Friday, November 30, 2007

TOT IN DIE DUISENDSTE GESLAG

15.TOT IN DIE DUISENDSTE GESLAG

LEES: Genesis 22:1-18
TEKS: vs 2, 12
SING: Ps 9:7,10; Ps 107:20; Ps 87:4,5; Ps 128:2,3

------------

Geloofskrag en gehoorsaamheid kom van DIE HERE, en dit word ook weer deur Hom geseën.
Dit sluit egter nie uit dat daar tog baie swaar dinge kan gebeur, wat die gelowige moet dra nie. Maar die seëninge van God staan bo alle dinge. Hy belowe dit so in die Tweede Gebod: Hy gee barmhartigheid aan duisende van die wat Hom liefhet en Sy Gebooie onderhou.

Die geskiedenis van Abraham dien al duisende jare vir gelowiges tot troos en versterking, en so ook hierdie gebeurtenis in hfst 22.
Selfs hierdie skynbaar verskriklike opdrag aan hom lei tot `n heerlike profesie.

DIE BEPROEWING VAN ABRAHAM

Al was daar deur die eeue voor Abraham gelowiges soos Henog en Noag, is hy die een wat die vader van die gelowiges genoem word. Hy is die eerste van wie ons hoor dat hy God se Woord geglo het, en DIT IS HOM TOT REGVERDIGHEID GEREKEN.
Paulus noem Abraham stel die brief aan die Romeine dat nie sy vleeslike afstammelnge nie, maar GEESTELIKE nageslag sy kinders is: alle gelowiges.

In gehoorsaamheid het hy Isak besny soos God hom beveel het. By sy geloof kom ook die geloofsantwoord. GEHOORSAAMHEID.
Hy bely met die besnydenis dat Isak God se kind is. Hy bring sy kind voor God om die Verbondsteken te ontvang. Hy bely daarmee sy geloof in die beloftes van die Verbond.

Hy het die beloftes geglo, dat hy `n nageslag sal kry wat die land Kanaan sal erf. Hy het geglo, al was hy en Sara al ver verby die ouderdom waarop hulle kinders kon kry …
… en hulle het Isak ontvang as die eerste vervulling van die Verbond !

Maar nou was dit al jare later – Isak is groot genoeg om die hout vir die offer te dra.
Abraham se liefde vir die kind en sy hoop op die toekoms moes sy lewe gevul het, en nou kom die skokkende opdrag: gaan offer jou kind aan My !
“Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet …”

GEE OM TOTAAL AAN MY.

Meer word nou vereis, as om die kind te bring vir die besnydenis.

Oor wat Abraham moes voel en beleef word baie verbeelding-stories geweef - soms net om preke interessant te maak, of om die opdrag in sy volle vreeslikheid te teken.
2.

As dit die belangrikste was, sou dit hier geskryf gestaan het, of ons sou net so `n gevoelvolle klaagpsalm gekry het as wat Dawid so dikwels gedig het.

In die Skrif word daar wel vertel wat Abraham in sy hart beleef het.
Dit is EEUE LATER beskryf. In Hebr 11:17-19,
“DEUR DIE GELOOF het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer,
(Abraham) aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word – WANT HY HET GEREKEN DAT GOD MAG HET OM SELFS UIT DIE DODE OP TE WEK;
daaruit (uit die dood) het hy hom (Isak) ook, om so te spreek, terug ontvang.”

Dit wil egter nie sê dat Abraham speelsgewyse deur die beproewing gegaan het nie.
Maar in die krag van die geloof offer hy werklik, in sy hart, vir Isak. Weereens plaas hy sy kind in God se hande in die geloof.

As God uit sy en Sara se verstorwe liggame op `n late ouderdom Isak laat gebore word, glo hy vas dat DIE HERE Isak weer aan hom kan gee.


Daarom kon Abraham uit die mond van die Engel van DIE HERE, van God die Seun Self, die seënende woorde hoor wat ons in verse 17 en 18 lees.


`N HEERLIKE PROFESIE

DIE HERE gee dan Self die ram wat Abraham in die plek van Isak offer.
Die ram is deel van die profetiese van hierdie hele gebeurtenis.

Abraham kon deel van die profesie wees, deurdat hy sy eniggebore seun, wat hy liefgehad het, geoffer het.

God die Seun, wat hier met Abraham gepraat het, het Homself verneder deur mensevlees aan te neem. God het Sy Eniggebore Seun, in Wie Hy `n welbehae het, nie teruggehou nie. In goddelike liefde het Christus ons Paaslam geword, wat vir ons geslag is.

Op Golgotha het Hy met Sy offer van Homself ons skuld betaal.

Ons weet dat Abraham se uitroep ook profeties was, en vervul is: “DIE HERE VOORSIEN !”


DEUR DIE GELOOF het alle gelowiges, kinders van Abraham, deel aan die salwing van Christus. In Hom word ons weer gebore, deur die werking van God die Heilige Gees.


3.

Die wonder vind steeds plaas: by ontelbare uitverkorenes word daar LEWE IN DOOIE HARTE GEWEK.

DIE HERE het sy verdere beloftes aan Abraham ook vervul. `n Groot nasie is uit hom gebore. Hulle het die beloofde land ontvang. Maar die BELANGRIKSTE was dat die beloofde Verlosser uit Abraham se nageslag gebore is.
In Hom het Abraham tot `n seën vir al die nasies geword.

Vir die Nuwe Testamentiese gelowiges is die beloftes steeds vas: barmhartigheid vir die wat God lief het en Sy Gebooie onderhou.
Die Verbond gaan steeds van geslag tot geslag vir hulle.

Ons het nou die nuwe, bloedlose teken van die Verbond: die Heilige Doop – want die bloed van ons Paaslam IS vir ons gestort. Daar hoef nie meer bloedige, simboliese offers te wees wat moet heenwys na Hom nie.


Daarom kan die Christen-ouers met soveel vertroue, net soos Abraham, hulle kinders na God bring en voor Hom stel.
Hulle kan net so vas soos Abraham glo dat God hulle kind kan vashou in Sy genade. Hulle kan ook vertrou dat Hy hulle sal dra, wanneer hulle beloftes maak oor die kind se opvoeding in die geloof.

Em telkens, wanneer die Doop in ons midde bedien word, moet ons elkeen daaraan herinner word dat ons self draers is van hierdie teken ….
Ons BEHOORT !
Ons is skape van die Goeie Herder !
Ons moet daarom luister na Sy stem en Hom volg.

Ons moet bely dat God voorsien.
Hy het Sy eniggebore Seun voorsien, soos Hy daardie ram aan Abraham voorsien het in die plek van sy seun Isak.

Wees bly, wanneer ons die koms van nuwe geslagte kinders van die Verbond belewe:
= Christus bewaar en vermeerder Sy Kerk
= die getal an uitverkorenes is besig om vol te raak, met die
oog op Sy wederkoms

Soos Abraham moet ons die geloof behou, selfs as die beproewing van ons geloof groot is:
GOD VOORSIEN !


Amen.

- - - 0 - - -

No comments: