30/1/2008
LEES: Job 31:25-40; Kategismus Sondag 51
TEKS: vs 35-36
SING: Ps 8:1,3,4; Ps 61:1,6; Ps 16:5; P 18:6,12
MISPLAASTE IDEES OOR VERGIFFENIS ?
Mens hoor al hoe meer die woorde dat iemand, of `n gemeente, iemand “vrystel” of “vryspreek” van `n sonde of sondes wat begaan is.
Daarby kom ook nog die gedagte (so word dit letterlik gestel) dat mens net vir God moet sê “sorry”, dan IS jy vergewe. Dit word werklik beskryf as `n VERPLIGTING wat op die almagtige God geplaas word.
Volgens hierdie soort beskouing word dit die mens wat God eintlik `n guns doen ….die “magtige” mens en die afhanklike God!
Die kennis van die DIEPTE van die LEER OOR DIE VERSOENING is, helaas, vir `n groot deel van die “Christendom” velore !
Net “jammer”, en alles is reg.
Hoor mense nie die Roomse bieg se klank nie ? …. behalwe dat die Roomse nog `n boetetjie daarby voeg.
IS GOD SE VERGIFFENIS SO GOEDKOOP ?
- - -
1.GOD SE VERGIFFENIS OOR ONS
Wat is die GANG wat God se Woord aandui: watter pad wat lei tot Sy vergiffenis ?
= Kennis van sonde en ellende
= Werklike diepe berou
= Oortuiging dat versoening/vergiffenis deur God
noodsaaklik is
= Die soeke daarna in die geloof
= Die vind van vergiffenis in die geloof in Jesus
Christus se soenverdienste
= Vergeet nie die oneindige DANKBAARHEID wat volg,
en die voorneme om die stryd teen die sonde
voort te sit, nie.
Elkeen van bogenoemde punte verteenwoordig `n geweldige, toegewyde konsentrasie in geloof en lewe.
- - -
2.WARE SOEKE NA VERGIFFENIS
Die “jammer-sê” mense mis al hierdie elemente van die Heilsweg, wat God deur Sy Heilige Gees.
=2=
Gewoonweg “jammer-sê”, SONDER OMMEKEER IN DIE LEWE, mis alles. Christus sê immers aan die owerspelige vrou: “Gaan en sondig nie meer nie.”
Kyk watter opregte berou toon Ps 51 nie oor Dawid se sonde teenoor Batseba en haar man Uria nie !
Die teendeel hiervan vind mens by Judas, met sy humanistiese, leë berou: Hy was net “jammer”. Daarom eindig sy verskriklike sonde in selfmoord.
In `n OPREGTE soek na vergiffenis beweeg mens op die hoogste vlak: Jy staan voor jou Skepper, HERE en Besitter, in die wete dat Hy jou sondige hart deur en deur ken.
Die besef dat jou sondes die EWIGE DOOD VERDIEN, laat jou besef dat gewone menslike regspraak ver tekort skiet by dit waarvoor jy staan.
Daarom moet ons wakker bly vir die verleidings en uitwasse wat die gemaklike “teologieë” bring, as oplossing vir die sondebesef.
Bv: `n Bieg voor `n “Waarheids- & Versoeningskommissie” verdoesel skielik alles. Die gedagte hierin is dat mense hulleself aanstel om `n belydenis op te eis, wat God alleen toekom.
Mense stroom toe en sê eenvoudig hulle is “jammer”, en nou is alles sommer net reg !
Dit is ongelukkig `n sieklike, CHRISTUS-LOSE soeke na vergiffenis.
Vind mens dit nie ook by wat in die omgangstaal genoem word “smart-vrate” nie ?
Mense voel hulleself vreeslik verlig,
en “vergewe”.
Die Roomse se “bieg” is net so vlak.
Hulle glo “die kerk” kan jou vergiffenis gee. Bieg net in `n donker kamertjie voor `n “priester”, al is daar nie noodwndig berou en selfvernedering voor God nie . . . die priester vergeef jou.
Wat leer God in Sy Woord: Ps 51 - `N GEBROKE EN VERSLAE HART IS DIE OFFERS WAT DIE HERE BEHAAG.
3.VERVLAKTE VERGIFFENIS
Mense glo dat as `n ander MENS vir jou sê: “EK vergewe jou”, is dit genoeg.
Natuurlik moet ons ons sondes teenoor mekaar regstel …. maar GOD mag nie in die proses vergeet word nie. Dit is HY, IN CHRISTUS, wat ons vergewe.
=3=
Dit is ONSE HERE wat ons sondes so ver van ons verwyder, as wat die Ooste verwyder is van die Weste (Ps 103).
Daarom mag hierdie bede van die Onse Vader nooit ver van ons wes nie: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”
Hoor hoe SUIWER die Kategismus dit uit die Skrif verklaar:
“Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, nie toe nie, TER WILLE VAN DIE BLOED VAN CHRISTUS.
Ons bid dit van U OMDAT ONS HIERDIE BEWYS VAN U GENADE IN ONS VIND: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.”
=
Met hierdie bede bely ons soos Job dat ons maar net die hand op ons mond moet hou. GOD BESKIK OOR ALLES.
=
Ons moet ons doemwaardigheid voor God elke dag besef, en voortdurend die voorneme sterk dat ons God wil gehoorsaam IN `N NUWE LEWE.
Daar moet `n verdiepte geloofs-verhouding met God volg. Ons moet in die stryd volhard teen die sondes wat teen ons wil nog in ons oorgebly het.
Met hierdie bede leer Christus ons om voortdurend hierdie nood van ons voor ons Vader in die hemele uit te stort.
Dit is `n bede vol erns en liefde.
DIT is die plek waar ons moet bieg en smeek – deur Christus, voor die Vadertroon.
Dit is deel van ons lewens as verlostes . . . lewens wat uitmond in die ewige saligheid, waar daar geen kwaad meer sal wees nie, maar slegs lofsang en heerlikheid.
AMEN.
- - - 0 - - -
Monday, February 4, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment