2008/1
SONDAG 44 – DIE WET SKERP VERKONDIG
LEES: Filippense 3
SING: Ps 139:1,3; Ps 66:4; Ps 32:4
Miskien slaag u `n sug van verligting wanneer die MAANDE verby is wat dit telkens neem om die Tien Gebooie te behandel.
Dan spring die opstellers van die Kategismus in hierdie Son-afd enige vrae voor, deur by die afsluiting WEER te wys op die LEWENSHOUDING wat God met die verkondiging van Sy Gebooie by ons wil opskerp.
Ons word gewys op hierdie
1) HOUDING VAN DIE GELOWIGE TEENOOR DIE GEBOOIE, en
2) DIE NUT VAN DIE VOORTDURENDE HERHALING VAN DIE WET
I.ONS HOUDING
Dit word aangeraak met die vraag: KAN ons hierdie gebooie hou ?
Kan ons so vorder in ons geloofslewe, dat ons die Wet in alle opsigte kan nakom ?
Dan volg die antwoord uit die Skrif: NEE, nie so lank ons in hierdie lewe is nie !
Die perfeksionistiese dwalings reken ons kan dit wel hou … ons moet maar net hulle spesifieke dwaling aanvaar.
Maar God WEERSPREEK dit in die Woord. Eers in die hernude, HERskape wêreld – na Christus se Wederkoms – sal ons in staat wees om die Wet volkome te hou.
Die gevolge van hierdie “perfeksionisme” is dat mense nie meer verlang na die volmaaktheid WAT NOG MOET KOM NIE. Sulke mense vermy gewoonlik die gewone gang van die lewe en trek totaal in hulle eie kring terug.
Hulle trek hulself terug van enige verantwoordelikheid, selfs ten opsigte van pligte as burgers van `n land. Hulle weier eedaflegging, diensplig, ens., soos bv die sogenaamde “jehowa-getuies”. Vir ons doel nou is dit nie nodig om in besonderhede hierop in te gaan nie, maar net om te stel dat ons IN die wêreld is, hoewel nie VAN die wêreld nie.
Christus se HERskeppende werk geld vir die hele skepping, en ook vir die hele lewe. Hy ruk mens nie uit die werklikheid van die lewe weg nie.
Ons kan ons nie agter mure wegsteek, en dink ons hoef nie aan die STRYD deel te neem tussen die Ryk van Christus en die antichristelike ryk nie. Met bekering word `n mens net na die ANDER KANT van die gevegs-linie oorgeplaas !
Valse lewens-beskouings doen af aan die genadewerk van Christus, wat ons nou oproep tot `n nuwe lewe … maar nog op hierdie aarde.
-2-
GOD MAAK ONS NIE NOU AL VOLMAAK NIE.
Tot Sy verheerliking gaan ons nog in onvolmaaktheid aan: maar juis SO strek dit tot Sy eer, dat ons nogtans volhard. Nogtans MEER as oorwinnaars bly !
Die wonder van Christus se verlossingswerk is dat hy ons in `n nuwe geestelike lewe inlei deur Sy Gees, al is ons nog onvolmaak. Ons ontvang in die geloof die SAAD VAN DIE LEWE.
Dit is egter `n saad wat in hierdie lewe nog nie tot volle ontkieming kom nie. In Rom 7 wek dit `n weeklag by Paulus: “… ek, ellendige mens ! Wie sal my verlos uit die liggaam van die dood …?”
Hy stel verder: As ek die goeie wil doen, lê die kwade my by; die WIL is wel by my, maar die VOLBRINGING vind ek nie.
Die Apostel beklemtoon dat daar NIE EEN is wat nou volmaak is nie.
Nie Petrus, Johannes, Paulus nie …. Nie Moses, Dawid, Elia, Jesaja of enigiemand anders nie.
Moses was `n beeld van ons Middelaar, Christus, maar hy kon weens `n “klein” sonde selfs nie die Beloofde Land ingaan nie.
Die regverdige Job bely in sak en as sy sonde-swakheid.
Hoe veel kere eggo Dawid eie sondeskuld nie in die Psalms nie, veral in Ps 51 (na sy sonde met Bathseba) !
Johannes verklaar dat die mens wat sê hy is sonder sonde, God tot leunaar maak.
Vele ander stel dit ook in die Skrif terwyl hulle, geinspireer deur God die Heilige Gees, God se Woord neerpen.
Net Een Mens was sonder sonde: Christus, die Seun van God, geopenbaar in die vlees.
In Adam was almal verlore.
In die tweede Adam – Christus – is daar verlossing.
In Sy Verlosser vind Paulus die nuwe, ware LEWE. Filp 3: Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek JAAG daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
In hierdie skynbare “klein beginsel van die gehoorsaamheid” is die onderskeid tussen werklik gelowige-wees en skyn-gelowige.
Die ongelowige het NIKS aan die geestelike dinge wat God juis behaag nie. Inteendeel HAAT hy God en sy naaste. Hy het die sonde lief waarin hy leef.
Alleen kinders van God het die LUS EN LIEFDE om hierdie Gebooie te onderhou.
Die lewe is: “Spreek, HERE, u dienskneg/diensmaagd luister”.
“Dit is my LUS om U wil te doen !”
-3-
II.DIE NUT VAN DIE AANHOUDENDE VERKONDIGING VAN DIE WET
Die herhaling van die Wet elke Sondag herinner ons daaraan dat ons dit nie volmaak kan hou nie. Ons moet dit VOORTDUREND voor oë hou.
Die gevolge van die Sondeval moet onthou word.
Ons moet uit hierdie kennis ons TOEVLUG tot Christus neem, in Wie ons ons enigste troos vind.
Daar is mense wat ons die “anti-nominiane” noem. Die woord kom van “anti” (teen) en “nomos” (Wet). Hulle wil niks weet van die Wet-verkondiging aan die gelowiges nie. Die eis van dankbaarheidswerke word deur hulle met minagting bejeen.
Hulle verwerp die leer dat ons juis daardeur moet groei, moet VORDER in die genade.
God werk anders: Hy wil ons sonde aard gedurig inskerp om ons tot nederigheid en ootmoed te bring.
Ons moet op ons knieë wes.
Ons moet in Christus ons vertroue stel.
Op hierdie wyse is die Wet vir ons `n VRIEND …. `n tugmeester tot Christus.
Selfkennis kom uit ware besef van skuld en sonde.
God laat ons die diep afgrond sien waarin ons van nature deur die sonde weggesink het.
Dan alleen sal mens weet dat Christus se verlossingswerk jou enigste redding is. Hy het gekom om vir ons tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlossing te wees.
Deur kennis van die Wet word ons self minder, en Christus meer. Die aanhoudende verkondiging van die Wet bind ons al meer aan ons Verlosser.
Nou kan ons kragtiger WERK in die geloof,
PRAAT in die geloof,
LIEFHê IN DIE GELOOF !
God se Wet moet ons verlustiging wees, soos Ps 119 dit kragtig uitsing.
Leer hieruit LIEFDE TOT GOD EN
LIEFDE TOT ONS NAASTE.
Ps 139 (berymd) se laaste vers sal dan `n aanhoudende gebed in ons lewens wees, dat God tog die skadelike paaie in ons lewens vir ons sal oopdek.
Dan kan ons geloofslewe van kag tot krag gaan en
Van deug tot deug.
Ons sal groei tot volwassenheid in Christus.
-4-
Moet dus nie die Wet en sy aanhoudende verkondiging verag nie.
Laat dit vir jou `n spieël bly, wat jou die kwaad laat ontdek en ontvlug.
Jaag die heiligmaking na.
Soek die vrugte van die Gees.
SO sal ons die kommer bestry,
trou kan bly,
volhard in die stryd
leef in die verlange na die volmaaktheid.
AMEN.
- - - 0 - - -
Tuesday, January 8, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment