Monday, November 12, 2007

Doleansieverklaring,Gereformeerde Kerk Pretoria

13 November 2007
Gegroet, Lesers !
Ek was vir `n maand met langverlof weg, en daarna baie besig met kerkverand-sake, soos bv die verklaring
van die Gereformeerde Kerk Pretoria wat hierna volg.
Daarna volg weer DV weekliks preke, en ek sal ander stukke oor gebeure in die GKSA mettertyd laat volg.
Seenwense,
HT de Villiers

================================================================
VERKLARING VAN DOLEANSIE
Die Gereformeerde Kerk Pretoria het in Januarie 2004 die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika meegedeel dat ons die Skrif, Belydenis en Kerkorde onverbiddelik handhaaf en dit in die praktyk tot uiting laat kom. Daarmee het ons as Bruidskerk van Christus ons gewillig onder die juk van ons Koning en Bruidegom Jesus Christus gebuig met die bede dat die sake waardeur die eenheid tussen die Kerke versteur is, herstel sal word.
Meer as drie jaar later moet die Gereformeerde Kerk Pretoria met droefheid getuig dat die toestand geensins verbeter het nie en selfs erger geword het.
Geen van hierna genoemde sake toon terugkeer na Skrif, Belydenis en Kerkorde nie.
Ten einde ons roeping te kan voortsit om die beeld van Bruidskerk uit te straal, ag ons dit nou nodig om met leedwese aan al die Kerke in die GKSA-verband bekend te maak dat ons ons treurende toestand van die afgelope 24 jaar oor die GKSA voortaan tasbaar en voortdurend gaan betoon deur Dolerend by die naam van hierdie Kerk te voeg en dat ons voortaan as die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) bekend sal staan. Daarmee word aansluiting by onder meer die Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) gevind.
Die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) herbevestig ons binding aan die Heilige Skrif, Belydenisskrifte en die Kerkorde.

BETEKENIS VAN DIE DOLEANSIEVERKLARING
(Memorandum ¤1)
Hierdie amptelike verklaring van doleansie behels dat die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) 'n afwagtende houding inneem ten opsigte van besluite wat die Kerke DV in 2009 in sinodesitting byeen, sal neem en sal die besluite ingevolge Artikel 31 van die Kerkorde aan die Woord van God, die Belydenisskrifte en Kerkorde beproef; daaraan onderhewig dat gebeure voor 2009 hierdie Kerk nie tot dringende besinning dwing nie.
Ons volhard op die Skriftuurlike Gereformeerde paaie wat die toets van byna vyf eeue deurstaan het en sal op elke dienlike wyse die leringe van Skrif en Belydenis verkondig en bevorder. Terselfdertyd sal ons in gebed volhard dat die Kerke in GKSA-verband na hulle ware Bybelse Gereformeerde wortels sal terugkeer. Daarin volg ons die weg van Jeremia 6:16: So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie Weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.
( Mag hierdie kerkverband daarvan bewaar word dat die laaste woorde van hierdie vers nie finaal u eie antwoord word nie: Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.)
Die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) beklemtoon dat nie net die geskilpunte van sinode-2006 skeiding bring nie. Inteendeel is daar in die Kerkverband baie ander sake waarin van die Skrif afgewyk word en wat hieronder genoem word.
Aangesien daar genoeg onbeantwoorde beswaarskrifte en artikels sedert 1983 is wat ons standpunte stel, word die sake bloot gestel.
`n Onskriftuurlike tydsgees word weerspieël in sinodebesluite oor vroue in ampte, gebruik van kelkies met Nagmaal, Nagmaal nie om die tafel nie, 2003-omdigting, dinamies-ekwivalente Bybelvertaling, ensovoorts.
Hierdie en verder genoemde sake staan in skrille kontras met God se Heilige Woord, waarvan God die Heilige Gees alleen die Outeur is wat Sy dienaars beveel het om Sy Woord op te skryf en te verkondig (Eseg 2:1-10; 3; Ex 24:12; Openb 1, 2, 5; Openb 22:7, 18-19; 1 Petr 1:10-12; 2 Petr 1:19-21).
SKRIF EN BELYDENIS
1. Sinodes wys al vir meer as twintig jaar by herhaling op tegniese punte beswaarskrifte teen die 1983-vertaling af en wil nie die basuin hoor blaas nie (Eseg 33). Daar word ook nie op die dringende oproep in Jes 21:11-12 ag geslaan nie: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag? Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.
2. Daar is meermale erken dat die veranderde “verstaan” by hierdie vertaling gelei het tot die veranderde verklaring van die Skrif. Sinodebesluite om nie die 1983-vertaling in die Belydenisskrifte op te neem nie, is erkenning dat die 1983-vertaling foutief is.
Uit hierdie vertaling vloei al die nuwighede in die Kerkverband wat bots met die Skrif. Die sosio-historiese verklaring bots met die Openbaringshistoriese verklaring van die Hervorming. Dit lei tot sterk veranderde prediking, `n hermeneutiek wat vreemd aan die Skrif en Hervorming is, nuwe liturgieë en o.a. `n “beryming” soos die waaroor daar nou stryd is.
3. Die Reformatoriese waarhede word vir remonstrantse dwalings verruil, soos in die Dordtse Leerreëls weerspreek - soos met die aanvaarding van die 2003-“omdigting”. Die wysiging van Art 36 NGB (punt 5 hieronder) onderskryf die remonstrantse dwaling dat die staat of owerheid seggenskap oor die Kerk van Christus het.
4. Die Apostoliese Geloofsbelydenis of Twaalf Artikels word verander en Artikel 68 Kerkorde word nie nagekom in die proses nie.
5. Art 36 NGB is gewysig om by die huidige staatkundige patroon in die land aan te pas, en Sinode-2006 erken met sy besluite stilswyend dat dit verder aangepas moet word. Dit is in stryd met die vereiste dat die Belydenisskrifte slegs op Skrifgronde gewysig mag word en verwerp die standpunt dat die Belydenisskrifte aanvaar word omdat hulle in alle opsigte aan die Woord van God voldoen. Daarom is dit strydig met Art 29 NGB, aangesien nie-Skriftuurlike bronne toegelaat word om die inhoud en bewoording van die Belydenis te bepaal.
6. Ons het oor die afgelope byna drie dekades, in aansluiting met ander Kerke, op meerdere vergaderings tevergeefs die Kerklike weg probeer volg. Ons het ervaar dat belangrike sake op “tegniese punte” afgewys word, terwyl Skrifgegronde antwoorde nie gegee word nie. Daar word volhard met besluite en praktyke in Kerke in die GKSA-verband wat radikaal van die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte afwyk - dus van die eeue-oue standpunte van die Hervorming.
LITURGIES
7. Onordelike en onskriftuurlike liturgiese handelinge kom voor ter wille van wat “die mense wil hê”.
God se wil oor hoe Hy gedien moet word, word verontagsaam. Formuliere word eiesinnig verkort. Die Wet van die HERE word nie volledig afgekondig nie, en die Geloofsbelydenis word selfs uitgelaat. Tweede eredienste word afgeskaf of vervang met “sangdienste” met nie-goedgekeurde liedere en “getuienisse”.
Leer- of kategismusprediking verdwyn. Ander ongereformeerde gebruike word ingevoer, soos gebedsgroepies (kerkies binne die kerk), “halleluja’s” en dies meer, wat die eeue-oue rustigheid van die Bybelse erediens met mensebelewenisse vervang.
8. Die Heilige Doop word met menslike gebruike beklee asof dit 'n familiesaak is en nie 'n heilige Verbondshandeling van God met ouers en kind en gemeente nie. Dit ontaard selfs in `n “kinder-partytjie”.
9. Professionele beraders verdring die ampte wat deur die HERE ingestel is. Berading vorm deel van Kerklike pastorale bearbeiding in die gemeenskap van die heiliges, dat ons mekaar se laste in onderlinge liefde moet dra.
10. Liedere wat nie deur die Kerkverband aanvaar of goedgekeur is nie, word in sommige Kerke gesing (Art 69 KO).

KERKREGTELIK
11. Kerkrade is volgens die Bevestigingsformulier vir ouderlinge en diakens deur die HERE ingestel met duidelike Skrif-vasgestelde opdragte, take en werkswyses oor hoe die wingerd van die HERE bewerk moet word.
Dit is sorgwekkend dat Kerkrade en meerdere vergaderings al meer soos sekulêre verenigings funksioneer, met visies en missies, spanboubyeenkomste en dies meer asof die kerk 'n sakeonderneming is. “Dagbesture” hanteer selfs Kerkraadsake.
12. Ooreenkomste tussen Kerke wat by wyse van gesamenlike besluite op meerdere vergaderings aangegaan word, word omseil, sonder om die Kerkordelike weg te volg. Dit is nie net 'n vernietiging van die onderlinge vertroue en eenheid van hart en sin nie; dit is ook 'n oortreding van die Negende en Derde Gebod, omdat die openbare verklaring wat aan die begin van elke meerdere vergadering deur die deputate van die Kerke afgelê word, genegeer word.
13. Van diegene wat aan die Gereformeerde leer en Kerkbeskouing vashou, word geëis om die kerklike weg te volg. Aan die ander kant was daar heftige reaksie en selfs `n onbybelse petisie toe Sinode-2006 die 2003-besluit oor vroue in ampte (op 'n tegniese punt) wesenlik nietig verklaar het. Broeders het tydens Sinode-2006 openlik aangedui dat hulle teen hulle gewetens sou gestem het as hulle besef het dat die 2003-besluit oor vroue in ampte tersyde gestel sou word. Daarmee is die Openlike Verklaring wat aan die begin van Sinode-2006 voor God afgelê is , kragteloos en tot 'n bespotting gemaak. Menslike insigte is bo die Woord gestel (Art 29 NGB).
14. In stryd met die Gereformeerde (presbiteriale) grondslag oor die plek, funksie en gesag van meerdere vergaderings, tree meerdere vergaderings ( en selfs deputategroepe en die administratiewe buro) toenemend op asof hulle in eie reg gesag het om aan die Kerke in GKSA-verband voor te skryf.
Hulle matig hulle aan om besluite te neem asof hulle vaste strukture met kerkregtelike persoonlikheid is, en eis dat plaaslike Kerke sulke besluite móét nakom. So vervang kerklike gesag die gesag van die Skrif. Kollegialistiese voorskriftelikheid en oorheersing kom tot uiting in die besluite van sinode-2006 om aan Kerke voor te skryf aan watter Klassisse hulle moet behoort, kontraktuele binding van Kerke aan lidmaatskap van die SARK en ander sekulêre instellings soos die NWU, en voorskriftelikheid deur die Administratiewe Buro en sekere deputategroepe (om dit maar by herhaling te noem).
15. Die Kuratorium van die Teologiese Skool en veral sy Dagbestuur tree op asof dit 'n instelling met eie gesag is. Die Dagbestuur hanteer wesenlik alle sake en stel blykbaar die volle Kuratorium voor voldonge feite en gedane sake. Ernstige navrae word óf gladnie óf baie ligtelik beantwoord en maande en jare gaan verby voordat dit geskied. Daarby tree die Kuratorium aanmatigend op soos deur op eie gesag uitdruklik die Kerke aan 'n ooreenkoms met die sekulêre NWU te verbind. Sinode-2006 het hierdie optrede goedgekeur en so elke plaaslike Kerk sonder VOORAF medewete en instemming 'n party in die ooreenkoms gemaak. Dit bring finansiële en ander verpligtings mee wat op die plaaslike Kerke afgedwing word.
BETROKKENHEID BY POLITIEK
16. Die GKSA-Kerkverband het hom op die staatkundige (politieke) terrein begewe deur besluite van sinode-2006 en vorige verwante besluite oor die volgende:
l Die bestryding van geweldsmisdaad. Dit lê suiwer en enkel op die terrein van die owerheid (Rom 13).
l Die bestryding van armoede en werkverskaffing. Dit lê nie op die terrein van die Kerk nie; die Kerk se taak is enkel en alleen om die Woord te verkondig en Liggaam van Christus te wees. Diens van Barmhartigheid is totaal iets anders.
l Betrokkenheid by wetgewing deur deelname aan die NG Kerk se parlementêre lessenaar. Die Kerk is nie geroepe om toesig oor die owerheid te hou nie, wel om vanuit die Skrif teenoor hom te getuig. Hierdie besluit is in sy wese Rooms.
l Ondersteuning van die owerheid met die uitvoering van die sogenaamde grondhervormingsprogram. Hiermee het die GKSA-verband hom in die ideologiese uitgangspunt van die regime verstrik, met verdeeldheid as gevolg.
l Deelname aan 'n navorsingsprojek van die Northwest University oor die reformatoriese teologie en die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing.
17. Samewerking met ander kerke om sogenaamd teenoor owerhede te getuig, en “lidmaatskap” van die SARK (wat saamwerk met ander gelowe) en die parlementêre lessenaar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk – in plaas daarvan dat die Woord teenoor owerhede verkondig word na die voorbeeld van Jona en Jeremia en ander profete, ja deur die Here Jesus Christus Self toe Hy die oordeel oor Jerusalem aangekondig het (Luk 19:41vv). Met hierdie optrede word die Roomse standpunt ingevoer dat “die kerk” toesig oor die staat moet hou.
18. Sekulêre instellings en die media word gebruik om druk op die Kerke uit te oefen, en die lasterlike en onkundige reaksies wat dit ontlok stel die Kerke van Christus in verleentheid. 'n Uitstaande voorbeeld is die vroeë bekendmaking van die verslag oor 'n “nuwe struktuur” van die GKSA (wat aan Sinode-2006 voorgelê is) wat deur `n deputaatskap gedoen is.
SLOTOPMERKINGS
19. Die omstandighede wat tans in die GKSA-verband heers, is toe te skryf aan nalatigheid om beswaarskrifte, ensovoorts, deeglik vanuit die Skrif te ondersoek. Verder is daar oorheersing deur predikante, veral van sommige van die predikante wat as doktore vir opleiding van predikante (volgens art 18 KO) geroep is (dominokrasie).
Aan die ander kant is daar gevalle waar behoudende predikante teen hulle oortuiging in deur kerkrade gedwing word om nuwighede in te voer. Onordelikheid en wanordelikheid is aan die orde van die dag, soos die wyse waarop sinode-2006 gevoer is. Afgehandelde sake is weer ter tafel geneem en het tot teenstrydige nuwe besluite gelei.
Op sinodevlak plaas die eiewillige optrede van sommige deputategroepe die vergadering voor voldonge feite en, in plaas van vermaning, word hulle verslae gerieflikheidshalwe gekondoneer.
Kerkrade se navrae en reaksie oor, en antwoorde, aan deputategroepe word aanvallend beantwoord. So is Kerkrade se reaksie op die beoogde katkisasieboekies beantwoord en geen gevolg is daaraan gegee nie.
Die deputate Liturgie het kommentaar oor die 2003-omdigting geignoreer, nie eers erkenning daarvoor gegee nie, en dit met `n onaanvaarbare kommentaar in 2003 se sinode opsygeskuif asof dit nie bestaan nie.
Dit openbaar die gees van onverdraagsaamheid in die GKSA-verband en oorheersing deur deputategroepe.

OPROEP TOT TERUGKEER
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika doen afstand van hulle reg tot aparte bestaan as kerkverband deur af te wyk van die hoofredes vir die herstigting of vrymaking van 1859. Eenheid word gesoek ten koste van die waarheid.
By Sinode-2006 is die indruk geskep van `n gees van versoening en saam na die Skrif luister. Intussen het 22 maande verloop sonder uitnodigings in die hele Kerkverband om Sinodedeputate te ontmoet vir gesprek oor vroue in ampte en die 2003-omdigting.
Beswaardes oor die 1983-vertaling is nie genooi om hulle saak toe te lig by die deputate wat die beswaarskrif moes bestudeer nie, ten spyte van navraag daaroor.
Was dit dan bloot 'n poging om tyd te wen?
Ons vermaan die Kerkverband om die tekens raak te sien van herhaling van foute en dwalinge wat deur die kerkgeskiedenis plaasgevind het.
l Herken hierdie tyd as een van groot nood. Luister na hierdie oproep tot werklik suiwer Bybelse besinning.
l Semper reformanda – atyddeur reformerend - word voortdurend as slagspreuk gebruik. Die voorvoegsel re beteken terug of her. Reformanda dui deurlopende optrede aan en beteken her- of oorvorming terug. Terug na die die Woord!
l Reformanda vereis die deurlopende toetsing van die Kerk ,of dit suiwer is volgens die Woord van God (Art 29 NGB). Semper puranda – altyd suiwerend, en dan semper reformanda – terug na die suiwerheid van Woord en leer!
l
GLO ONS NOG DIE WOORD VAN GOD,
EN BUK ONS GEWILLIG ONDER DIE JUK VAN JESUS CHRISTUS ONSE HERE . . .
OF BUIG ONS VOOR DIE WOORD VAN MENSE?
Ons bede is dat ons almal saam steeds die slotwoorde van die Sinode van Dordrecht (1618-1619) onderskryf:
“Ten slotte doen hierdie Sinode `n beroep op alle bedienaars in die Evangelie van Christus om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke vroom en gelowig te gedra. Hulle moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot eer van die Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink nie maar ook praat. Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars `n gegronde rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak of te belaster.
Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue dienaars van Sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek.
Amen.”
----------0----------


is, 4.12 Die Teologiese Skool word sonder behoorlike voorafkennisgewing aan en voorafraadpleging van die Kerke in die GKSA-verband aan 'n sekulêre universiteit, naamlik Northwest University, gebind. Let daarop dat die ooreenkoms nie met die Potchefstroomkampus aangegaan is nie. Dit is beswarend dat die saak eers tydens Sinode-2006 na vore gekom het. Die bindingsooreenkoms bevat onder meer voorskriftelike bepalings oor prosedures ten opsigte van die beroeping van dosente aan die Teologiese Skool asook toesighouding oor die opleiding self. Dit word 'n vraag of die Kerke die reg behou om tugtelike toesig oor die dosente te hou en hulle, synde deur die NWU minstens gedeeltelik werknemers van die staat, te mag afsit of ontslaan. Ten spyte daarvan dat die Kerke nie vooraf in die opstel en aangaan van die ooreenkoms geken is nie, is die Kerke gesamentlik en afsonderlik en die betrokke universiteit die partye in die ooreenkoms en word die Kerke tot die benodigde finansiële verpligtinge verbind.
Die saak gaan inderdaad baie verder terug toe talle Kerke sedert die jare-tagtig hulle eiesinnige gang gegaan het ten opsigte van sake soos kelkies en ander gebruike “omdat die nie-invoering daarvan die sinode onnodig vertraag”. Sodoende het 'n groot aantal Kerke reeds lankal Kerkverband verbreek deur nie volgens die presbiteriale Kerkreg by afsprake met ander Kerke te hou nie.

No comments: