Wednesday, December 5, 2007

OMDIGTING VAN PSALMS

OPSOMMENDE WEERGAWE VAN BESWARE TEEN NUWE OMDIGTING (NO) VAN DIE PSALMS, WAT GOEDGEKEUR IS DEUR DIE SINODE VAN DIE GKSA IN 2003

LW: Hier word maar oorsigtelik gepraat oor die beginsels. Daar is monumentale
werke geskryf, wat in diepte ingaan in die studie van wat ons in godsdiens en
erediens moet/mag sing, asook oor die vereistes waaraan berymings van die
Psalms moet voldoen (volgens Skrifbeginsels).


I. BEGINSELS VIR BYBELVERTALING, -VERKLARING EN PSALMBERYMING

1.Alleen die Skrif, en die hele Skrif.
Lees o.a. Deut 4:2; 12:32; Openb 22:18,19.
Ons bely dit ook in art 7 NGB.

2.Die Heilige Skrif verklaar homself. Lees veral 2 Petr 1:19-21.

3.Vir die instandhouding van die Kerk mag ons nie afwyk van wat Christus
vir ons ingestel het nie. Waarheid en onwaarheid kan nie langs mekaar
bestaan in die Kerk nie.
Eiesinnige godsdiens is sonde: 2e Gebod ( Ex 20:4-6 ); Kol 2:20-23;
Mat 15:9/Mark 7:7 - Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer
wat gebooie van mense is.
NAV (Nuwe Afrikaanse Vertaling-1983) voeg woorde by wat nie in die grond-
teks is nie: Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellinge van
mense as gebooie van God voor te hou nie.
Daarby haal Christus ook die ander woorde van Jesaja hierby aan (v 6):
Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af.

Hierteen moet die Kerke altyd bedag wees.

Let ook op al die waarskuwings hierteen in die Openb aan Johannes:
Openb 2:2, 13-15, 20, 24; 3:4, 9-10, 18; 14:12; en in besonder word in
18:4b gewaarsku wat ons houding moet wees, wanneer die verleiding kom -
Gaan uit haar uit, my volk. Die HERE verbied ons om sommer met enige
stroom of modegier saamgesleur te word.
( Is dit nie `n modegier van deesdae nie, om alles te wil vernuwe ter wille
van vernuwe, onder die voorwendsel dat ons “mense verloor” ? )

Israel se eiesinnigheid in hulle godsdiens het die volgende woorde van God gewek (Amos 5:23) - Verwyder van My die geraas van jou liedere ! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie.
Eiesinnigheid verwek dus God se toorn, Amos 8:10 - En Ek verander julle feeste in rou en al julle liedere in klaagsang . . .

4.God seën gehoorsame godsdiens: Jes 8:11-15; Ps 2:11-12.
Gehoorsaamheid is ook om te waak daarteen dat mense die gesonde leer
nie meer verdra nie - 2 Tim 4:3.
Ons moet besef dat godvresende mense ook kan sondig en dwaal - Kol
2:20-23, waar gepraat word van `n “skyn van wysheid”.
=2=

Ons mag nie struikeling veroorsaak nie, Mat 18:6 - “En elkeen wat een
van sulke kindertjies wat in My glo, laat struikel . . .”

2 Petr 2:1 waarsku teen invoer van ketterye, en in Hand 20 staan Paulus
se waarskuwing dat daar wrede wolwe onder die kudde
van Die HERE sal inkom.

Skrifinspirasie

Ons mag nie in die strik trap van die Skrifkritiek nie (sien hieroor weer pt 7) en Nuwe “Hervorming”, wat laster, as hulle sê dat Christus en die Apostels maar hulle eie betekenis gegee het aan Ou Tesramentiese profesieë.
Die Here Jesus Christus getuig Self dat die OT in sy geheel op Hom gewys het.
Die Bybel is NIE blote mensewerk nie !
1 Petr 1:10-11 - “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,
en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus
wat in hulle was , gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.”

