes die Woord verdraai het om hulle idees te pas.
Selfs voorheen-sterk gereformeerde “teoloeë ondergaan `n hartsverandering, en gaan uit hulle pad om die Bybelse Leer vanuit die Hervorming te verdraai en as blote tradisie te bestempel ….

Mense wat voorheen soos ons bely het !


- - - 0 - - -