14.ONS MOET KAN BELY
LEES: 1 Tim 4:1-16
TEKS: vs 6-8
SING: Ps 138:1,2; Ps 116:1-4; Ps 25:1,2
Massabyeenkomste word weer mode. Opswepende musiek en toesprake, `n geskreeu oor mikrofone, is sogenaamd “eredienste.
Hier sê elkeen wat by hom opkom, en dan is dit volgens hulle “die Heilige Gees wat spreek”.
Vra enigeen by so `n byeenkoms wat hy glo, en ontvang vae antwoorde. Miskien sal vaagweg na Jesus Christus verwys word. Oor Sy geboorte, lyding en vernedering, kruisiging, opstanding en hemelvaart is daar gewoonlik geen kennis nie.
DAAR IS NIE `N BELYDENIS NIE !
Al word daar neerhalend oor ons belydnisskrifte gepraat, is daar GEEN KENNIS van die inhou daarvan nie.
Dit is nie bloot mensewerk nie. Die belydenisskrifte deurstaan al eeue lank die toetsing van die waarheid daarvan.
TOETSING AAN DIE WOORD VAN GOD SELF !
Om te bely, beteken “na-sê” of “dieselfde sê.
Om dus te bely wat in die Woord deur God openbaar is, is om by die WARE TROOS te kom dat God deur Christus verlossing vir sy uitverkorenes bewerk het:
Ons behoort aan Christus, Hy is ons Saligmaker, Hy het ons gered van die ewige straf, verlos van die Bose, vergewe ons sondes en gee ons ewige lewe !
DIE LEER VAN DIE KERK IS DIE BELYDENIS VAN WAT IN DIE SKRIF STAAN.
Mense moet getoets kan word aan wat hulle leer/bely.
2 Joh 1:10 stel dat “As iemand na julle kom en HIERDIE LEER NIE BRING NIE, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie”
In vs 9: “WIE IN DIE LEER VAN CHRISTUS BLY, HY HET DIE VADER SOWEL AS DIE SEUN.”
Dit is dus TEEN GOD SE WOORD om nie te kan of wil bely wat jy glo nie.
Dan sal godsdienstige byeenkomste ontaard om net op sielkundige opsweping gerig te wees. Daar kan nie suiwere Woordverkondiging wees nie.
Wat skryf Paulus aan Timotheus oor die leer/belydenis ?
Waaroor gaan dit, en waartoe lei dit ?
DIT LEI TOT BELYDENIS VAN SONDESKULD
Suiwere Woordverkondiging sal voortdurend ons as swakke mense te staan bring voor kennis van ons ellende.
Uit ons self is daar nie saligheid nie, en God die Seun om met Sy gehoorsaamheid God se wil vir ons te volbring.
2.
Saam met Psalm 32 se digter kan ons die troos bely dat God die Heilige Gees ons daartoe lei om ons sondes aan God bekend te maak (vs 5):”Ek wil aan DIE HERE my oortredinge bely”. Dan kan ons saam met Dawid sing: “en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.”
ONS MOET DIE NAAM VAN DIE HERE BELY
Christus gee hieroor aan ons `n heerlike troos:
As ons Sy Naam voor die mense bely, sal Hy ons ook voor Sy Vader bely.
ONS MOET DANKBAARHEID OOR VERLOSSING BELY
Dit beteken eerstens dat ons God se wil verkondig, sy Wet, en tweedens dat ons opregte lewens ook `n getuienis van ons dankbaarheid.
BELYDENIS IS OPREGTE ERKENNING VAN GOD … `N REGSINNIGE VERKONDIGING.
Dan kom ons by die eerste vrug van suiwere LEER:-
1.GOD BESTRY DWALINGE DAARDEUR.
Christus het Self gewaarsku dat dwaalleer sal kom. Paulus en die ander Apostels skryf gedurig daaroor, soos hier in 1 Tim 4. Mense sal verlei deur valse leersellings, en selfs duiwels aanhang.
Paulus stel dat hulle nie net valse ding leer nie, maar huigel in hulle lewens. Hulle steek hulle sondes weg onder `n dekmantel van godsdienstigheid.
Christus het die Fariseers se lewens as so `n valsheid voorgehou. Hulle het dinge gedoen om deur die mense gesien te word.
2.SKRIFGETROUE BELYDENIS BEWAAR DIE SUIWERE LEER VIR DIE NAGESLAG
Timotheus word byvoorbeeld deur Paulus herinner van die ware geloof en leer soos hy dit deur sy ma en ouma ontvang het: BLY by wat jy geleer het.
Die Verbond van God gaan van geslag na geslag !
3.DIE BELYDENIS STERK GELOWIGES IN HULLE STANDPUNT-INNAME
Dit word dadelik in 1 Tim 4:6 gesê: Hou die dinge wat jy in waarheid geleer het, aan die mense voor “dan sal jy `n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die GOEIE LEER WAARVAN JY `N NAVOLGER GEWORD HET.”
Daarmee saam moet vs 7 gelees word:”Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels.” Hiermee word bedoel dat gelowiges vervalste mooipraat-stories en preke moet herken, soos mens kinder-storietjies (feeverhale) kan ken as verdigsels.
Kennislose en belydenislose mense sal wel val vir die mooi woord-blomtuine van vervalste woordverkondiging.
3.
As ons die BETROUBARE WOORD vashou (vs 9), sal ons standpunt kan stel teen die deursigtige, belydenislose gebrabbel van opswepers.
Dan sal mens se lewenswyse ook steun wat jy bely.
4.DIE SUIWER BELYDENIS BEWAAR DUS TEEN OPPERVLAKKIGHEID !
Die belydenisskrift dwing gelowiges om eerder DIEPER TE DELF in die Woord van God, as om tevrede te wees met oppervlakkige praatjies en opswepende woorde.
Dan soek mens GOD SE EER, en nie om self `n “gevoel” te ervaar nie.
Ons moet weet dat die suiwere belydenisse aangeval sal word. Doen Satan dit dan nie al die eeue al nie ?
Die vader van die leuen is geslepe !
Hy kan, selfs deur die monde van mense, die waarheid net so effens verdraai, dat dit vir mense aanvaarbaar klink.
= Bly daarom, soos Paulus Timotheus aanmaan, met alle mag by die
Woord ALLEEN. Dit is waarheen suiwere belydenisskrifte mens
voer.
= Moenie kleinmoedig raak as jy die afval in kerke wereldwyd
sien, en die swaar van spot en aanvalle voel nie.
Christus het ons getroos dat as die wereld Hom gehaat en
vervolg het, sal dit met ons ook die geval wees. Maar dit
lei tot getroue volgelingskap en ware vertroue op God.
Petrus het geskryf dat Satan soos `n brullende leeu loop en soek wie hy kan verslind.
Ons behoud is die LEER.
Verkondig God se wil suiwer, en so ook die Raad van God, Sy Koninkryk en sy Verbondstrou. Sy beloftes staan vas, soos in die sewe briewe in Openbaring gegee is: “Aan hom wat oorwin ….”
Amen.
- - - 0 - - -
Tuesday, November 13, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment