Ongelukkig het ek nie die hele kwartaalblaadjie van Mei 07 meer op rekenaar nie, maar sluit die paar stukke wat ek het, in. Elke stukkie Bybels-korrekte leesstof wat ons die wêreld kan instuur, help om die strome verwaterde geskrifte teen te werk.
Lees meer. Bestudeer die Woord meer: Ons HERE waarsku teen Sy volk wat ten gronde gaan weens `n gebrek aan kennis, en dat ons nie moet bly by die “melkkossies” in die geloof nie !
- - - 0 - - -
OORDENKING
Psalm 139:15-16 – “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U Boek is hulle almal opgeskrywe: dae wat alles bepaal is, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”
Hierdie Psalm besing nie net die alomteenwoordigheid van God nie, maar ook Sy alwetendheid. Beide hierdie feite is vir die gelowige `n ontsaglike troos vir enigiets wat in sy lewe oor hom mag kom.
Ons HERE se kennis omvat alles. Selfs ons lewensdae is bepaal. Om Sy Raad te peil is buite ons vermoë. Na die sondeval sou die mens God vergeet het, as Hy Hom nie aan ons openbaar het deur Sy Woord nie. Hy gee genoegsaam kennis tot ons saligheid.
Heerlik is dit om die leer van die Uitverkiesing en Verbond te ken en verstaan ! Onbekende duisende jare voor my geboorte het Hy my geken. Hy het my ontvangenis, koms en lewe nie net bepaal nie, maar waargeneem: Die teksvers sê “gesien” – Hy het oor my gewaak, toe ek nog net `n embrio was, en dwarsdeur my ontwikkeling tot `n mensie met oë, ore, hare, naels …. wat nog nie om te praat van al die organe wat hierdie mensie lewendig maak en hou nie !
Bo alles: `n menslike gees, wat my bo alles anders in die skepping stel …. beeld van God !
En hierdie mensie se dae is met Goddelike Vaderliefde bepaal en word deur Hom gelei.
Ons is nooit sonder Hom nie !
Rom 8 sê niks kan ons skei van die liefde wat Hy in Christus Jesus vir ons koester nie. Ons weet ons Bewaarder sluimer of slaap nie (Ps 121). As Hy dan hierdie liefde vir ons gehad het toe ons nog sondaars was, hoeveel meer nie nou dat ons in Christus geregverdig is nie (Rom 5).
Selfs in die doderyk sal ons nie sonder Hom ingaan nie (vs 8).
Daarom kon die Bybelvertaler Totius oor die dood sê: “Armes, die dood maak ryk. Siekes, die dood maak gesond. Gebondenes, die dood maak vry. Verdruktes, die dood gee verlossing.”
God is oral en sien oral – tot in die verborge dieptes van die hart. Hy ken ons woorde voordat dit nog uit is (vs 1- 4). Die dae is dan selfs deur Hom bepaal.
Ons is getroos dat Hy die ydelheid van die goddeloses raaksien en hulle sal wegvee.
Ps 73:18 – “U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.” En die teendeel is net so waar, dat ons altyddeur by Hom is: “U het my regterhand gevat. U sal my lei deur U Raad en my daarna in heerlikheid opneem.” ( Ps 73:23-24.)
Laat daarom die laaste woorde van hierdie Psalm (berymd, v.12) ons voortdurende bede wees:
“Deurgrond, o HEER, en ken die swart
verborge dieptes van my hart;
of diep in my, waar U kan lees,
`n skadelike weg mog wees.
En lei voortaan my wank’le skrede
tog op die weg van eewge vrede.”
- - - o O o - - -
OU TESTAMENTIESE APOKRIEWE (vervolg)
( Lesing deur br Jan Boer – verkort )
Henog
Die boek Henog word nie in Art 6 NGB genoem nie. Dit bestaan uit twee geskrifte: Henog en Die Openbaring van Henog. Hedendaagse weergawe sou gebaseer wees op manuskripte uit 100 v.C. uit Ethiopië. Dit is deels in Aramees, deels in Hebreeus.
Jusas 1:14-15 noem Henog `n profeet. Dit word deur sommiges beskou as letterlik uit `n geskrif van Henog wat aan die vroeë Kerk bekend was. Henog word in Gen 5:24 en Hebr 11:5 genoem.
As dit geïnspireerd deur die Heilige Gees sou wees, is die vraag waarom dit dan nie in die Bybel opgeneem is nie. Hebreeus het nog nie bestaan nie, en miskien is die Aramese vertaling te veel beïnvloed deur menslike wêreldbeskouings. Die huidige geskrif is dus twyfelagtig van waarde.
Die huidig beskikbare geskrif bevat soveel onwaarskynlikhede dat dit behoort onder die Joodse fabels.
In die Christelike Ensiklopedie (1925) word Judas se aanhaling as ooreenkomstig met die boek Henog se Ethiopiese geskrif bevestig. In die Boek van die Opregte word bevestig dat Henog vele geskrifte nagelaat het. Sy vader Jered sou ook geskrifte op teologiese en natuurwetenskaplike gebied nagelaat het, asook oor rekenkunde en skryfkuns. Daar word gereken dat Noag tog hierdie geskrifte op die ark sou saangeneem het ter bewaring en vir onderrig van komende geslagte.
Abraham is, volgens die Boek van die Opregte, vir 39 jaar nog deur Noag self onderrig. Abraham was 56 jaar oud toe Noag dood is, en Jakob sou nog by Sem en Heber geleer het. Hy was 47 jaar toe Sem sterf en 79 toe Heber oorlede is.
`n Ander apokriewe boek, ek meen dit is “Jubilee”, vetel dat Melgisedek, die koning-priester van Salem (later Jerusalem), aan wie Abraham tiendes gegee het, `n ander naam was vir Sem. As dit so was, sou dit vele raaisels rondom Melgisedek oplos.
Dir waas ook Henog wat reeds geprofeteer het dat die aarde tweemaal sal vergaan, die eerste maal deur water, die tweede keer deur vuur. Die Boek Henog is nog in die 3e eeu aangehaal deur Irenaeus, maar daarna is dit deur latere kerkvaders uit omloop geneem. Waarom, is my onbekend.
[ Totius en ander gereformeerde verklaarders oor Judas se aanhalings uit “Henog”:-
Judas was besig met `n aanval op die lasterlike uitsprake van dwaalleraars. Hulle het wel die
apokriewe erken. Daarom haal Judas uit een aan, om te wys dat selfs die boeke wat hulle
erken, nie so laster soos hulle nie. Lees daarom ook Judas 1:9 en 10 hierby. – HdeV ]
- - - o O o - - -
VOLGORDE VAN DIE OU TESTAMENT (vervolg)
Beskou elke reël hieronder as min of meer parallelle geskiedenis
Jes 6 – Die profeet se gesig in tyd van koning Ussia
2 Kron 27:1-9; 2 Kon 15:32-35 – Koning Jotam, vroom
Profesieë: Jes 2-5; Miga 1-2:13.
Goddelose koning Agas: 2 Kon 16:1-4; 2 Kron 28:1-8
Jesaja: Maagd sal swanger word, 7:10-16; 9:1-7
“ 7:17-10:4 – Swaar wag op die ontroue volk
Verdere parallelle geskiedenis van die konings, en Jesaja se profesieë:-
2 Kron 28:9-15; 2 Kon 16:5-6; Jes 7:1-9
2 Kron 28:17-19 (Edomiete en Filistyne); Ps 50:1-23
Jes 8:1-4; 17:1-14; 2 Kron 28:16-21; 2 Kon 16:7-9 teen damaskus
2 Kon 15:29; 1 Kron 5:25-26 koning Tiglat-Pileser; Jes 1:2-31 Juda gewaarsku
Agas ontheilig God se diens: 2 Kon 16:10-18
2 Kon 15:30-31; 2 Kon 17:1-2; 2 Kron 28:20-25
Jes 28:1-29 / 2 Kon 18:1-6; 2 Kron 29:1-19
Hosea 5:1 – 6:11 / 2 Kron 29:20-36
Godvresende koning Hiskia
2 Kron 30:1-27 / Ps 81:1-16 Die Pasga weer gehou
2 Kron 31:1-21; 2 Kon 18:4; Miga 3:1-12; 2 Kon 17:3-4; Hosea 1:1 – 14:9
Samaria beleër, en val: 2 Kon 17:5-6, 18:9-11.Redes vir Israel se val 2 Kon 17:7-23; 18:12; Ps 80
Geskiedenis vanaf die val van Israel tot die val van Juda
2 Kon 16:19-20;2 Kron 28:26-27;Jes 21:1-17; 14:28-32; 15:1-16:14; 2 Kon 18:7-8; 1 Kron 4:39-43
Profesie teen die nasies: Jes 18:1-20:6; 23:1-18; 10:5-19
Redding geprofeteer: Jes 10:20 -14:27. Babel verdoem Jes 14:4-27
God se reddingJes 24:1 – 27:13
Die strawwe wat eers moet kom Jes 22:1-14; 34:1 – 35:10
Koning Hiskia se siekte en genesing Jes 20:1-11; 2 Kron 32:24-26; Jes 38:1-22
Profesie vir die volk in ballingskap, in die toekoms: Jes 40:1- 66:24. As volg ingedeel:
Messias-profesieë en spot met afgodsdiens Jes 40:1 – 44:27
Kores van die Perse geroep om Israel terug te stuur 45:1 - 47:15
Ongehoorsames gestraf: 48:1-22. Verlossing, die Messias: 49:1 – 53:12
Die Openbaringe aan Jesaja – 54:1 – 66:24
- - - o O o - - -
KREMASIE IN DIE LIG VAN DIE BYBEL (Vervolg)
Dr A.Lindhout
[ So ver moontlik is die woord “lyk” verander na “liggaam”. Die gevoel is al dekades lank by baie dat “lyk” `n afbrekende wyse is om na die heerlike saak van `n mens se liggaam te verwys – Enkele ander veranderings is om soortgelyke redes aan die artikel gemaak, bv die gebruik van aanhalingstekens by “dubieuse” woordgebruik - HTdeV ]
’n KORT OORSIG VAN DIE OU TESTAMENTIESE GEGEWENS
In Israel was verbranding van dooies se liggame bekend, maar die dooies is begrawe. Dit kom in talryke Skrifplekke duidelik na vore. Abraham, Isak en Jakob, die vroue van die aartsvaders, Josef ens. word almal begrawe.
Die begrafnis van geliefdes vind in die Ou Testament plaas as ‘n bewys van besondere piëteit. Ons dink hier byvoorbeeld aan die besondere sorg wat Abraham aan die begrafnis van sy vrou Sara bestee het. Hy was selfs bereid om vir die spelonk waarin sy begrawe is ‘n buitensporige hoë prys te betaal.
Aan familiegrafte is in Israel veel waarde geheg. Bekend is hier die geval van Abraham wat in sy eie spelonk by Sara begrawe wou word. Maar ons dink hier ook aan Jakob en sy woorde in
Gen. 49:29-31, waarin hy die wens te kenne gee dat hy op dieselfde plek as sy stamvaders en stammoeders begrawe wil word. In dieselfde lyn lê die geval van Josef wat, ten spyte van sy hoë posisie aan die Egiptiese hof, tog in die land van sy vaders begrawe wou word.
Hoewel die begrafnis in die Ou Testament dus ‘n baie vooraanstaande plek inneem, word daar tog ook van verbranding gepraat. Ons noem ‘n paar voorbeelde.
· Lev. 20:14 “En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie”.
· Lev. 21:9 “En as die dogter van ‘n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word”.
· Jos. 7:25 “En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi”.
Hierdie drie tekste spreek vir hulleself. In aldrie gevalle is verbranding ‘n ernstige verswaring van die doodstraf. Die meeste uitleggers stem wel ooreen dat hierdie mense nie deur vuur om die lewe gebring is nie. Hulle is (waarskynlik) gestenig. Daarna is hulle liggame verbrand.
1 Sam. 31:12 “…en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand”.
Vir hierdie handelswyse het waarskynlik ‘n goeie rede bestaan, naamlik om te voorkom dat die liggame nog verder deur die Filistyne vermink sou word.
Amos 6:10 “En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder…”
Hier is sprake van liggaamsverbranding wat ook met ‘n besondere doel plaasvind. Ons het in hierdie hoofstuk te doen met oordeelsprediking oor die Tienstammeryk. Daar word gespreek oor ‘n stad wat beleër word. Die stad is waarskynlik Samaria. Die aantal dooie liggame sal oor-stelpend groot wees. Dit is goed moontlik dat in die omstandighede die begraafplaas – wat in die nabye Ooste altyd buite die stad geleë was – nie bereik kon word nie. Hieruit mag ons aflei dat verbranding in dié omstandig-hede ‘n noodsaak geword het om die uitbreek van aansteeklike siektes te voorkom.
[ Tog: dit is deel van die oordeel oor die volk. –Hde V.]
Sowel in 1 Sam. 31:12 as Amos 6:10 het ons dus met uitsonderlike gevalle te doen. [ Eerder `n vloek – HTdeV ]
Daar is in die Skrif ook enkele gevalle waarin nòg van begrawe nòg van verbranding sprake is. Ons noem weer ‘n paar voorbeelde:
1 Sam. 17:44 “Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom nà my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee”.
1 Sam. 17:46 “Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het”.
Hierdie verse wat ‘n deel van die stryd tussen Dawid en Goliat behandel, vertel vir ons dat daar in die geval van die dood van een van die twee nòg ‘n begrafnis nòg ‘n verbranding sal plaasvind. Die liggaam van die verloorder sal net so in die veld gelaat word as ‘n prooi vir aasvoëls en wilde diere.
11 Kon.9:10 “En die honde sal Isébel eet op die dorpsgebied van Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie”.
Hierdie teks spreek vir himself.
Ps. 79: 1-3 “’n Psalm van Asaf. O God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige temple verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak. Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land. Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe”.
Ook hierdie teksverse spreek vir hulleself.
Uit hierdie gegewens - wat maklik vermeerder kan word – is dit duidelik dat begrawe in die Ou Testament steeds plaasgevind het as ‘n daad van piëteitvolle liefde, terwyl verbranding - en nie
begrawe nie - steeds ‘n besondere strafbeoefening van God was.
Die allersterkste argument uit die Ou Testament het ons egter nog nie genoem nie. En dit is die feit wat aan ons in Deut.34:5 en 6 meegedeel word, naamlik dat die liggaam van Moses deur die HERE Self begrawe is. Dit is myns insiens seker die duidelikste bewys uit die Ou Testament dat
God die begrafnis verkies bo die verbranding. Verbranding was bekend - sterker nog: in sekere
gevalle was dit self ‘n gebod van God - maar in normale gevalle is begrafnis toegepas. God Self bekragtig dit deur die begrafnis van Moses.
Die vraag kan ontstaan of die uitsprake van die Ou Testament as normatiewe uitsprake gesien moet word, met ander woorde of die Ou-Testamentiese begrafnis kan of moet geld as ‘n norm vir ons manier van doen vandag.
Hier wil ons weer wys op die begrafnis van Moses omdat die Here Self hom begrawe het. In Deut. 34:6 lees ons: “En Hy het hom (Moses) in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.”
Om deur die Here begrawe te word, is reeds ‘n unieke gebeurtenis. Maar verder is dit baie merkwaardig dat Judas eeue later na “die liggaam van Moses” verwys. In Judas vers 9 lees ons dat die aartsengel Migael met die duiwel in ‘n woordestryd was oor die liggaam van Moses. Migael het egter geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het vir die duiwel gesê: “Die Here bestraf jou!” Hierdie teks is seker nie een van die maklikste tekste in die Skrif nie, maar gereformeerde uitleggers stem oor die algemeen wel saam dat die mededeling van Judas betrekking het op ‘n twisgesprek tussen Migael en die duiwel waarby die twispunt die liggaam van Moses was.
Baie vrae wat met betrekking tot hierdie moeilike teks gestel kan word, moet onbeantwoord bly omdat die Skrif vir ons geen antwoorde verskaf nie. Een ding is egter baie seker, naamlik dat daar geen twisgesprek sou kon ontstaan het as Moses se liggaam verbrand sou gewees het nie. God het in die geval van Moses geen kremasie toegepas nie, maar Self begrawe Hy Moses se liggaam.
[ Die skrywer het m.i. belangrike ander verklaarders van hierdie teks misgeloop. Waar hierdie teks op neerkom, is dat Judas sy lesers daarop wys dat die dwaalleraars, wat die apokiriewe boeke aanvaar het, se eie apokriewe nie eers gelaster het, soos hierdie mense laster nie. – HtdeV ]
Op grond van dit alles kan ons slotsom myns insiens slegs wees dat die begrafnis die wil van die Here is. Die begrafnis in die Ou Testament is dus veel meer as ‘n aanpassing aan ‘n kultuurpatroon wat “toevallig” in Israel bestaan het. So ‘n aanpassing kon moontlik gewees het. Die Here het Hom meer as een keer by bestaande omstandighede, gewoontes en gebruike “aangepas”. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die taal waarin Hy Homself openbaar. Hy bedien Hom van ‘n taal wat deur ons verstaan kan word. Maar van ‘n aanpassing aan ‘n kultuurpatroon waarvan die begrafnis ‘n deel was, kan geen sprake wees nie omdat in die tydperk van Israel se Ou-Testamentiese bestaan hierdie verbranding by die volke van die wêreld én in Israel self bekend was en in sommige gevalle ook toegepas is.
As God ten gunste van die begrafnis kies, is dit ‘n welbewuste keuse, juis omdat die begrafnis nie die enigste bestaande manier was om van ‘n dooie liggaam ontslae te raak nie.
Indien dus die vraag gestel word of die uitsprake van die Ou Testament as normatiewe uitsprake gesien moet word, moet die antwoord myns insiens ‘n duidelike “ja” wees, omdat God Self deur Sy handelswyse die norm gestel het vir die manier van doen van Sy volk onder die Ou én onder die Nuwe Verbond.
Word vervolg.
- - - o O o - - -
HOOP
= H de V =
WAT BETEKEN DIE WOORD “HOOP” VIR ONS GEWOONLIK?
‘n Vae verwagting, bv soos in “Ek hoop ek sien jou weer.”
In die tyd net voor en na Christus het mense hoop net as ‘n illusie gesien. Heidene het dus geen hoop nie: Efes 2:12; 1 Thess 4:13.
Mense gebruik die woord “hoop” vir iets wat nie noodwendig gaan gebeur nie.
Selfs die ideale wat mens het, kan as “hoop” getipeer word.
MAAR: Die lewe moet betekenis hê (Pred 5:12)
Dag-tot-dag doelwitte gee betekenis en diepte aan die lewe (of selfs maandelikse/jaarlikse beplanning).
Kyk bv na Pred 1:2-11; 3:1-14.
Wat gee dan betekenis? Lees Pred 11:9-12; 12:13-14
Hebr 11:8-10, 24-26; 12:2,10-14; 1 Tim 4:7-8; Kol 3:23-24.
HOOP is LEWENSKRAGTIGE OPTIMISME..
As gelowiges kan ons leer om te glo dat die beste nog voorlê.
Maak nie saak wat reeds met my gebeur het nie, ek werk om die toekoms beter te probeer maak.
Ek behou my opgewondenheid oor die lewe, wat vir my so mooi is!
Ek behou inspirasie en liefde vir wat mooi is.
Sonder OPTIMISME kan ‘n lewendige lidmaat van die Kerk verdwyn.
Iemand het tereg gesê dat dit ook `n KEUSE is om gelukkig te wees.
Die TEENOORGESTELDE van Hoop is neerslagtigheid.
Moedelose mense kry niks reg nie. Hulle is dikwels BITTER mense (Hebr 12). Vir hulle het die lewe nie betekenis nie. Iemand wat verkeerd ingestel is, beskou die lewe bv as een plig op die ander.
WAT IS “HOOP” IN DIE BYBELSE SIN?
Rom.8:24; 1Kor.13:13
‘n GELOWIG-OPTIMISTIESE mens beskou die lewe as ‘n wêreld om te verander na die
goeie; miljoene wag op die Blye Boodskap van Verlossing; God bestaan! Hy kan elke
menslike beperking te bowe kom
1 Kor 13:13 – Hoop is iets wat uit ons geloof kom.
Dit word in die Bybel soms selfs voor die liefde gestel: 1 Thess 1:3. Geloof is waaruit
ons geloofswerk kom, en is liefde, en om vol te hou. Hoop is dus deel van geloof: ‘n vaste vertroue. Dit bring entoesiasme (Rom.15:4).
Hoop kom nie uit wat ons besit of wat jy self kan DOEN nie, maar uit KENNIS VAN WAT GOD KAN DOEN (Rom 4:18). Hierdie kennis gee moed vir die toekoms (2 Kor 1:10; Rom 12:12a, 15:4).
WATTER MENSE HET HOOP NODIG? (Dink aan voorbeelde waar ‘n mens dit meer as gewoonlik nodig het.)
Voorbeelde: Langtermyn probleme; besondere groot probleme; iemand wat hoor van ‘n familielid wat op sterwe is; vreesagtiges; iemand wie se verwagtings verpletter is; iemand wat hard probeer het en gefaal het (+ baie oor iets gebid); bejaardes; depressielyers; by dood/rampe/verliese/bankrotskap; ens.
= Is dit genoeg om jouself te dryf? Moet mens nie eerder jou krag van God kry nie?
= Versoekings/sondes waarvoor mens buig, kan die hoop minder laat word.
HOE GEE MENS IEMAND ANDERS HOOP, EN HOE KAN JY DIT SELF KRY?
OM TE DOEN los sake op, nie om te sit en verknies nie.
Lees 1 Thess 4:18
Wys mense op God se genade, na die sondeval (Gen 3:15)-
Lees ook Hebr 11:1; Rom 5:5; 1 Petr 1:21 – uit Christus se opstanding groei die hoop in ons eie opstanding en die ewige lewe.
Dit is verbasend dat mense, wat glo ons kan self langer/ ewige lewens bewerk, dit nie kan glo van God nie!
Soms help harde werk, soms net bietjie stilte en alleen wees.
Moet nooit jou geesdrif verloor nie!
5. GEVOLGE VAN HOOP IN JOU LEWE
Lees 1 Thess 4:13-18
Ons het NOU moed; Kol 1:3-5; 2 Kor 6:2
Ons het nou moed oor die einde van alles; Rom 5:2-6.
Soos ‘n boer met volharding en hoop ploeg en saai (Ps 126), moet ons ook elkeen sy
plig doen; talente gebruik; liefde betoon; getrou wees in God se diens.
LEES OOK:
Hebr 13:14
1 Kor 15:19
1 Kor 13:13!
HOU DIE VOLGENDE IN GEDAGTE:-
* Hou tred met veranderings om jou; moenie bang wees om verkeerde veranderings teen te gaan nie; herken goeie veranderings.
* Hou tred met alles wat al vinniger gaan.
* Besef dat jou opsies soms minder, soms meer is.
* MOENIE dat geloof vir jou ooit “uitgediend” voel nie.
* Weet wat jy kan verander, en aanvaar die res
* Weet wanneer JY moet verander!
* Weet wanneer jy MOET verander!
Hou kontak met die belangrikste mense in jou lewe….. veral in die Kerk!
= Kyk of daar meer bevredigende maniere is om iets te doen
= Moenie met verkeerde vriende deurmekaar raak nie.
= Beskou dinge wat swaar is as uitdaging: Wat gaan ek daaraan doen? –
Wat gaan EK doen aan dinge wat my wil laat moed verloor ?
= Wat is vir jou die beste dinge in jou lewe?
Werk jy om dit te behou ?
IN ‘N TYD WAARIN BAIE GEREFORMEERDE GEMEENTES DIE SPOOR VAN DIE BYBEL VERLOOR, KAN ONS OOK HOOP HOU: DIE HERE HET NOG ALTYD GESORG VIR MENSE WAT BY DIE WAARHEID BLY EN DIT BEWAAR:
AL HULLE NET ‘N HANDJIE VOL IN GETALLE!
LAAT ONS DIT AS `N GOD-GEGEWE VOORREG BESKOU DAT HY ONS UITGESONDER HET OM DIE WAARHEID TE BEWAAR IN `N TYD VAN HERNUDE AANSLAE TEEN SY WOORD EN WAARHEID.
- - - o O o - - -
SELFMOORD (II)
= HT de V, in opvolging van die artikel van sr Marietjie Fourie
INLEIDEND
Wat maak hierdie onderwerp so moeilik om oor te praat?
DIT: ons moet die vertroosting bring, dat daar by God veel vergiffenis is, maar ons moet ook waarsku dat selfmoord sonde is, wat - net soos moord - in die Sesde Gebod verbied word.
Op dieselfde manier moet ons weet dat daar selfs by moord berou en vergiffenis kan wees. Die man wat aan die kruis langs Christus gehang het, sou sekerlik daar gehang het omdat hy ‘n rower en moordenaar was.
Veroordeling behoort egter nie by ons nie. God, wat die harte ken, weet alleen wie nie toerekeningsvatbaar was nie – dus: nie meer by hulle, gesonde verstand nie.
LEWE
Waar kom lewe vandaan?
In Gen 1-3 lees ons dit. God maak alles, en HY skep LEWE. ‘n Skrywer oor selfmoord, RP Waltman, het dit genoem: “ Die grootste en kosbaarste gawe van God die Skepper aan die mens.”
In Gen 2:7 lees ons dat God die “asem van die lewe” vir die mens in hom geblaas het.
Sy bedoeling met die skepping van die mens was om ‘n beelddraer van Hom te maak. Dit beteken dat Hy die mens in ware geregtigheid en heiligheid geskape het, sê Paulus.
Die mens ontvang bestaansreg, kragtens sy skepping deur God, vir ‘n gelukkige en betekenisvolle LEWE.
Die mens is as kroon van die skepping gemaak, en is die hoogste lewensvorm wat bestaan in die skepping. Dit maak die menselewe soveel kosbaarder as enige ander lewe. As ons soveel respek het vir alle lewe, bv van plante en diere, hoeveel meer moet daar nie wees vir die lewens van mense nie.
Hoe bly is ons nie almal saam oor ‘n nuwe baba wat gebore word nie. ‘n Kind, wat nou soos ‘n plant gaan groei, om ook sy plek in Die HERE se skepping vol te staan ?
Om dit alles te weet en te glo, plaas ons op ‘n vlak waarop ons lewe altyd hoog sal aanslaan – en weet JOU lewe is kosbaar. “Godsdiens het ‘n anti-selfmoord invloed” ( Sam Bloomberg ) – Ons erns met ons godsdiens bring ook erns met lewe.
Daardeur besef ons dat God met LEWE ‘n kosbare skat aan ons toevertrou het: ons eie, EN die lewe van andere.
(Daarom moet ons in alles respek vir lewe toon: dink bv hoe speel ons met tientalle ander se lewens, en ons eie, as ons roekeloos of kwaad ‘n motor bestuur.)
Hand 16:28 – Paulus se woorde aan die tronkbewaarder van Filippi, toe die sippier sy eie lewe wou beëindig: “Moenie jouself kwaad aandoen nie…..”
Dit is nie die doel van die lewe, om in so ‘n wanhoopsdaad te eindig nie.
As mens in die Bybel van die hartseer lees wat ook daardie mense by die dood van dierbares gehad het, is dit duidelik dat ‘n “doodwens” onvanpas is. Om te wil lewe, en te stry daarvoor (ook in gebed), is reg.
Lees hieroor gerus Jesaja 38, toe die gelowige koning Hiskia tot die dood toe siek was. Vers 16: “laat my dan gesond word en laat my lewe!” en v. 19:”Die lewende, die lewende dié sal U loof, soos ek vandag.”
TEENDEEL VAN LEWE: die dood.
God , wat die lewe gegee het, beloof ‘n straf as die mens sou sondig: DOOD! Die geestelike, liggaamlike en ewige dood.
Met sy val in sonde versteur die mens alles – ook die lewe. Job 7:1-8 (uittreksels) – Het die mens nie ‘n stryd op aarde nie? So het ek erfgenaam geword van maande van terleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.
Die oog van Hom wat my sien sal my nie meer aanskou nie.
Was dit reg, dat die lewe maar net moeite, terleurstelling en verdriet is? Satan se houe het Job moedeloos gemaak.
Die mens het ook ‘n bedreiging vir homself geword, selfs vir sy eie voortbestaan: deur oorloë, besoedeling, geestelik selfs. Hoe hoër die mensheid dink dat hy vorder en ontwikkel, hoe meer maak hy dinge wat hom kan vernietig.
(VERVOLG)
- - - o O o - - -
DIE “TORONTO BLESSING”
Uit `n artikel van Ds Chris Coetzee , eertyds van Noordrand.
Koerante en tydskrifte skryf daarvan. “Goeiemôre Suid-Afrika” praat daaroor. Drie aande per week oor TV is “Living Word” , die “kerk” waarin dit in ons land die stewigste gevestig is, tot oorlopens toe daarvan vol. Mense wat aan die ervaring deel kry, val soos in ‘n beswyming om. Ander lag of huil onbedaarlik vir minute of ure lank. Hulle getuig van ‘n onvergeetlike ervaring van die teenwoordigheid en krag waardeur sommige verlos word van ou sondes, haat, vrees en (soms) siektes. Hulle kry [sogenaamd] ‘n onversadigbare honger na die Woord.
Die mense wat dié verskynsel beleef, kom vanuit die hele spectrum van Christelike kerke. Soms kom dit voor selfs in eredienste van “konserwatiewe” kerke – tot die verbasing en ontsteltenis van lidmate, predikante en selfs van diegene wat daardeur “oorval” word. Die voorstanders daarvan sê dis ‘n outentieke werk van God die Heilige Gees en is besig om die hele Christelike Kerk –wêreldwyd - te oorspoel.
* Wat is dit?
‘n Suid-Afrikaans-gebore “evangelis” wat sy opleiding by die Rhema-“Bybelkerk” gehad het, maar wat tans ‘n “bediening” in die VSA het, word deur baie beskou as die persoon by wie dit begin het – ongeveer in die laaste helfte van 1993. Van hom is dit oorgeplaas na predikante van ‘n aantal kleinerige charismatiese kerke wat spoedig ‘n opbloei beleef het.[ LW – van `n mens se sogenaamde ervaring – nie van Christus nie. ] Een van die kerke wat naby die lughawe in Toronto, Kanada geleë is, het besondere prominensie gekry in die beweging – van daar die benaming “Toronto Blessing”.
Publikasies vanuit hierdie kerke gee “uitvoerige Bybelse gronde vir die legitimiteit” van die manifestasies. By deeglike ondersoek blyk dit dat geeneen van hierdie bybelgedeeltes werklik sê wat die publikasies wil hê hulle moet sê nie. Veral Handelinge 3:19 en 20 figureer prominent en word misbruik om aan te dui dat die Here besig is met ‘n tyd of werk van “verfrissing” in sy kerk - ter voorbereiding van “`n groot herlewing wat spoedig sal uitbreek”.
Hierdie onwettige wyse van Bybelgebruik is ook prominent in die prediking wat in die sogenaamde “Lewende Woord” plaasvind: die gehoor word vasgevang deur ‘n boeiende spreker, maar van Bybelsgetroue prediking kom min tereg.
* Wat sal ons van al hierdie dinge sê?
Die leiers in hierdie beweging sê almal hulle beklemtoon dat die gevoelsaspek nie die belangrikste deel van die ervaring is nie. Verder sê hulle dat daar noukeurig gelet moet word op heiligmaking wat ‘n noodwendige gevolg moet wees van die belewenis.
Gemeet aan hierdie twee maatstawwe moet mens die verskynsel negatief beoordeel. Vyf persone wat ek persoonlik ken wat die ervaring gehad het, is mense met gespanne en intense persoonlikhede of was op daardie tyd in stresvolle persoonlike situasies. Hulle het die ervaring as ‘n emosionele “reiniging” beskryf wat gepaard gegaan het met langdurige gelag of met intense droefheid. Daarteenoor het ander persone met “kalmer” persoonlikhede wat die dienste bygewoon het en selfs vorentoe gegaan het om die “blessing” te beleef, niks ervaar nie en het nie omgeval nie. Navraag by die vyf persone se huisgenote of daar ‘n merkbare heiliging in hulle lewens en houdings plaasgevind het, het ook negatiewe kommentaar ontlok (behalwe dat sommige ‘n meer intense belangstelling in die Bybel getoon het)
Sommige beoordelaars skryf die verskynsel toe aan massa-hipnose, massasuggestie of selfhipnose. Hulle beklemtoon dat daar by die byeenkomste ‘n atmosfeer van gespanne verwagting en emosionaliteit opgewek word. Verder: persone wat vorentoe gaan, word ook gesê om hul gedagtes “leeg” te maak van enige eie denke, godsdienstige “vooroordele” of enige vrees
vir die onbekende ervaring wat voorlê. Hulle moet hulle volkome oopstel vir die “goddelike werking” terwyl hulle net konsentreer op wat die “voorbidder” of “berader” sê.
Persoonlik is ek van oordeel dat persone wat met ernstige persoonlike probleme worstel (of dit probleme is met heiliging, verhoudings houdings, benarde persoonlike omstandighede of wat ook al) besonder vatbaar is vir hierdie belewenis, omdat hulle dit beskou as ‘n betreklik maklike weg na heiliging en bereddering van hulle situasie. Jou ou mens word as’t ware (so verwag jy) deur hierdie eenmalige intense ervaring gekruisig en jy kom skoon en sterk en rein anderkant uit.
‘n Baie gevaarlike stelling in die inleiding tot die boek “What on earth is happening to my church?” (wat miskien die uitgebreidste publikasie van hierdie beweging is) is die volgende: “Julle moet jul leiers vertrou” - wat dan blyk te beteken dat lidmate nie krities moet wees oor wat deur hulle leiers beskou word as hierdie outentieke nuwe werking van God in sy kerk nie. Dit lyk of hier een van DIE kenmerke van ‘n kulte die kop uitsteek.
* Foefies en misleide gelowiges
Waarmee het ons hier te doen? Met twee dinge: eerstens met nogeens ‘n nuwe “fad” (foefie) – ‘n kenmerk van die ekstreme charismatiese strominge – maar wat deur die leiers van hierdie beweging beskou word as telkens nuwe manisfestasies van God se krag en nuwe fases waardeur Hy sy kerk lei na groter kennis van Homself, geloof en diensbaarheid.
Tweedens met misleide gelowiges wat weens ‘n gebrek aan onderskeidingsvermoë byna elke verskynsel wat daarop aanspraak maak dat dit ‘n nuwe openbaring van God se krag is, goedmoeds aanvaar. Hule moet 2 Timoteus 3:1-4 :5 biddend en met ‘n oop gemoed bestudeer. Veral verse 16 en 17 is belangrik.
Die remedie vir hierdie verskynsel is dat kerke erns maak daarmee om hul lidmate volgens Efesiërs 4:11-16 op te bou in die ware geloof. Indien hulle aanneem wat Kolossense 2:6-10 sê, sal hulle nie die behoefte aan so ‘n ervaring hê nie.
- - - o O o - - -
Sal Christene met dié geloof die mas opkom?
(Algemene Kerkbode, 10 Maart 1995)
Die meer charismatiese vorm en beleweing van die Christelike geloof dring hom al sterker aan ons op. Daar is rede om te vermoed dat dié ruimte wat in die toekoms wel nog op radio en televisie aan die Christelike evangelie gegun sal word, veral na mense sal gaan wat die charismatiese stempel aan die geloof gee.
Die woord “charismatiese” is waarskynlik nie die beste woord om dié vorm van geloofsbelewing mee te tipeer nie. Want dit gaan vir ons daarin nie net om ‘n bietjie meer of ‘n bietjie minder charismaties nie. Dit gaan om populêr, sonder sterk kerklike binding en met sterk klem op die informele.
Dié godsdiens word veral getipeer deur die slepende, strelende en sentimentele vorms van geestelike musiek en sang. Dit openbaar ‘n sterk aversie in die gevestigde kerk en dié kerke se liedere.
Op radio en veral televisie kom dit tot uiting in ‘n informele aanslag en ‘n Bybel wat wel nog teenwoordig is, maar waaruit min of glad nie gelees word nie. Daar moenie gepreek word nie, maar daar moet gesels word. Dit is nie soseer God en sy werk en sy genade wat in die middelpunt staan nie, maar die mens en sy lewensproblematiek en die aktualiteite wat heersend is in die wêreld.
* Mentaliteit
Op baie kansels van gereformeerde kerke kom dieselfde tendense na vore: allerlei foefies en tegnieke om te probeer indruk maak, al korter eredienste, verbete aandrang op meer charismatiese vorms van kerksang, ‘n vervlakte sondebegrip.
In die prediking word maklike antwoorde op alle lewensvrae gebied, ‘n egte “alles-sal-regkom-mentaliteit”.
Baie kere kom by mense wat hierdie godsdiens beoefen, ‘n soort hooghartigheid teen die kerk en teen ander mense wat nie met die stroom wil meegaan nie, voor.
Ons mense behoort nie oor mekaar se geloof te oordeel nie. Maar afgesien van ander oorwegings, is dit ‘n ernstige vraag of Christene met hierdie soort geloof die mas gaan opkom in ‘n nuwe wêreld. Kan ons werklik daarmee die felle uitdagings en aanvegtinge van droogte, lyding, siekte, pyn, eensaamheid, nood en dood aandurf?
‘n Eienaardige verskynsel dring hom tog in dié verband aan ons op. So baie mense raak los van die kerk en gaan kuier rond by charismatiese groepe. Wanneer dié mense egter in lewenskrisse beland, byvoorbeeld in die hospitaal, gee hulle hulle ou kerkverband aan. Gesprekke bring telkens aan die lig dat hulle dit doen omdat hulle in felle lewensnood en aanvegting begin twyfel aan die “glo-net-en-alles-kom-reg” mentaliteit.
Dit is waar, Jesus het ook gesê: Moenie vrees nie, glo net. En Paulus skryf: God is vir ons. Wie kan dan teen ons wees? Maar Jesus se woorde kry hulle volle dimensie in sy dood aan die kruis. En Paulus se woorde kan nie verstaan word los van die swaar sug wat hy vanaf skepsel en skepping na God hoor opstyg nie.
Die Bybel verg van ons stryd, inspanning , toewyding en oefening. Ons is bevrees: geloof in die Bybel adem ‘n ander gees as wat in die populêre godsdiens van ons tyd opgedis word.
- - - o O o - - -
Die perfeksionisme as verskynsel in die charismatiese beweging
Prof. PJ. De Bruyn
Ten opsigte van die godsdiens dui die woord “perfeksionisme” die siening aan waarvolgens dit vir die mens moontlik sou wees om hier op aarde reeds ‘n vorm van perfeksie of volmaaktheid te bereik. Dit is geen nuwe siening nie, want in die verlede is dit al aangetref by die Metodiste, die Pentekostaliste en hulle godsdienstige opvolgers. In die jongste tyd is daar egter besondere prominensie daaraan verleen in die sogenaamde neocharismatiese groepe of kerke.
Daar is veral drie aspekte wat by die hedendaagse perfeksionisme sterk na vore tree, en dit is die heiligheidsperfeksionisme, die gesondheidsperfeksionisme en die voorspoedsperfeksionisme. Elkeen van hierdie drie sal kortliks verduidelik en beoordeel word.
Die heiligheidsperfeksonisme
Die heiligheidsperfeksionisme kom op die volgende neer:
Die gelowige kan hier op aarde daartoe kom om vry van sonde en derhalwe in ‘n staat van sondeloosheid te lewe;
Dit is vir die mens moontlik om aan al God se eise te voldoen;
Geestelike volmaaktheid en volmaakte heiligheid is in die teenwoordige lewe bereikbaar.
Skrifberoep
Een van die belangrikste Skrifgedeeltes waarop die perfeksioniste hulle vir bogenoemde standpunt beroep, is Mattheus 5:48: “Wees julle dan VOLMAAK soos julle hemelse Vader VOLMAAK is”. Volgens hulle beteken hierdie teks dat die ware gelowige van alle sonde gereinig is en, soos die Vader in die hemel, volmaak is. Hierdie siening kom ook na vore in Ray McCauley se uitspraak: “We will be a church without spot or blemish”.
Beoordeling
Die perfeksioniste verstaan die woord “volmaak” in die uitspraak van Christus nie reg nie.
Die woord “volmaak” het hier nie ‘n materiële betekenis gehad nie, maar ‘n formele betekenis. As dit ‘n materiële betekenis gehad het, sou dit beteken het dat die mens presies dieselfde volmaaktheid moet hê as wat God het, en dit is tog totaal onmoontlik en daarom sinloos. Dit kan eenvoudig net nooit gebeur nie, want dan sal die mense ook gode moet wees - presies soos God.
Daarom is die enigste alternatief dat dit ‘n FORMELE betekenis het van “konsekwent wees” en “nie halfpad bly staan nie”. Binne die konteks waarin dit voorkom, wil Christus met die uitspraak sê: Soos julle Vader in die hemel nie halfpad bly staan in die betoning van sy goedheid nie, maar laat reën op onregverdiges en onregverdiges, so moet jule as dissipels ook “volmaak”, dit wil sê “konsekwent”, wees in julle liefdebetoning en “nie halfpad bly staan” deur net aan persone (waarvan julle hou) liefde te betoon en aan ander (waarvan julle nie hou nie, julle vyande) nie liefde te betoon nie.Dit beteken dus dat hulle in ‘n bepaalde opsig die volmaaktheid van God moet vertoon sonder om in alles soos God volmaak te wees. ‘n Mens sien dit ook in Lukas 6:36 “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is”.
Teenoor die siening van die perfeksioniste staan die duidelike getuienis van die Skrif dat daar geen sprake van volmaaktheid in die sin van sondeloosheid by die mens op aarde kan wees nie. Paulus verklaar: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie….Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10,12). En Jesaja sê: “Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil blare” (Jes. 64:6).
- - - o O o - - -
Skokkende bevinding oor radiopreke
Prof. Peet Coetzee(emeritus)
Daar is seker nie nog ‘n teks in die Bybel wat al soveel te verduur gehad het as gevolg van verlaringe wat daarvan gegee is nie, as Openbaring 3:20. Ek verwys na die uitleg wat meermale ook vanaf kansels in kerke met ‘n gereformeerde belydenis gegee is.
In Openbaring 3:14-22 vind ons die laaste van die sewe briewe van Niemand minder nie as ons Here Jesus Christus aan die gemeentes in Klein-Asië. Dit is die brief aan die gemeentes in Laodisea. Daarin sê die Here onder andere: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My”.
In ‘n preekbundel van ‘n predikant wat in een van ons Afrikaanse kerke hoë aansien geniet, word die volgende verklaring gegee: Christus staan by die hart van die sondaar wat klaarblyklik nog buite Christus is, onwedergebore is, die natuurlike mens. Dit is die in sonde en ongeregtigheid-gevalle mens wat “van nature geneig is om God en sy naaste te haat” (HK, vr. 5). Hierdie mens is “so verdorwe dat hy heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad” (vr. 8).
As hy tot redding en saligheid kom, staan dit voorop dat hy “deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf word” (passiewe vorm!) en dan in staat is om al sy weldade aan te neem (vr. 20). Sy verdorwenheid is so erg dat hy heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig is tot alle kwaad (vr.8).
Volgens die predikant hierbo genoem staan Christus nou by die deur van hierdie onwedergebore mens se hart. Hy bied sy genade aan. Die dominee sê vervolgens: die enigste manier om ‘n Christen te word, is om jou hart oop te maak. Die groot geheim van oorwinning is om Jesus Christus in jou hart te laat inkom en Hom sodoende daar op die troon te laat sit.
Dit hang van jou af om Hom Koning en die Here van jou hart te maak. Jy moet Hom kans gee. Hy sê in sy preek: “Daar is geen redding moontlik sonder ‘n besluit van jou wil nie”. Jy moet ‘n beslissing maak, jy moet kies of jy verlore wil gaan of verlos wil wees. So eenvoudig is dit: ‘n mens maak jou hart oop vir God, jy gee die Heilige Gees geleentheid om die wonder in jou te werk. As die hart die saad van die Woord verwerp is redding nie moontlik nie en kan wedergeboorte nie plaasvind nie. Die dominee roep daartoe op: Laat die Heilige Gees toe om Jesus Christus in jou hart te bring. Jesus Christus vra toegang tot die onwedergebore hart.
‘n Skildery
Gelykluidend is ‘n gepubliseerde preek van ‘n predikant in die Gereformeerde Kerk in Nederland. Daar word na ‘n skildery verwys waarin Jesus Christus voor ‘n deur staan wat toegerank is. In die een hand hou Hy ‘n lamp omhoog. Die ander hand is opgehef om te klop. Die merk van die spykers is duidelik sigbaar aan sy hande. Op sy kop is ‘n doringkroon. Die skilder is daarop gewys dat daar net aan die binnekant van die deur ‘n knop is. Aan die buitekant waar Christus staan en klop is daar geen knop nie. Die skilder het geantwoord:”Dit is opsetlik. Die sondaarshart kan net van binne oopgemaak word”
.
Insypeling
Nou sal u hopelik nog beter kan verstaan waarom dr. Johan Cilliers van Stellenbosch met soveel ontsteltenis en bewoënheid die boek Uitwissing van God op die kansel geskrywe het, en waarom ek in my vorige artikel in Die Kerkblad die lesers se aandag opnuut op die gevaar van die insypeling van die Remonstrantisme wou vestig
Nie net in Suid-Afrika nie, maar in al die kontinente klink ongelukkig ook op die Gereformeerde erf ‘n prediking deur wat die evangelie van God in sy soewereine, vrymagtige, uitverkiesende genade in en deur Jesus Christus verwring, verdraai en verduister. In New York, VSA , het ek byvoorbeeld ‘n welbekende opwekkingsprediker voor ‘n ontsaglike gehoor hierdie voorstelling hoor gee: Die onwedergebore mens is in ‘n vergadering met God en Satan. Die hang nou van die mens af by wie hy sy gewig gaan ingooi. As die mens besluit hy wend sy beslissende stem teen God aan, is die konsekwensie dat God onverrigtersake die saak gewonne moet gee.
Goed bekyk, besef ons dat Luther volkome reg gehad het om te verklaar dat God langs hierdie weg op die kansel “uitgewis” word.
Enkele tekste
As ‘n predikant in sy preek sou sê: “Gemeente, daar staan ‘n stoel. As jy op die stoel gaan sit, rus jy met jou volle gewig daarop. Jy kan dan ten volle ontspan en tot rus kom. Die stoel is Jesus Christus. Jy moet die inisiatief neem om op die stoel te gaan sit. Doen jy dit nie, bly die stoel leeg en ongebruik staan.” Indien ‘n bedienaar van die Woord in hierdie trant die “evangelie” verkondig, kan hy gerus die volgende tekste (daar is nog veel meer!) naslaan:
Johannes 3:27
‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.
Johannes 4:44
Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie.
Johannes 15:5
Sonder My kan julle niks doen nie.
Romeine 8:7
Wat die vlees bedink is vyandskap teen God
Romeine 9:16
So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.
1 Korintiërs 12:3
Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
Johannes 15:16
Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies, en julle aangestel om vrug te dra…
Filipense 2:13
Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy behae.
Filippense 3:12
Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is (die gegrepene gryp!-PJC).
Hoe dan wel?
Ons Here Jesus Christus staan in Openbaring 3:20 nie by die huis van ‘n vreemde en aanklop om binnegelaat te word nie! Hy staan by sy gemeente! En dit is belangrik om te onthou dat Laodisea nou aan die beurt is, by wie daar ‘n merkbare insinking in die geloofslewe is (nie koud en ook nie warm nie - vs.15). Die Here wil met ernstige vermaning sy gemeente opskerp om ywerig te wees en hom te bekeer – vers 19.
Die kernboodskap van die boek Openbaring is: Die Here kom! (1:7-22:12,20). Die sewe briewe van Openbaring 2 en 3 laat ons in voëlvlug die hele geskiedenis van die kerk sien. Daar is ‘n klimmende spanning deur die briewe heen tot by die sewende (die getal is dan vol). Let in dié verband op Openbaring 2:5,10,16,25; Openbaring 3:11,20. Laodisea is ryk, trots en selfgenoegsaam. Die kenmerk die kerk van die voleinding, “die laaste dae”: Kyk, Ek staan by die deur” (vgl. Jak.5:9 Kyk, die Regter is voor die deur). Die Here sê: “Bekeer jou” (3:19). Die wederkoms is nou daar, dit is net vir binnestap.
Die bruid moet alles gereedmaak. Sy hoor die voorhekkie oopgaan en sy hoor die naderende voetstappe van haar bruidegom. Hierdie voetstappe en sy naderkom is waarneembare kloppinge – dit is die voortekens (Matt. 24: oorloë, gerugte, hongersnode en so meer). Die bruid moet nou waaksaam en nugter wees. Sy hoor Hom by die stoeptrappe opkom en daar is Hy nou by die deur. Dan is sy daar, alles is gereed en sy wag Hom in, gaan Hom tegemoet (Matt.25:6) daar by die deur.
Dan is dit fees, die bruilofsmaal. Die woord wat hier gebruik word, dui op die hoofmaaltyd. Die arbeid van die dag is verby. Die gereedmaak het in die vermaning van Christus natuurlik ‘n persoonlike toespitsing. Die gemeente is tog uit individue saamgestel: ek en jy moet die kloppinge ter harte neem: “As iemand my stem hoor en die deur oopmaak”….
Hoor jy sy stem? Johannes 10:4 die skape volg hom omdat hulle sy stem ken. Daardie wonderstem het ook dit as inhoud: “Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam (Open. 19:9 - dit is God se waaragtige woorde!): “Na die maaltyd heengelei, sal ‘k in vriendskap met hom aansit, hy sal aansit, hy sal aansit saam met My” (Skrifb. 44:4). Vergelyk ook Skrifberyming 29:8.
Hooglied 5 en Lukas 12
Die heilige Woord van God is ‘n organiese eenheid. Ons moet Skrif met Skrif verklaar. Ons stip net aan dat in Hooglied 5 die bruidegom na sy bruid kom in die nag. Hy klop aan. Hy verlang. Sy maak verskoning (vs.2) Sy kan nie nou oopmaak nie. Hy gaan verby.
Sy gaan soek. Sy besef nou hoe sy hom behandel het. Die wagte bekyk haar as ‘n slegte vrou: “Wat maak jy hierdie tyd van die nag op straat?” Hulle skeur haar mantel af en slaan haar. Daar kom sy tot besinning – deur verbryseling en beproewing heen. Dit is dan dat sy weer reg ingesteld is teenoor haar bruidegom en die boodskap stuur: “Ek is krank van liefde.”
Dit alles pas soos ‘n handskoen wanneer ons na Openbaring 3:14-22 blaai. Dit is die presiese beeld van Laodisea, die bruid van Christus in haar ingesonkenheid, met haar “verkoelde” liefde (Matt.24:12 wat dit as voorteken van die voleinding noem).
In Lukas 12:35-48 is dieselfde Here Jesus besig met dieselfde opskerping teenoor sy bruidskerk as in Openbaring 3:20 en Hooglied 5. Hierdie aangrypende gelykenis kan u gerus lees en lees en dit bepeins. Die “heer” kom. Diegene wat op hom wag moet dadelik vir hom kan opmaak as hy kom en aanklop. Dan sal daar tafelgemeenskap wees! Julle moet dan ook gereed wees. Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Daar moet klaargemaak word (vs.47). Dit pas ook soos ‘n handskoen.
- - - o O o - - -
Dit gaan nie om God nie, maar om die mens
Dr. CFC Coetzee
Die uitsprake van die teoloog van Unisa, professor Sakkie Spangenberg, oor die gesag van die Bybel en die verhouding tussen die Christelike godsdiens en valse godsdienste, het in die afgelope tyd wye dekking in die media geniet. Hy het gepleit dat die kerk (by name die NG Kerk) ruimte moet maak vir ‘n Skrifbeskouing wat leer dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar die Bybel mense se sienings oor en interpretasies van God bevat.
Verder hy gesê: “Die kerk sal moet leer dat die Bybel godsdienstige interpretasies bevat en dat dit op dieselfde manier tot stand gekom het as ander godsdienstige literatuur. Diè verhale is belangrik omdat dit vir ons as Christene van impulse kan voorsien vir ons nadenke oor en aanbidding van God - nie omdat hulle geïnspireer is nie, maar omdat hulle kan inspireer. Weier die kerk egter om erns te maak met diè paradigmaveranderinge, is die skrif aan die muur. Dan is slegs een standpunt moontlik: slegs die Bybel is die Woord van God en slegs die Christelike godsdiens is die ware een. Maak die kerk wel erns met diè veranderinge, is die moontlikheid daar dat hy ook ander godsdienste sal erken as egte singewende sisteme” (aangehaal in Beeld, 5 September).
Volgens professor Spangenberg sal die kerk se siening oor die Bybel bepaal of die kerk in die toekoms nog relevant sal wees.
Tydens ‘n televisieprogram op 22 September het ‘n ander NG teoloog, professor Adrio König, in die bespreking van die omstrede wetgewing oor aborsie verklaar: “Ek glo nie aborsie is sonde nie”. Hy het hom veral ten gunste van aborsie uitgespreek om ongebore kinders die leed en honger en armoede te spaar wat die lot van soveel kinders in die wêreld geword het.
As die moeder van ‘n ongebore kind nie kans sien om die kind groot te maak nie, moet sy die reg hê om ‘n aborsie te ondergaan, volgens professor König.
Die kern van die dwaling
Bogenoemde uitsprake handel oor uiteenlopende sake. Tog trek dit myns insiens saam in dieselfde dwaling, naamlik dat die kriterium nie God en sy eer is nie, maar die mens.
Ten diepste gaan dit in die genoemde uitsprake myns insiens om die mens en sy rede, sy geleerdheid, sy wetenskap waardeur hy die Woord van God degradeer tot gewoon-menslike literatuur. Dit gaan om die mens en sy (ongeag watter) godsdiens wat verdra en geakkommodeer moet word. Dit gaan om die mens en sy regte, om selfs oor die lewe te beskik.
Die waarheid wat in bogenoemde uitsprake nie gehoor word nie, is die eer van God in die belydenis en aanbidding dat Hy die enigste ware God is; die eer van God om Hom op sy Woord te neem as Hy Self in die duidelikste taal sê dat dit sy Woord is (Heb. 4:12; 2 Tim. 3:16;
2 Pet.1:21); die eer van God, wat alleen die lewe kan gee, om ook alleen oor die lewe te beskik.
Konsekwensies van bogenoemde standpunte
Professor Spangenberg bring die siening van die Bybel direk in verband met ‘n verdraagsame en positiewe houding teenoor die ander godsdienste. Dit kom daarop neer dat ter wille van ‘n Babelse vrede die Woord van God gedegradeer moet word. Sodoende word die mat onder die roeping van die kerk uitgetrek en word die kerk juis totaal irrelevant. En sodoende word
ongelowige mense mislei en deur die kerk wat die lig moet verbrei, weggehou van die waarheid. Hoe kan die kerk sy roeping vervul om dissipels te maak van al die nasies (Matt.28:19; Hand.1:8) as ons vir die mense aan wie ons die evangelie moet bring, in dieselfde asem sê, die evangelie van Jesus Christus is nie noodwendig die enigste waarheid nie en enige ander godsdiens kan ook sin aan die lewe gee?
Professor König se standpunt kom myns insiens daarop neer dat gewettigde moord goedgepraat word en dat die mens die lewe in eie hande neem, terwyl God uitdruklik verbied dat ek my naaste op enige manier mag onteer, haat, beledig of doodmaak (HK Sondag 40). Dit beteken verder dat ‘n ongebore kind minder regte het as een wat reeds leef. En dit beteken dat ons ons die reg aanmatig om oor ‘n mens se lewe te besluit, ook wat die ewige saligheid betref. Wanneer ons aborsie verdedig, ontneem ons ‘n ongebore kind immers die geleendheid om die evangelie van Jesus Christus te hoor en geroep te word tot die ware geloof. Wie is die mens om op so ‘n wyse met die Raad van God in te meng?
Die bogenoemde uitsprake het alleen ‘n bydrae gelewer om die verwarring wat daar op die terreine van die godsdiens, teologie en etiek bestaan, te vererger, terwyl die helder basuin van die ware evangelie ontbreek.
Die mens wèl in die sentrum
Daar is net een saak waar die mens wel in die sentrum staan en nie God nie, en dit is ten opsigte van die verantwoordelikheid en skuld vir die sonde. Waar kom kultes en ander godsdienste vandaan? Dit is immers die gevolg van die sonde. Dit is die mens wat in sy sondedwaasheid en blindheid rondtas omdat hy die ware God nie ken nie. Waar kom honger en armoede en lyde vandaan? Dit is die gevolge van die sonde. Dit is die mens se skuld. En die antwoord lê nie in aborsie of in die verloëning van die Woord van God nie. Die enigste antwoord lê in die evangelie van Jesus Christus.
Dit moet ons bely en verkondig aan alle mense, dat daar net een weg is tot die saligheid. Daar is net een antwoord op die moeras van die nuwe Suid-Afrika en dit is die onfeilbare waarheid van die Woord van God en die eer van sy Naam as die enigste ware God
- - - o O o - - -
Kort opsomming van die Kerkraadsbesluit oor die SA Raad van Kerke
Sinode-2006 het besluit dat die GKSA om lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aansoek moet doen. Die Kerkraad het die Sinode se besluit op 9 Februarie 2006 ooreenkomstig Art 31 Kerkorde beoordeel en besluit dat die Gereformeerde Kerk Pretoria geen bande met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke mag hê nie.
As rede vir die voorgenome aansoek om lidmaatskap is voorgehou dat die GKSA met die owerheid gesprek moet kan voer, en dat die SARK ‘n geskikte kanaal is waarlangs dit gedoen kan word.
Die Gereformeerde Kerk Pretoria is ‘n geloofsgemeenskap in ons Here Jesus Christus. Hy is ook die Hoof van die Kerk. Elkeen van ons, as lidmate van die Kerk, is as lede in Christus ingelyf. Daarom mag ons nie na willekeur ons bind aan ander organisasies nie (Sien Sondag 21 HK).
Die Kerkraad is van oordeel dat daar geen noodsaak bestaan om met enige organisasie ‘n
verbintenis te hê om die Woord aan die regering te verkondig nie. Beide Jona en Jeremia (voorgelees deur Barug) verkondig die Woord in die openbaar – en dit bereik die koning. Die een hoor en glo (Jona 3) tot behoud van die stad, die ander verbrand die Woord (Jeremia 36) tot groter oordeel. Die GKSA hoef nie aan die SARK te behoort om aan die regering te getuig nie. Openbare getuienis tot die regering en ander owerhede is voldoende. Wee die owerheid wat dit verwerp!
Enige “organisasie” wat hom “Christelike Kerk” noem mag lid word van die SARK. So is die Apostoliese Geloofsending, wat die kinderdoop verwerp, lid van die SARK. Dit is onmoontlik om die ware leer dat kinders gedoop moet word aan hulle te verkondig en terselfdertyd organisatories op ander terreine saam te werk. Dit bring die krag van die ware leer in gedrang.
Die Bybel spreek klokhelder en duidelik oor homoseksualiteit: Dit mag nie! (Lev 18:22,
Rom 1:18-33). Die grondwetlike hof het in 2005 besluit dat “huwelike” tussen homoseksueles gewettig moet word. In plaas daarvan om die beslissing ooreenkomstig die Woord van God af te keur, het die SARK deur sy Sekretaris-Generaal, dr Molefe Tsele, verklaar: “The Court’s decision comes as a joyful affirmation of their humanity and dignity.” Die Gereformeerde Kerk Pretoria mag ook op hierdie grond niks met die SARK te doen hê nie.
Die SARK doen verder gereeld mee aan aksies oor geloofsgrense heen - “Interfaith” – aksies. So het hulle saam met ander godsdienste hulp aan die Tsunamislagoffers gaan verleen. Sodanige samewerking met ander godsdienste, gee erkenning dat die gode van die ander werklik bestaan, lewe, en goed kan doen. Die HERE leer ons in sy Word: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE” (Deut 6:4). Daarom mag Christene nie saam met ander godsdienste hulp verleen nie, en kan die Gereformeerde Kerk Pretoria weereens nie aan die SARK verbind wees nie.
Die werke van die SARK is nie in ooreenstemming met die Woord van God nie. As ons ons oë opwaarts hef na die Koning van die Kerk en volgens Sy Wil wil leef, is dit onmoontlik om lid van die SARK te wil wees.
Indien u belangstel, kan u met die kerkkantoor skakel en ‘n afskrif van die volledige rapport oor die saak aanvra.
(Die kommissie was oudl. P. en N. van der Dussen en P. Vosloo).
- - - o O o - - -
UIT DIE GESKIEDENIS
JOHN KNOX – REFORMATOR
Ds GJ Meijer, Wonderboompoort
Skotland: land van doedelsakke en geruite rokke. Land met ‘n ryk kultuur. Die Skotse volk is ‘n Keltiese volk. Hulle is baie anders as die Engelse volk. Hulle taal is anders, hulle kultuur, ook hulle tradisies.
Ons gedagtes word teruggevat na die jaar 1505. Maarten Luther, wat in Duitsland gewoon het, was toe 22 jaar oud. Daardie jaar sterf ‘n goeie vriend van Maarten Luther. Kort daarna beland hy in ‘n angswekkende donderstorm. Luther was altyd bang vir God se toorn. Hy het baie meer gedink aan God wat ewig straf as aan die Here wat om Christus wil vir ewig vergewe. In sy doodsangs lê hy ‘n belofte af: “Help my, heilige Anna, ek wil monnik word”. Min het Maarten Luther toe geweet dat hy 12 jaar later, op 31 Oktober 1517, sy 95 stellings op die kerkdeur in Wittenberg sou vasspyker – die begin van die groot kerkreformasie.