2 Petr 1:19-21 - “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag ggee soos op `n lamp wat in `n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;
terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif `n saak van eie uitlegging is nie;
want geen profesie is ooit deur die wil van `n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”

5.Die Belydenisskrifte moet in ag geneem word, ook Kerkorde-beginsels, wat gebou is op die Skrif, asook vorige besluite van sinodes MOET in ag geneem word. Vorige besluite kan nie sommer lukraak verander word nie. Daar is kerklike weë daarvoor, bv beswaarskrifte.

6.Om die Heilige Skrif op enige manier opsy te stel, is ware independetisme: om independent van Christus, wat Self die Woord is, mensebesluite voorop te stel.

Daar mag nie bygevoeg of weggelaat word nie
Openb 22:18-19 - “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor:
As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.
En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe . . . “

Christus vermaan ook dat geen jota of titeltjie verander of wegggeneem mag word uit die Woord nie.


=3=

Magspel, afdwing van onskriftuurlike besluite of die stel van “tegniese punte” voor die waarheid mag nie plaasvind nie ( 2 Kon 18:17-18.)

Ook die Skrifbelydenis en -hantering bly vas. “Digterlike vryheid” geld nie by beryming nie.

7.Skrifkritiek

Skrifkritiek (-verdraaiing) het in die tuin van Eden begin !
Satan, die vader daarvan (en dus van die leuen) het dit gebruik om Eva te oortuig. By sy versoeking van Christus gebruik die aarts-boosaard dit steeds, en vandag is hy besig om dit tot `n hoogtepunt te voer.

Die halwe waarheid bly sy gevaarlikste wapen, want dit klink darem steeds nes die waarheid, net so `n bietjie anders.
Daar is nie `n einde aan die verskeidenheid openbaringswyses waarop die skrifkritiek tot uiting kom nie: in bv die bevrydingsteologie, die feministies-, sosiaal-vernuwings-, fundamentalistiese-, volksteologie en ander.
Ook lê dit verskuil in baie dwalings deur die eeue.
Die Bybel is nie vir so iemand gesagvol nie. Hulle voeg by, en laat weg.
Baiemaal is die skrifkritiek meer verskuil, verbloem, subtiel. Mense bely nog, maar Totius het ook uitgewys dat mense een ding bely, maar anders doen.

Daarom is gelowige waaksaamheid nodig in Bybelvertaling, gebruik van sakramente, kerkregering en beryming.
Hoeveel gevare lê nie nog en wag vir die GKSA oor vele sake, waarin ander kerkverbande hier en oorsee al gefouteer het nie.

II. VEREISTES VIR BERYMING/VERTALING VIR SANG

1.Dit is om in die eie taal ( selfs in vs-vorm ! ) die Hebreeuse Psalm te vertolk. Getrou aan die ware inhoud daarvan.
Die werklike betekenis van die Psalm moet in sy geheel gegee word.
As van die werklike betekenis afgewyk word, slaag die beryming of “omdigting” nie.
Mense bly gebonde aan die eksegetiese inhoud.

Totius

Totius was `n uitnemende kenner van Hebreeus, en `n meester in al die teologiese vakke.
In sy vertaalwerk het hy ook die Psalms woord vir woord deurgewerk, verseker talle male.

2.Die lig van die NT mag nie verontagsaam word nie – DIE HELE OT IS CHRISTO-SENTRIES ! Dit is `n belydenis wat ons GEREFORMEERD maak, of laat faal as Kerk van die Reformasie.


=4=

3.”Omdigting”, ipv BERYMING: eg. is om van een gedig `n ander, nuwe, gedig te maak. Dit laat `n ruimte vir anderse denke, waarteen vorige sinodes voortdurend gewaarsku het.

4.By die maak van `n beryming word `n verskriklike groot verantwoordelikheid
op die berymer geplaas, en die wat dit goedkeur en gebruik. Daar mag nie vergeet word nie dat die SING van iets dit baie diep in die geheue ingriffel.

III.BEDENKINGE, OP GROND WAARVAN CLOETE E.A. SE “OMDIGTINGS”
DUS NIE SLAAG AS LIEDERE VIR GEREFORMEERDE KERKE NIE

1.Hebreeus

Cloete het self erken dat hy slegs Hebr I het, en `n soort van werkende kennis van Hebr II.
Hy, en ander, was afhanklik van andere se kommentaar oor die Psalms.
(Sien hierteenoor wat oral in die stuk gesê word oor Totius as persoon wat die Psalms deur en deur in die Hebreeus geken het, en as MEESTER van al die teologiese vakke die ware betekenis van elke Psalm beter sou ken as al die kenners van vandag, wat elkeen merendeels slegs beperkte teologiese terreine verken.)

`n Beskrywingspunt is deur die sinode afgewys, dat die Kerke insae kry in die “kommentaar” wat aan die “Omdigters” verskaf is.
In die huidige stryd word uitgewys dat die sinode VERKEERD was - die kommentaar was eensydig NAV. Dus is die besware teen die NAV totaal deur die sinode genegeer . . . .
Die Nas Sinode het tevore `n beskrywingspunt afgewys, dat die belydenissekrifte verander word om aan te pas by die NAV.
Die rede ?
Dan sou ons belydenisskrifte in wese moes verander !
Tog word hierdie selfde NAV kritiekloos aanvaar as basis vir die Cloete-omdigtings.

2.Die deputate van die sinode het beoordelaars geword van hulle eie werk.

3.Die deputate verdedig telkens dat “Totius het ook . . .”
Selfs waar erken kan word dat hulle reg is oor Totius, maak dit nie Cloete se fout reg nie - Hul moet die kommentaar teen hierdie werk beantwoord.

Wat hul as foute in Totius se berymings ervaar, is `n ander saak – laat hul dan maar daarteen beswaarskrifte indien. Dit kan reggestel word.

4.Die “naas-mekaar-besluit” van die sinode oor die 1936-Psalms en 2003, is `n kompromis-besluit, wat geen antwoord bied nie. Dit skep alweer dieselfde verdeeldheid in die kerkverband as die besluit oor die NAV.


=5=

5.`n Ander beswaar is die deputate se pad van verswyging.
* Die sinode keur dit af dat insae verkry word in die kommentaar wat aan
die “omdigters” verskaf word.
Die sinode sê dat die “aannames” in die beskrywingspunt van Part Sin N-Tvl
nie dieselfde is as wat die sinode sou “verneem” nie. Kritiekloos - in
hierdie belangrike saak is NIE GETOETS nie.

So neem die Sin. die reg en plig van die SELFSTANDIGE kerke weg, om te beoordeel oor wat vir die volgende geslag gegee word as kerksang. Weereens: op tegniese punte word belangrike sake gekelder en uitgegooi. Die sinode skerm waarskynlik dat die deputate van die verskillende Kerke nie dink ons wantrou hulle nie. (Waarom wys die Kerkverband bv kuratore aan ?)
Gesonde waaksaamheid, wat in die verlede regte vrugte afgewerp het !
Die sinode stel dat dit "onuitvoerbaar" is.
MAAK dit dan uitvoerbaar !
Sinodokrasie/kollegialisme, wat op ander gebiede ook al kop uitgesteek het, bv die kerkverband wat die jeugsorg uit gemeentes se hande neem.

Ondervinding met NAV gee ons vir seker 'n saak in hierdie wantroue . . . en NO (“Nuwe Omdigting”) bewys dat ons reg was om die werk te wantrou !

6.Die deputate tree op soos `n "deputaatSKAP", ipv mense wat hul binne `n bepaalde opdrag moet hou. Voorbeeld - die aanvra van kommentaar uit kerk-verband, en die beoordeling daarvan.

7.Dit was prejudisering van sinode-besluite om deur kommentaar self aan te vra en te beoordeel, die saak voor die sinode al te versterk in die rigting wat die deputate voel is reg.

Die aanbeveling aan die sinode is ( by voorbaat - sonder dat dit deel van die opdrag per se is ) dat die "omdigtings" saam met die 1937-berymings gepubliseer word vir gebruik – voordat die sinode nog hieroor geoordeel het.
Waterberg kerkraad lees dit so dat hulle sien dat "die deputate van voornemens is om, nadat die sinode dit goedgekeur het, . . . in een bundel." BAIE SEKER –
BAIE PREJUDISEREND.
Bewoording moes wees: "indien goed bevind" . . . sien artikel, JP Bingle, Kerkblad, 21/11/2001 – volgens hom was dit nie eers meer die sinode se taak om te beoordeel nie

8.Dit is juis die omdigtings se onregsinnigheid en botsing met die belydenis-skrifte (sien einde van pt 1 hierbo en beswaarskrifte by sinode 2006), wat maak dat dit ook bots met die inhoud van die 1933/53-Bybel en die 1937-berymings.

9.Vae verwysings na "nuwe teologiese navorsing" word nooit verder op uitgbrei nie: WATTER navorsing ? Wat WAT bevind ? Vanuit WATTER gesigspunt ? Dat die Ou Testament nie profeties van Christus is nie,
en dat dit nie deur die Heilige Gees ingegee is nie, ens. ?
By watter sinode is hierdie nuwe navorsing se bevindings as dogma in die GKSA aanvaar ?
=6=

10.Die geweldig baie weglatings kan nie per ongeluk wees nie. Hulle praat van sogenaamde "eerbied vir die teks" (Dr Piet Bingle) – die goedpraat van iets waarin soveel van die Skrif weggelaat is, spreek van als behalwe hierdie "eerbied".

11.Name van God word willekeurig gebruik, bygevoeg en weggelaat : Dit is teen sinode-besluite 1991:114-2; 1994: 122 & 123 ook.

12.Die verhewenheid van ons Godsdiens word verloor, twv sogenaamde verstaanbaarheid – dit wat ons in ons godsdiens moet verhef bo die alledaagse lewe, word verlaag.

As ons dan regtig moet daal tot die taalgebruik van die "man-op-straat" … !

Tereg se JP Coetzee dat ons nie EENVOUD MET PLATHEID MOET verwar nie.

Die "gespierde poësie" waarvan iemand praat oor Cloete se omdigtings, nie sigbaar nie. Die poging om rymwoorde te vind, bring oral lomphede, wat nie Afrikaans, goeie poësie of Skrifgetroue weergawe is nie.

13.Interessant dat Cloete Totius se werk nou afmaak, asof Totius maar net die nederlandse psalms verafrikaans het. (Iemand beweer dat Cloete die bewering darem publiek teruggetrek het.)
Vroeër het Cloete gesê: dat ons literatuur ooit iemand kon voortbring wat so `n kombinasie van talente het as Totius, is klaar `n unieke verskynsel. So iets kan blykbaar alleen EEN KEER IN BAIE EEUE in ` n bepaalde taalgemeenskap voorkom. Dit is dus `n werksaamheid wat nie maklik herhaalbaar is nie.

Totius het nie verander twv verander nie. Waar hy na-aan die Nederlands kon bly, het hy soveel moontlik van die OU GOUD behou, ter wille van die lidmate.

Daarteenoor het die “eerbied vir die teks” vandag verdwyn. Daarom dat Cloete weggedeins het daarvan om Totius van plagiaat te beskuldig nie.
Min mense het blykbaar die moeite gedoen om bietjie die Nederlands en Totius langs mekaar te plaas - ook nie die koerante se beriggewers nie.

Daarom het `n groot Nederlandse teoloog en kunskenner tereg oor Totius se werk gesê dat dit besonder bewonderingswaardig is hoe hierdie groot digter sy nederigheid en kerklike besef getoon het, en van sy van sy meesterskap.
[Laaste gedagtes uit Prof PW Buys se artikel in Kerkblad van 3/12/1997: "Ons Psboek – 60 jaar oud."]

Totius: Die mense dink dat om Psalms te berym `n saak van digkuns is. Allereers is dit `n saak van wetenskap.
Om dus Cloete e.a. se digterlikheid te besing, kom nie by die eerste beginsel
van beryming nie: EKSEGESE. Die digterlikheid daarna !
Martinus Nijhof (Nedl digter): “Ik kan het niet. Ik kan het beslis niet. Het is geen werk voor dichters.” [ ! ! ! ! ]

=7=

(Dieselfde beginsel om te BEHOU het Totius en die ander ou vertalers toegepas met die 1e Afr Bybel – ou goud behou.
Moenie alles wat dierbaar en goed is wegneem nie - teenoor NAV, wat, net soos Cloete, die geloofsmat onder die Kerke & lidmate se voete uitgepluk het.)


IV. GEVOLGTREKKINGS

Ogv H Hasper se monumentale studie oor Calvyn se beginsels vir die sang in die erediens, die volgende beoordeling van die "omdigtings":

Volledig vanuit die Hebreeuse teks.

Die Nuwe Omdigtings (NO) is gebaseer op kommentaar van teoloeë ontvang. Cloete het self te kenne gegee dat hy Hebr I het, en 'n "kennis" van Hebr II. Self erken hy in die pers dat hy die NAV gebruik het. Van die mede-omdigters hoor mens nie eers van 'n sweem van kennis van Hebr nie.
Die NO het geweldige groot dele van die Hebr teks uitgelaat, asook die volgorde van gedagtes baiemaal omgekeer.
Ons het besliste leerstellige probleme met die NO.
( pt 1,5 hieronder, pt 7-10)
NO slaag nie hierdie kriterium nie.

Die kunseffek van die Bybelse beelde en segswyses moet behou word.
( Sien vroeër: hieroor, waar gepraat word oor verander twv verandering = en platheid ipv eenvoud.)

Die versagting van die toorn en straf, ens., van God, hou beslis nie by die oorspronklike segswyses nie. Vgl Waterberg e.a. se kommentaar oor die "vloekpsalms".(Vgl Mat 25:41; 1 Kor 16:22.) Vgl JP Coetzee art oor Ps 136: " 'n Kreatiewe evolusieleer."
Oor ander weglatings: sien artikels in Kerkblad en elders.
NO slaag nie.

Melodieë waardig vir erediens
Sien my eie kommentaar oor `n aantal vn die omdigtings. (Apart bygevoeg: beoordeling vir Klassis van `n deel van Cloete se werk.
NO slaag veelal nie.

Oor die "omdigters" se filosofie – om nie te praat van geloof nie –
sien ook Waterberg se kommentaar, asook skrywes in Kerkblad oor Lina Spies, wat glo jare reeds nie in die kerk kom nie, en nie in die opstanding glo nie.

Geweldig baie weggelaat, wat in die Hebreeus voorkom.
Waar Bingle voorheen in die Kerkblad verseker het dat alles uit die Hebr berym moet word en vrye digwerk nie aanvaarbaar is nie, asook dat interpretasie en vertolking vermy moet word: WEERSPREEK sy en sy deputate se bevinding dit nou, en sluit in hulle verdediging van NO eerder aan by mev Van Helden , wat in die Kerkblad (as NIE-

=8=

teoloog) stel dat alles van 'n Psalm NIE HOEF opgeneem te word nie . . . deur "versigtige woordkeuse" kan minder woorde glo nog sê wat die Psalmdigter gesê het !
Bingle weerspreek homself ook 21/11/01 – dat dit genoegsaam is dat die gemeente "sigbaar en voelbaar" moet weet hulle sing uit die Psalms – maar hy stel in dieselfde asem weer "so na as moontlik aan die oorspronklike".
Hulle erken dus dat uit kommentare en NAV "omgedig" is.

Hieruit die volgende bevindings:-

1.Christosentries: ogv hierdie saak dadelik: Cloete e.a. se pogings is NIE die Bybelse Psalms nie !
Jo 5:39-40, 46-47; Lu 24:44; 2 Pe 1:19-21.

2.Weglatings:
bv Ps 2:7; 22:2,8,17,23,24; 31:6; 110:1
Cloete erken dit self . . . "nuwe teologiese navorsing" . . . ons hoef dit nie eers te bewys nie.

2.Bybelse volgorde van gedagtes baie opsy geskuif –
nie maar net hier of daar nie !

3.Cloete gebruik dikwels ook maar "argaismes" –
voorbeelde in my kommentaar hierby. (Wat by 1937-beryming moes verdwyn, is woorde soos sponde, stonde, geknot, rosse.)

Kom ons hoor hoe Totius antwoord: Hy haal Nicolaas Beets aan ...
Met begrijpen zal het niet gaan
Grijp het onbegrepen aan.

4.Cloete e.a. het nie die bestaande kwaliteit behou of verbeter nie.

5.Mens sou noodsaaklike veranderings kon verstaan, maar daar is verander twv verandering.
WEGLATINGS is die ergste deel van hierdie oortreding teen die Skrif –
`n duidelike negering van wat ons (Skriftuurlik) bely in Art 7 NGB.

6.Baie kerkrade se "toets" was bloot om gemeentes Cloete te laat sing, ipv die noodsaaklike eksegetiese e.a. toetsing te doen.

7. As 19-jarige het Totius al gewaarsku teen die gevaar van sekularisasie van die kerkmusiek.
Vandag buig weer kerke en teoloeë voor die invloed van die tyd, en hulle sê weer dat die Kerk van Die HERE moet aanpas by die tyd !

7.1
Totius se woorde oor vrysinnige preke kan op die NO ook toegepas word:
" ... menigeen wat in sy dogmatiek die vrye wil uitban en in sy homiletiek dit weer invoer ..." (Vervang in hierdie geval net "homiletiek" met "liturgie".)
=9=

Totius sê hy sal graag wil weet watter konsekwensies daarin lê – ons hoef nie eers te vra nie.
Totius stel dat die gemeente van God met niks anders as die kennis van die wil van God gevoed moet word nie, en dat hierdie beginsel eers tot sy reg kom as alle eiewillige godsdiens uitgeban is.
As predikante nie meer buig voor die wil van God nie – wat leer hulle die gemeente ?

8. Uit III.8 –
Dit is juis `n Skrifbeskouing wat van ons gereformeerde Belydenisskrifte verskil, wat laat vra het na `n nuwe beryming .... die beskouing wat ten grondslag lê aan NAV !
Belangrike terme wat in die Skrif wys op die Verbond van God is weggelaat, bv "geregtigheid, goedertierenheid, barmhartigheid, regverdige".
Bv. Ps 25 :10,14; 55:21; 74:20; 78:10
Remonstrantisme vind in hierdie "omdigting" weer 'n deur in Geref Kerke in, om net een voorbeeld te noem: Cloete se Ps 116:1, r.1

9. Versagting/weglaat van vloekpsalms:
bv Ps 139:10,11,20. Lees hierby o.a. Eksodus 15:2-7, Mat 5: 41, Hand 5:1 ev, 13:10 ev. Op 6:10.

10. Weglating en verkeerde gebruik van Godsname:
bv Pss 5,6,8,9,11,16.

11.Weglating van die Wet:
Pss 1; 19:8; 40:9; 78:10; 89:31

- - - o - - -


ONS BEROEP OP KERKRADE/PREDIKANTE/MEERDERE VERGADERINGS: MOENIE DAT JULLE DIE OORSAAK WORD DAT DIE GESKIEDENIS HOMSELF HERHAAL NIE !

Kandelaar: "Wanneer `n kerkraad `n besluit uitvoer wat in stryd is met die woorde van Christus, sny hulle daarmee daardie Kerk van Christus se liefde af, ontneem hulle die gemeente van ware dissipelskap, en beroof hulle die gemeente van Christus, omdat hulle hulself van Christus amputeer.”

Ons troos aan die behoudendes: Net soos byna 150 jaar gelede gebeur het, toe ons Geref voorouers minag, gehaat, bespot en benadeel is:
VERITAS VINCET ( Die waarheid seëvier ) !


- - - o O o - - -