Maar ons is terug in 1505. Skotland. ‘n Seuntjie word gebore met die naam John Knox. Vier jaar nadat hy gebore is, in 1509, word daar in Frankryk eweneens ‘n seuntjie gebore met die naam John – Jean – Johannes - Calvyn. John Knox en Johannes Calvyn se paaie sal later in hulle lewe nog kruis.
Die stryd begin
In 1547 het die gemeente van St. Andrews gevra dat John Knox hulle predikant moet word. Dit was ‘n gemeente wat in geheel raakgesien het watter dwalings daar alles in die Roomse Kerk is. Hulle het besluit om weg te breek vanaf die Roomse Kerk, en die weg van die Protestante te volg – die weg wat Maarten Luther en Johannes Calvyn in Europa reeds so duidelik aangewys het. Hulle het gehoor van john Knox – dat hy, net soos hulle, niks anders wil leer en doen as wat God in sy Woord beveel het nie. Eers wil John Knox nie na die gemeente in St Andrews gaan nie. Nadat hulle ernstig en lank met hom gepraat het, het hy besef dat hy nie durf weier nie. Dit word sy taak om die Roomse Kerk van Skotland van binne-uit te reformeer. Mense moet hoor wat die HERE sê – nie wat die pous en die Roomse kerk sê nie. Hulle moet hoor van skuldvergewing uit genade, om Christus wil – geen skuldvergewing deur ‘n priester en die koop van aflaatbriewe nie.
John Knox word predikant in St Andrews. Hy bedien die Woord van die Here suiwer. Hy onderrig die gemeente aan die hand van Johannes Calvyn se Institusie. Maar sy ampsbediening duur nie lank nie. Enkele weke na sy aankoms in St Andrews, in die loop van die jaar 1547, stuur Frankryk ‘n sterk vloot na die stad om met die hervormers af te reken. Na ses maande van beleëring word die stad tot oorgawe gedwing. Baie inwoners van St Andrews word gevang en as galei-slawe op die bote vasgebind. Ds John Knox ook. Elke dag moet hy met inspanning van al sy liggaams-kragte roei. Dit tap hom. Alhoewel dít nog nie die ergste is nie. Roomse priesters werk op skepe om die “afvallige protestante” tot inkeer te bring. Hulle doen besonder baie moeite met John Knox, want hy is immers ‘n leraar van die sogenaamde ketters!
Die mens wik…..
Na 19 maande van slawediens en marteling gryp die Here op ‘n besondere manier in. Die Franse koning Frans 11 trou met die koningin van Skotland, Maria Stuart. Tydens die huweliksfees kondig koning Frans aan dat heelparty galeislawe vrygestel gaan word, en weer na hulle huise kan terugkeer. Ds John Knox is een van die begenadigde slawe. Nie lank na sy vrylating nie is hy terug in St Andrews, op die preekstoel. Hy bedien opnuut die Woord van die Here en die sakramente wat die Here ingestel het.
Maar in Skotland kan hy nie bly nie. Die Roomse Kerk duld hom nie daar nie. Ds Knox is verplig om na Engeland te vertrek. Daar werk hy vir vyf jaar as predikant, onder andere in Londaon, waar hy hofprediker van koning Eduard V1 was. Die toestand in die Engelse kerk is alles behalwe gesond. Hulle is nou wel nie Rooms nie, maar ook beslis nie gereformeerd nie. Die Engelse Kerk is Anglikaans. Baie van die Roomse gebruike soos die bediening van die mis en die manier waarop die priesters werk, is net so van toepassing in die Anglikaanse kerk. Hulle het net nie ‘n pous nie. Die aartsbiskop van Kantelberg regeer die Anglikaanse kerk. Die koning stel biskoppe onder die aarsbiskop aan, wat die kerk moet regeer. Dit is nie soos wat die Here dit in sy Woord sê nie.
Vir John Knox was die dienstyd in Engeland vyf moeilike jare. In 1554 word Maria Tudor koningin in Engeland. Haar bynaam is “Bloody Mary – “ bloedige Maria”. Hierdie koningin is anders as haar broer koning Eduard. Sy is ‘n vurige Rooms Katoliek en duld niks van enigiemand wat enigsins kritiek op die Roomse Kerk het nie. John Knox moet vlug. Terug na Skotland kan hy nie. In Engeland is dit lewensgevaarlik. Hy besluit om na Europa te vertrek, na Genève, waar Johannes Calvyn woon. Genève, die sentrum en hartklop van die reformasie.
John en Jean
In Genève vind John Knox ‘n tuiste, ‘n veilige hawe, ‘n plek om tot ruste te kom en om verder toegerus te word vir sy lewenstaak. Hy word gasvry deur Johannes Calvyn ontvang. Van hierdie kerkhervormer het hy al soveel gehoor en gelees - dit is goed om hom van aangesig tot aangesig te sien. John Knox is aangenaam verras oor die manier waarop die Gereformeerde Kerk in Genève werk. Hy noem dit “die mees perfekte skool van Christus wat daar ooit op aarde was sedert die dae van die apostels”.
Op aandrang van Calvyn word ds Knox predikant van die Engelse vlugtelinggemeente in Frankfurt, Duitsland. Maar sy hart lê in Skotland, sy vaderland. Daar word die gelowiges fel vervolg. Die Roomse Kerk doen alles in sy vermoë om die reformasie stop te sit. Baie bloed vloei. Baie gesinne word uitmekaar geskeur. John Knox hoor daarvan. Hy besluit om in die geheim terug te gaan na Skotland. Hoe kan hy in die veiligheid van Duitsland woon en werk terwyl sy eie mense ter wille van hulle geloof vermoor word?
Op eie bodem
Terug in Skotland begin ds Knox preek. Sondert om doekies om te draai spel hy die verskrikking van al die Roomse dwalinge uit. Hy spaar niemand nie en vrees niemand nie. Selfs nie die gevaarlike roomse koningin Maria Stuart nie. Koningin Maria laat die mis in die paleis se kapel bedien. Daarvan sê John Knox: “Een enkele mis is gevaarliker as tienduisend vyande wat die godsdiens wil onderdruk”. Hy skryf vir koningin Maria ‘n brief waarin hy pleit vir die vryheid van godsdiens in Skotland. Koningin Maria beantwoord sy brief met minagting. Knox se lewe word opnuut bedreig. Op aandrang van sy vriende vlug hy vir sy lewe. Hy gaan terug na Genève. Na sy vertrek uit Skotland verbrand die Roomse priesters ‘n standbeeld van John Knox wat in Edinburg gestaan het. Dit moes as afskrikmiddel vir die bevolking dien: so word daar gemaak met mense wat met die Roomse Kerk breek.
Voortdurende stryd
Een vrou in Skotland sien in John Knox haar doodsvyand. Dit is koningin Maria Stuart. Toe sy sien hoe die invloed van ds Knox in Skotland toeneem, nooi sy hom na haar paleis toe. Sy praat vleitaal met hom. Sy dreig hom. Sy maak mooi beloftes. Tegelyk probeer sy John Knox onder die indruk van haar sjarme bring. Maar ds Knox staan by sy beginsels: in een van sy gespreke met die konining sê hy vir haar: “Ek bid dat u soveel seën vir Skotland mag bring, as wat Debora vir Israel gebring het”. Toe die koningin voortgaan met haar skandelike en goddelose lewe, het hy haar uiteindelik in die openbaar ‘n Isebel genoem – ‘n bose koningin by wie geen Godsvrees te vinde is nie. Die lewenseinde van koningin Maria Stuart is tragies. Sy moet uit Skotland na Engeland vlug, waar sy ter dood veroordeel is.
Skotland word ‘n Gereformeerde land: soos Nederland en België en dele van Frankryk. In Augustus 1560 word ‘n brief aan die Skotse parlement voorgehou. Daarin word gevra dat ‘n wet uitgeskryf word wat godsdiensvryheid erken. Diè wet word toe deur die parlement van Skotland aanvaar. Nou is daar geen vrees meer vir Roomse soldate wat gereformeerde mense kan vang en in die tronk toesluit of selfs doodmartel nie.
Die Gereformeerde kerk in Skotland het so gegroei dat hulle sestig jaar later, in 1618, mense na Europa stuur om ‘n belangrike sinodale vergadering in Dordrecht by te woon. Toe was ds Knox lankal oorlede. Hy het gesterf in 1572, toe hy 67 jaar oud was. Maar sy werk gaan voort. Verteenwoordigers van die Skotse kerke is by as die groot Sinode van Dordrecht in 1618/19 gehou word. Al die besluite wat daar geneem is, het die Skotte ook geneem en hulle eie gemaak. Vandag is daar steeds baie Gereformeerde Kerke in Skotland. Hulle word genoem: die Free Church of Scotland”, die vrye Kerk van Skotland. Vry om God te dien soos wat Hy in sy Woord vir ons sê.
-------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Thursday, February 21, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment