Friday, November 30, 2007

TOT IN DIE DUISENDSTE GESLAG

15.TOT IN DIE DUISENDSTE GESLAG

LEES: Genesis 22:1-18
TEKS: vs 2, 12
SING: Ps 9:7,10; Ps 107:20; Ps 87:4,5; Ps 128:2,3

------------

Geloofskrag en gehoorsaamheid kom van DIE HERE, en dit word ook weer deur Hom geseën.
Dit sluit egter nie uit dat daar tog baie swaar dinge kan gebeur, wat die gelowige moet dra nie. Maar die seëninge van God staan bo alle dinge. Hy belowe dit so in die Tweede Gebod: Hy gee barmhartigheid aan duisende van die wat Hom liefhet en Sy Gebooie onderhou.

Die geskiedenis van Abraham dien al duisende jare vir gelowiges tot troos en versterking, en so ook hierdie gebeurtenis in hfst 22.
Selfs hierdie skynbaar verskriklike opdrag aan hom lei tot `n heerlike profesie.

DIE BEPROEWING VAN ABRAHAM

Al was daar deur die eeue voor Abraham gelowiges soos Henog en Noag, is hy die een wat die vader van die gelowiges genoem word. Hy is die eerste van wie ons hoor dat hy God se Woord geglo het, en DIT IS HOM TOT REGVERDIGHEID GEREKEN.
Paulus noem Abraham stel die brief aan die Romeine dat nie sy vleeslike afstammelnge nie, maar GEESTELIKE nageslag sy kinders is: alle gelowiges.

In gehoorsaamheid het hy Isak besny soos God hom beveel het. By sy geloof kom ook die geloofsantwoord. GEHOORSAAMHEID.
Hy bely met die besnydenis dat Isak God se kind is. Hy bring sy kind voor God om die Verbondsteken te ontvang. Hy bely daarmee sy geloof in die beloftes van die Verbond.

Hy het die beloftes geglo, dat hy `n nageslag sal kry wat die land Kanaan sal erf. Hy het geglo, al was hy en Sara al ver verby die ouderdom waarop hulle kinders kon kry …
… en hulle het Isak ontvang as die eerste vervulling van die Verbond !

Maar nou was dit al jare later – Isak is groot genoeg om die hout vir die offer te dra.
Abraham se liefde vir die kind en sy hoop op die toekoms moes sy lewe gevul het, en nou kom die skokkende opdrag: gaan offer jou kind aan My !
“Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet …”

GEE OM TOTAAL AAN MY.

Meer word nou vereis, as om die kind te bring vir die besnydenis.

Oor wat Abraham moes voel en beleef word baie verbeelding-stories geweef - soms net om preke interessant te maak, of om die opdrag in sy volle vreeslikheid te teken.
2.

As dit die belangrikste was, sou dit hier geskryf gestaan het, of ons sou net so `n gevoelvolle klaagpsalm gekry het as wat Dawid so dikwels gedig het.

In die Skrif word daar wel vertel wat Abraham in sy hart beleef het.
Dit is EEUE LATER beskryf. In Hebr 11:17-19,
“DEUR DIE GELOOF het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer,
(Abraham) aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word – WANT HY HET GEREKEN DAT GOD MAG HET OM SELFS UIT DIE DODE OP TE WEK;
daaruit (uit die dood) het hy hom (Isak) ook, om so te spreek, terug ontvang.”

Dit wil egter nie sê dat Abraham speelsgewyse deur die beproewing gegaan het nie.
Maar in die krag van die geloof offer hy werklik, in sy hart, vir Isak. Weereens plaas hy sy kind in God se hande in die geloof.

As God uit sy en Sara se verstorwe liggame op `n late ouderdom Isak laat gebore word, glo hy vas dat DIE HERE Isak weer aan hom kan gee.


Daarom kon Abraham uit die mond van die Engel van DIE HERE, van God die Seun Self, die seënende woorde hoor wat ons in verse 17 en 18 lees.


`N HEERLIKE PROFESIE

DIE HERE gee dan Self die ram wat Abraham in die plek van Isak offer.
Die ram is deel van die profetiese van hierdie hele gebeurtenis.

Abraham kon deel van die profesie wees, deurdat hy sy eniggebore seun, wat hy liefgehad het, geoffer het.

God die Seun, wat hier met Abraham gepraat het, het Homself verneder deur mensevlees aan te neem. God het Sy Eniggebore Seun, in Wie Hy `n welbehae het, nie teruggehou nie. In goddelike liefde het Christus ons Paaslam geword, wat vir ons geslag is.

Op Golgotha het Hy met Sy offer van Homself ons skuld betaal.

Ons weet dat Abraham se uitroep ook profeties was, en vervul is: “DIE HERE VOORSIEN !”


DEUR DIE GELOOF het alle gelowiges, kinders van Abraham, deel aan die salwing van Christus. In Hom word ons weer gebore, deur die werking van God die Heilige Gees.


3.

Die wonder vind steeds plaas: by ontelbare uitverkorenes word daar LEWE IN DOOIE HARTE GEWEK.

DIE HERE het sy verdere beloftes aan Abraham ook vervul. `n Groot nasie is uit hom gebore. Hulle het die beloofde land ontvang. Maar die BELANGRIKSTE was dat die beloofde Verlosser uit Abraham se nageslag gebore is.
In Hom het Abraham tot `n seën vir al die nasies geword.

Vir die Nuwe Testamentiese gelowiges is die beloftes steeds vas: barmhartigheid vir die wat God lief het en Sy Gebooie onderhou.
Die Verbond gaan steeds van geslag tot geslag vir hulle.

Ons het nou die nuwe, bloedlose teken van die Verbond: die Heilige Doop – want die bloed van ons Paaslam IS vir ons gestort. Daar hoef nie meer bloedige, simboliese offers te wees wat moet heenwys na Hom nie.


Daarom kan die Christen-ouers met soveel vertroue, net soos Abraham, hulle kinders na God bring en voor Hom stel.
Hulle kan net so vas soos Abraham glo dat God hulle kind kan vashou in Sy genade. Hulle kan ook vertrou dat Hy hulle sal dra, wanneer hulle beloftes maak oor die kind se opvoeding in die geloof.

Em telkens, wanneer die Doop in ons midde bedien word, moet ons elkeen daaraan herinner word dat ons self draers is van hierdie teken ….
Ons BEHOORT !
Ons is skape van die Goeie Herder !
Ons moet daarom luister na Sy stem en Hom volg.

Ons moet bely dat God voorsien.
Hy het Sy eniggebore Seun voorsien, soos Hy daardie ram aan Abraham voorsien het in die plek van sy seun Isak.

Wees bly, wanneer ons die koms van nuwe geslagte kinders van die Verbond belewe:
= Christus bewaar en vermeerder Sy Kerk
= die getal an uitverkorenes is besig om vol te raak, met die
oog op Sy wederkoms

Soos Abraham moet ons die geloof behou, selfs as die beproewing van ons geloof groot is:
GOD VOORSIEN !


Amen.

- - - 0 - - -

Tuesday, November 13, 2007

14.ONS MOET KAN BELY

LEES: 1 Tim 4:1-16
TEKS: vs 6-8
SING: Ps 138:1,2; Ps 116:1-4; Ps 25:1,2


Massabyeenkomste word weer mode. Opswepende musiek en toesprake, `n geskreeu oor mikrofone, is sogenaamd “eredienste.
Hier sê elkeen wat by hom opkom, en dan is dit volgens hulle “die Heilige Gees wat spreek”.

Vra enigeen by so `n byeenkoms wat hy glo, en ontvang vae antwoorde. Miskien sal vaagweg na Jesus Christus verwys word. Oor Sy geboorte, lyding en vernedering, kruisiging, opstanding en hemelvaart is daar gewoonlik geen kennis nie.
DAAR IS NIE `N BELYDENIS NIE !

Al word daar neerhalend oor ons belydnisskrifte gepraat, is daar GEEN KENNIS van die inhou daarvan nie.
Dit is nie bloot mensewerk nie. Die belydenisskrifte deurstaan al eeue lank die toetsing van die waarheid daarvan.
TOETSING AAN DIE WOORD VAN GOD SELF !

Om te bely, beteken “na-sê” of “dieselfde sê.

Om dus te bely wat in die Woord deur God openbaar is, is om by die WARE TROOS te kom dat God deur Christus verlossing vir sy uitverkorenes bewerk het:
Ons behoort aan Christus, Hy is ons Saligmaker, Hy het ons gered van die ewige straf, verlos van die Bose, vergewe ons sondes en gee ons ewige lewe !

DIE LEER VAN DIE KERK IS DIE BELYDENIS VAN WAT IN DIE SKRIF STAAN.

Mense moet getoets kan word aan wat hulle leer/bely.
2 Joh 1:10 stel dat “As iemand na julle kom en HIERDIE LEER NIE BRING NIE, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie”
In vs 9: “WIE IN DIE LEER VAN CHRISTUS BLY, HY HET DIE VADER SOWEL AS DIE SEUN.”

Dit is dus TEEN GOD SE WOORD om nie te kan of wil bely wat jy glo nie.
Dan sal godsdienstige byeenkomste ontaard om net op sielkundige opsweping gerig te wees. Daar kan nie suiwere Woordverkondiging wees nie.


Wat skryf Paulus aan Timotheus oor die leer/belydenis ?
Waaroor gaan dit, en waartoe lei dit ?

DIT LEI TOT BELYDENIS VAN SONDESKULD

Suiwere Woordverkondiging sal voortdurend ons as swakke mense te staan bring voor kennis van ons ellende.
Uit ons self is daar nie saligheid nie, en God die Seun om met Sy gehoorsaamheid God se wil vir ons te volbring.
2.

Saam met Psalm 32 se digter kan ons die troos bely dat God die Heilige Gees ons daartoe lei om ons sondes aan God bekend te maak (vs 5):”Ek wil aan DIE HERE my oortredinge bely”. Dan kan ons saam met Dawid sing: “en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.”

ONS MOET DIE NAAM VAN DIE HERE BELY

Christus gee hieroor aan ons `n heerlike troos:
As ons Sy Naam voor die mense bely, sal Hy ons ook voor Sy Vader bely.

ONS MOET DANKBAARHEID OOR VERLOSSING BELY

Dit beteken eerstens dat ons God se wil verkondig, sy Wet, en tweedens dat ons opregte lewens ook `n getuienis van ons dankbaarheid.

BELYDENIS IS OPREGTE ERKENNING VAN GOD … `N REGSINNIGE VERKONDIGING.
Dan kom ons by die eerste vrug van suiwere LEER:-

1.GOD BESTRY DWALINGE DAARDEUR.

Christus het Self gewaarsku dat dwaalleer sal kom. Paulus en die ander Apostels skryf gedurig daaroor, soos hier in 1 Tim 4. Mense sal verlei deur valse leersellings, en selfs duiwels aanhang.

Paulus stel dat hulle nie net valse ding leer nie, maar huigel in hulle lewens. Hulle steek hulle sondes weg onder `n dekmantel van godsdienstigheid.
Christus het die Fariseers se lewens as so `n valsheid voorgehou. Hulle het dinge gedoen om deur die mense gesien te word.

2.SKRIFGETROUE BELYDENIS BEWAAR DIE SUIWERE LEER VIR DIE NAGESLAG

Timotheus word byvoorbeeld deur Paulus herinner van die ware geloof en leer soos hy dit deur sy ma en ouma ontvang het: BLY by wat jy geleer het.
Die Verbond van God gaan van geslag na geslag !

3.DIE BELYDENIS STERK GELOWIGES IN HULLE STANDPUNT-INNAME

Dit word dadelik in 1 Tim 4:6 gesê: Hou die dinge wat jy in waarheid geleer het, aan die mense voor “dan sal jy `n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die GOEIE LEER WAARVAN JY `N NAVOLGER GEWORD HET.”
Daarmee saam moet vs 7 gelees word:”Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels.” Hiermee word bedoel dat gelowiges vervalste mooipraat-stories en preke moet herken, soos mens kinder-storietjies (feeverhale) kan ken as verdigsels.

Kennislose en belydenislose mense sal wel val vir die mooi woord-blomtuine van vervalste woordverkondiging.

3.

As ons die BETROUBARE WOORD vashou (vs 9), sal ons standpunt kan stel teen die deursigtige, belydenislose gebrabbel van opswepers.

Dan sal mens se lewenswyse ook steun wat jy bely.

4.DIE SUIWER BELYDENIS BEWAAR DUS TEEN OPPERVLAKKIGHEID !

Die belydenisskrift dwing gelowiges om eerder DIEPER TE DELF in die Woord van God, as om tevrede te wees met oppervlakkige praatjies en opswepende woorde.

Dan soek mens GOD SE EER, en nie om self `n “gevoel” te ervaar nie.


Ons moet weet dat die suiwere belydenisse aangeval sal word. Doen Satan dit dan nie al die eeue al nie ?
Die vader van die leuen is geslepe !
Hy kan, selfs deur die monde van mense, die waarheid net so effens verdraai, dat dit vir mense aanvaarbaar klink.


= Bly daarom, soos Paulus Timotheus aanmaan, met alle mag by die
Woord ALLEEN. Dit is waarheen suiwere belydenisskrifte mens
voer.
= Moenie kleinmoedig raak as jy die afval in kerke wereldwyd
sien, en die swaar van spot en aanvalle voel nie.

Christus het ons getroos dat as die wereld Hom gehaat en
vervolg het, sal dit met ons ook die geval wees. Maar dit
lei tot getroue volgelingskap en ware vertroue op God.

Petrus het geskryf dat Satan soos `n brullende leeu loop en soek wie hy kan verslind.

Ons behoud is die LEER.
Verkondig God se wil suiwer, en so ook die Raad van God, Sy Koninkryk en sy Verbondstrou. Sy beloftes staan vas, soos in die sewe briewe in Openbaring gegee is: “Aan hom wat oorwin ….”

Amen.

- - - 0 - - -

Monday, November 12, 2007

13. OPVOEDING IN DIE VERBOND

LEES: 2 Tim.3:1-17
TEKS: vs 14-15
SING: Ps 30:1,3; Ps 91:1,6; Ps 128:4; Ps 38:1,17

Tradisie en ou gewoontes is deur die eeue al baie deur jong mense minag of opsygeskuif. Daarmee saam ook die geloof.

Die veeleisende lewe aan die een kant en die lokkende wereld aan die ander kant verwar hulle dikwels. Hulle besef hulle het God se bewaring nodig, maar ook hoe veel hulle rug op Hom gekeer is.

Paulus se woorde aan die jong Timotheus klink vir almal deur die eeue as riglyn en waarskuwing: BLY JY BY WAT JY GELEER HET !
Hou vas wat jy by jou ma en ouma en van my, Paulus, gehoor het.

Die “vooruitgang” wat almal beet het, is dikwels AGTERUITGANG. Mense sonder God gaan van kwaad na erger.

Hierdie waarskuwing van ons HERE beveel:
BEHOU DIE GOEIE !.

In hierdie paar woorde word vir ons vier dinge geleer oor die jong mens se opvoeding: daar word gewys op die TYD van die opvoeding, VAN WIE dit ontvang word, WAT hulle geleer moet word en die HOOGSTE DOEL daarvan.

1.DIE TYD VAN OPVOEDING

Christelike opvoeding in die Verbond van God begin DADELIK, terwyl `n kindjie byna nog nie kan verstaan nie.
Die Griekse woorde wat Paulus gebruik dui werklik op VAN KLEINS AF. Die woord in v 15 het Petrus ook gebruik in sy brief, en dan praat hy van SUIGELING.

Van die begin af moet die kind deel wees van huisgodsdiens en saam in die eredienste wees. Hulle gebed moet begin word selfs al verstaan hulle skaars.

In Spreuke 22:6 word gese “Oefen die seun volgens die eis van sy weg – dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”

Hoor God se groot erns hierin.

Dit is Sy verbondskinders. Hy eis dit van ons.
Hulle moet as skapies van kleins af die stem van die Goeie Herder leer ken om Hom te volg.

2.VAN WIE KOM DIE OPVOEDING ?

Die ouers is die primere, eerste opvoeders, en bly dit hulle lewe lank – natuurlik veral terwyl die kinders nog afhanklik is van hulle. So het Timotheus se ma en ouma die grondslag gele van sy geloof.

Paulus raak egter meer aan: `n kind moet ook geskool word en kerklike opvoeding ontvang, in die gemeenskap van die gelowiges.
-2-

Deur dit alles is dit steeds die ouers wat moet TOESIG he. Hulle moet seker maak dat die sekondere opvoeders nie hulle kind laat dwaal van die waarheid af nie.

Eers is die opvoeding melkkossies, maar dit moet mettertyd gaan oor dieper, moeiliker dinge: die vaste kosse van die geloof.

VERSTAAN ONS ONS ROEPING ? Besef ons werklik wat die Doop-beloftes is ?
Die ouer se veranwoordelikheid hou nie op wanneer die kind groter word nie.

Baie probleme van kinders kan teruggvoer word na PROBLEEM-OUERS !
Dit is ouers wat nie hulle doopbeloftes hou nie . . . veral nie in die voorbeeld wat hulle moet stel nie. In Deut 6 lees ons dat die opvoeding en lering voorgaan as jy by die huis is, as jy op pad is, as jy gaan le en as jy opstaan:
Dit omvat die HELE LEWE.

Soos die tyd aanloop na die koms van Antichris toe, sal alles vererger. Dit het Christus Self gese. Hoeveel meer moet ons dan nie erns maak van ons taak nie !

3.WAT IS DIE INHOUD VAN HIERDIE OPVOEDING ?

Dit word vir ons ook duidelik gese: KEN die Skrif, dat jy
WYS WORD TOT DIE SALIGHEID DEUR DIE GELOOF IN CHRISTUS JESUS.

Niks anders is in ons lewens belangriker nie.
Dit is oneindig belangriker as grade en diplomas, as sport-prestasies en `n groot posisie by die werk.
Hierdie ander dinge IS wel van belang vir hierdie lewe. Ons het `n werkopdrag om te heers (Gen 1), en moet lewe. Om goed te lewe is ook nie sonde nie . . . maar HOE ons lewe.

Dit is waar die wysheid uit die Woord te pas kom.

Van hierdie opvoeding se Paulus (letterlik) dat Timotheus die Heilige Letters geleer. Dit is die Heilige Skrif, wat as’t ware letter vir letter vir die kind gevoer moet word. Deeglike kennis is nodig.
God se Woord is die belangrikste opvoedingsbron.
Dit gee aan ons lig op die gehele werklikheid waarin ons lewe.

Dit bring ons by

4.DIE HOOGSTE DOEL, WAARVOOR OPGEVOED WORD

Dit se v 15: KEN DIE SKRIF !
So alleen kom ons by die wysheid tot die saligheid.
Daarmee alleen het mens dit wat die ewige saligheid verseker.

Alle vooruitgang is vergeleke hiermee sekond^er.



-3-

Christus het beveel dat ons nie die kindertjies mag verhinder om by Hom te kom nie.
Sy verlossingswerk moet die sentrum wees van alles wat `n kind van kleins af geleer word. Dan bring ons die kind by die ENIGSTE TROOS wat ons in lewe en sterwe nodig het: Dat ons na liggaam en siel aan Hom behoort wat ons duur gekoop het met Sy bloed.

Dit is wat ons doopbeloftes beteken.
As dit getrou nagekom word, het die jongmens krag, wanneer die versoekings kom, wanneer swaarkry tref en vir wanneer hulle bly is.

Met die kennis, en diesekerheid van God se liefde kan ons jongmense ook die verlede, die tradisie en bo alles die Kerk reg waardeer en `n toevlugsplek vind in voor- en teenspoed

AMEN


- - - 0 - - -

Doleansieverklaring,Gereformeerde Kerk Pretoria

13 November 2007
Gegroet, Lesers !
Ek was vir `n maand met langverlof weg, en daarna baie besig met kerkverand-sake, soos bv die verklaring
van die Gereformeerde Kerk Pretoria wat hierna volg.
Daarna volg weer DV weekliks preke, en ek sal ander stukke oor gebeure in die GKSA mettertyd laat volg.
Seenwense,
HT de Villiers

================================================================
VERKLARING VAN DOLEANSIE
Die Gereformeerde Kerk Pretoria het in Januarie 2004 die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika meegedeel dat ons die Skrif, Belydenis en Kerkorde onverbiddelik handhaaf en dit in die praktyk tot uiting laat kom. Daarmee het ons as Bruidskerk van Christus ons gewillig onder die juk van ons Koning en Bruidegom Jesus Christus gebuig met die bede dat die sake waardeur die eenheid tussen die Kerke versteur is, herstel sal word.
Meer as drie jaar later moet die Gereformeerde Kerk Pretoria met droefheid getuig dat die toestand geensins verbeter het nie en selfs erger geword het.
Geen van hierna genoemde sake toon terugkeer na Skrif, Belydenis en Kerkorde nie.
Ten einde ons roeping te kan voortsit om die beeld van Bruidskerk uit te straal, ag ons dit nou nodig om met leedwese aan al die Kerke in die GKSA-verband bekend te maak dat ons ons treurende toestand van die afgelope 24 jaar oor die GKSA voortaan tasbaar en voortdurend gaan betoon deur Dolerend by die naam van hierdie Kerk te voeg en dat ons voortaan as die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) bekend sal staan. Daarmee word aansluiting by onder meer die Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) gevind.
Die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) herbevestig ons binding aan die Heilige Skrif, Belydenisskrifte en die Kerkorde.

BETEKENIS VAN DIE DOLEANSIEVERKLARING
(Memorandum ¤1)
Hierdie amptelike verklaring van doleansie behels dat die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) 'n afwagtende houding inneem ten opsigte van besluite wat die Kerke DV in 2009 in sinodesitting byeen, sal neem en sal die besluite ingevolge Artikel 31 van die Kerkorde aan die Woord van God, die Belydenisskrifte en Kerkorde beproef; daaraan onderhewig dat gebeure voor 2009 hierdie Kerk nie tot dringende besinning dwing nie.
Ons volhard op die Skriftuurlike Gereformeerde paaie wat die toets van byna vyf eeue deurstaan het en sal op elke dienlike wyse die leringe van Skrif en Belydenis verkondig en bevorder. Terselfdertyd sal ons in gebed volhard dat die Kerke in GKSA-verband na hulle ware Bybelse Gereformeerde wortels sal terugkeer. Daarin volg ons die weg van Jeremia 6:16: So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie Weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.
( Mag hierdie kerkverband daarvan bewaar word dat die laaste woorde van hierdie vers nie finaal u eie antwoord word nie: Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.)
Die Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend) beklemtoon dat nie net die geskilpunte van sinode-2006 skeiding bring nie. Inteendeel is daar in die Kerkverband baie ander sake waarin van die Skrif afgewyk word en wat hieronder genoem word.
Aangesien daar genoeg onbeantwoorde beswaarskrifte en artikels sedert 1983 is wat ons standpunte stel, word die sake bloot gestel.
`n Onskriftuurlike tydsgees word weerspieël in sinodebesluite oor vroue in ampte, gebruik van kelkies met Nagmaal, Nagmaal nie om die tafel nie, 2003-omdigting, dinamies-ekwivalente Bybelvertaling, ensovoorts.
Hierdie en verder genoemde sake staan in skrille kontras met God se Heilige Woord, waarvan God die Heilige Gees alleen die Outeur is wat Sy dienaars beveel het om Sy Woord op te skryf en te verkondig (Eseg 2:1-10; 3; Ex 24:12; Openb 1, 2, 5; Openb 22:7, 18-19; 1 Petr 1:10-12; 2 Petr 1:19-21).
SKRIF EN BELYDENIS
1. Sinodes wys al vir meer as twintig jaar by herhaling op tegniese punte beswaarskrifte teen die 1983-vertaling af en wil nie die basuin hoor blaas nie (Eseg 33). Daar word ook nie op die dringende oproep in Jes 21:11-12 ag geslaan nie: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag? Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.
2. Daar is meermale erken dat die veranderde “verstaan” by hierdie vertaling gelei het tot die veranderde verklaring van die Skrif. Sinodebesluite om nie die 1983-vertaling in die Belydenisskrifte op te neem nie, is erkenning dat die 1983-vertaling foutief is.
Uit hierdie vertaling vloei al die nuwighede in die Kerkverband wat bots met die Skrif. Die sosio-historiese verklaring bots met die Openbaringshistoriese verklaring van die Hervorming. Dit lei tot sterk veranderde prediking, `n hermeneutiek wat vreemd aan die Skrif en Hervorming is, nuwe liturgieë en o.a. `n “beryming” soos die waaroor daar nou stryd is.
3. Die Reformatoriese waarhede word vir remonstrantse dwalings verruil, soos in die Dordtse Leerreëls weerspreek - soos met die aanvaarding van die 2003-“omdigting”. Die wysiging van Art 36 NGB (punt 5 hieronder) onderskryf die remonstrantse dwaling dat die staat of owerheid seggenskap oor die Kerk van Christus het.
4. Die Apostoliese Geloofsbelydenis of Twaalf Artikels word verander en Artikel 68 Kerkorde word nie nagekom in die proses nie.
5. Art 36 NGB is gewysig om by die huidige staatkundige patroon in die land aan te pas, en Sinode-2006 erken met sy besluite stilswyend dat dit verder aangepas moet word. Dit is in stryd met die vereiste dat die Belydenisskrifte slegs op Skrifgronde gewysig mag word en verwerp die standpunt dat die Belydenisskrifte aanvaar word omdat hulle in alle opsigte aan die Woord van God voldoen. Daarom is dit strydig met Art 29 NGB, aangesien nie-Skriftuurlike bronne toegelaat word om die inhoud en bewoording van die Belydenis te bepaal.
6. Ons het oor die afgelope byna drie dekades, in aansluiting met ander Kerke, op meerdere vergaderings tevergeefs die Kerklike weg probeer volg. Ons het ervaar dat belangrike sake op “tegniese punte” afgewys word, terwyl Skrifgegronde antwoorde nie gegee word nie. Daar word volhard met besluite en praktyke in Kerke in die GKSA-verband wat radikaal van die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte afwyk - dus van die eeue-oue standpunte van die Hervorming.
LITURGIES
7. Onordelike en onskriftuurlike liturgiese handelinge kom voor ter wille van wat “die mense wil hê”.
God se wil oor hoe Hy gedien moet word, word verontagsaam. Formuliere word eiesinnig verkort. Die Wet van die HERE word nie volledig afgekondig nie, en die Geloofsbelydenis word selfs uitgelaat. Tweede eredienste word afgeskaf of vervang met “sangdienste” met nie-goedgekeurde liedere en “getuienisse”.
Leer- of kategismusprediking verdwyn. Ander ongereformeerde gebruike word ingevoer, soos gebedsgroepies (kerkies binne die kerk), “halleluja’s” en dies meer, wat die eeue-oue rustigheid van die Bybelse erediens met mensebelewenisse vervang.
8. Die Heilige Doop word met menslike gebruike beklee asof dit 'n familiesaak is en nie 'n heilige Verbondshandeling van God met ouers en kind en gemeente nie. Dit ontaard selfs in `n “kinder-partytjie”.
9. Professionele beraders verdring die ampte wat deur die HERE ingestel is. Berading vorm deel van Kerklike pastorale bearbeiding in die gemeenskap van die heiliges, dat ons mekaar se laste in onderlinge liefde moet dra.
10. Liedere wat nie deur die Kerkverband aanvaar of goedgekeur is nie, word in sommige Kerke gesing (Art 69 KO).

KERKREGTELIK
11. Kerkrade is volgens die Bevestigingsformulier vir ouderlinge en diakens deur die HERE ingestel met duidelike Skrif-vasgestelde opdragte, take en werkswyses oor hoe die wingerd van die HERE bewerk moet word.
Dit is sorgwekkend dat Kerkrade en meerdere vergaderings al meer soos sekulêre verenigings funksioneer, met visies en missies, spanboubyeenkomste en dies meer asof die kerk 'n sakeonderneming is. “Dagbesture” hanteer selfs Kerkraadsake.
12. Ooreenkomste tussen Kerke wat by wyse van gesamenlike besluite op meerdere vergaderings aangegaan word, word omseil, sonder om die Kerkordelike weg te volg. Dit is nie net 'n vernietiging van die onderlinge vertroue en eenheid van hart en sin nie; dit is ook 'n oortreding van die Negende en Derde Gebod, omdat die openbare verklaring wat aan die begin van elke meerdere vergadering deur die deputate van die Kerke afgelê word, genegeer word.
13. Van diegene wat aan die Gereformeerde leer en Kerkbeskouing vashou, word geëis om die kerklike weg te volg. Aan die ander kant was daar heftige reaksie en selfs `n onbybelse petisie toe Sinode-2006 die 2003-besluit oor vroue in ampte (op 'n tegniese punt) wesenlik nietig verklaar het. Broeders het tydens Sinode-2006 openlik aangedui dat hulle teen hulle gewetens sou gestem het as hulle besef het dat die 2003-besluit oor vroue in ampte tersyde gestel sou word. Daarmee is die Openlike Verklaring wat aan die begin van Sinode-2006 voor God afgelê is , kragteloos en tot 'n bespotting gemaak. Menslike insigte is bo die Woord gestel (Art 29 NGB).
14. In stryd met die Gereformeerde (presbiteriale) grondslag oor die plek, funksie en gesag van meerdere vergaderings, tree meerdere vergaderings ( en selfs deputategroepe en die administratiewe buro) toenemend op asof hulle in eie reg gesag het om aan die Kerke in GKSA-verband voor te skryf.
Hulle matig hulle aan om besluite te neem asof hulle vaste strukture met kerkregtelike persoonlikheid is, en eis dat plaaslike Kerke sulke besluite móét nakom. So vervang kerklike gesag die gesag van die Skrif. Kollegialistiese voorskriftelikheid en oorheersing kom tot uiting in die besluite van sinode-2006 om aan Kerke voor te skryf aan watter Klassisse hulle moet behoort, kontraktuele binding van Kerke aan lidmaatskap van die SARK en ander sekulêre instellings soos die NWU, en voorskriftelikheid deur die Administratiewe Buro en sekere deputategroepe (om dit maar by herhaling te noem).
15. Die Kuratorium van die Teologiese Skool en veral sy Dagbestuur tree op asof dit 'n instelling met eie gesag is. Die Dagbestuur hanteer wesenlik alle sake en stel blykbaar die volle Kuratorium voor voldonge feite en gedane sake. Ernstige navrae word óf gladnie óf baie ligtelik beantwoord en maande en jare gaan verby voordat dit geskied. Daarby tree die Kuratorium aanmatigend op soos deur op eie gesag uitdruklik die Kerke aan 'n ooreenkoms met die sekulêre NWU te verbind. Sinode-2006 het hierdie optrede goedgekeur en so elke plaaslike Kerk sonder VOORAF medewete en instemming 'n party in die ooreenkoms gemaak. Dit bring finansiële en ander verpligtings mee wat op die plaaslike Kerke afgedwing word.
BETROKKENHEID BY POLITIEK
16. Die GKSA-Kerkverband het hom op die staatkundige (politieke) terrein begewe deur besluite van sinode-2006 en vorige verwante besluite oor die volgende:
l Die bestryding van geweldsmisdaad. Dit lê suiwer en enkel op die terrein van die owerheid (Rom 13).
l Die bestryding van armoede en werkverskaffing. Dit lê nie op die terrein van die Kerk nie; die Kerk se taak is enkel en alleen om die Woord te verkondig en Liggaam van Christus te wees. Diens van Barmhartigheid is totaal iets anders.
l Betrokkenheid by wetgewing deur deelname aan die NG Kerk se parlementêre lessenaar. Die Kerk is nie geroepe om toesig oor die owerheid te hou nie, wel om vanuit die Skrif teenoor hom te getuig. Hierdie besluit is in sy wese Rooms.
l Ondersteuning van die owerheid met die uitvoering van die sogenaamde grondhervormingsprogram. Hiermee het die GKSA-verband hom in die ideologiese uitgangspunt van die regime verstrik, met verdeeldheid as gevolg.
l Deelname aan 'n navorsingsprojek van die Northwest University oor die reformatoriese teologie en die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing.
17. Samewerking met ander kerke om sogenaamd teenoor owerhede te getuig, en “lidmaatskap” van die SARK (wat saamwerk met ander gelowe) en die parlementêre lessenaar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk – in plaas daarvan dat die Woord teenoor owerhede verkondig word na die voorbeeld van Jona en Jeremia en ander profete, ja deur die Here Jesus Christus Self toe Hy die oordeel oor Jerusalem aangekondig het (Luk 19:41vv). Met hierdie optrede word die Roomse standpunt ingevoer dat “die kerk” toesig oor die staat moet hou.
18. Sekulêre instellings en die media word gebruik om druk op die Kerke uit te oefen, en die lasterlike en onkundige reaksies wat dit ontlok stel die Kerke van Christus in verleentheid. 'n Uitstaande voorbeeld is die vroeë bekendmaking van die verslag oor 'n “nuwe struktuur” van die GKSA (wat aan Sinode-2006 voorgelê is) wat deur `n deputaatskap gedoen is.
SLOTOPMERKINGS
19. Die omstandighede wat tans in die GKSA-verband heers, is toe te skryf aan nalatigheid om beswaarskrifte, ensovoorts, deeglik vanuit die Skrif te ondersoek. Verder is daar oorheersing deur predikante, veral van sommige van die predikante wat as doktore vir opleiding van predikante (volgens art 18 KO) geroep is (dominokrasie).
Aan die ander kant is daar gevalle waar behoudende predikante teen hulle oortuiging in deur kerkrade gedwing word om nuwighede in te voer. Onordelikheid en wanordelikheid is aan die orde van die dag, soos die wyse waarop sinode-2006 gevoer is. Afgehandelde sake is weer ter tafel geneem en het tot teenstrydige nuwe besluite gelei.
Op sinodevlak plaas die eiewillige optrede van sommige deputategroepe die vergadering voor voldonge feite en, in plaas van vermaning, word hulle verslae gerieflikheidshalwe gekondoneer.
Kerkrade se navrae en reaksie oor, en antwoorde, aan deputategroepe word aanvallend beantwoord. So is Kerkrade se reaksie op die beoogde katkisasieboekies beantwoord en geen gevolg is daaraan gegee nie.
Die deputate Liturgie het kommentaar oor die 2003-omdigting geignoreer, nie eers erkenning daarvoor gegee nie, en dit met `n onaanvaarbare kommentaar in 2003 se sinode opsygeskuif asof dit nie bestaan nie.
Dit openbaar die gees van onverdraagsaamheid in die GKSA-verband en oorheersing deur deputategroepe.

OPROEP TOT TERUGKEER
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika doen afstand van hulle reg tot aparte bestaan as kerkverband deur af te wyk van die hoofredes vir die herstigting of vrymaking van 1859. Eenheid word gesoek ten koste van die waarheid.
By Sinode-2006 is die indruk geskep van `n gees van versoening en saam na die Skrif luister. Intussen het 22 maande verloop sonder uitnodigings in die hele Kerkverband om Sinodedeputate te ontmoet vir gesprek oor vroue in ampte en die 2003-omdigting.
Beswaardes oor die 1983-vertaling is nie genooi om hulle saak toe te lig by die deputate wat die beswaarskrif moes bestudeer nie, ten spyte van navraag daaroor.
Was dit dan bloot 'n poging om tyd te wen?
Ons vermaan die Kerkverband om die tekens raak te sien van herhaling van foute en dwalinge wat deur die kerkgeskiedenis plaasgevind het.
l Herken hierdie tyd as een van groot nood. Luister na hierdie oproep tot werklik suiwer Bybelse besinning.
l Semper reformanda – atyddeur reformerend - word voortdurend as slagspreuk gebruik. Die voorvoegsel re beteken terug of her. Reformanda dui deurlopende optrede aan en beteken her- of oorvorming terug. Terug na die die Woord!
l Reformanda vereis die deurlopende toetsing van die Kerk ,of dit suiwer is volgens die Woord van God (Art 29 NGB). Semper puranda – altyd suiwerend, en dan semper reformanda – terug na die suiwerheid van Woord en leer!
l
GLO ONS NOG DIE WOORD VAN GOD,
EN BUK ONS GEWILLIG ONDER DIE JUK VAN JESUS CHRISTUS ONSE HERE . . .
OF BUIG ONS VOOR DIE WOORD VAN MENSE?
Ons bede is dat ons almal saam steeds die slotwoorde van die Sinode van Dordrecht (1618-1619) onderskryf:
“Ten slotte doen hierdie Sinode `n beroep op alle bedienaars in die Evangelie van Christus om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke vroom en gelowig te gedra. Hulle moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot eer van die Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink nie maar ook praat. Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars `n gegronde rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak of te belaster.
Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue dienaars van Sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek.
Amen.”
----------0----------


is, 4.12 Die Teologiese Skool word sonder behoorlike voorafkennisgewing aan en voorafraadpleging van die Kerke in die GKSA-verband aan 'n sekulêre universiteit, naamlik Northwest University, gebind. Let daarop dat die ooreenkoms nie met die Potchefstroomkampus aangegaan is nie. Dit is beswarend dat die saak eers tydens Sinode-2006 na vore gekom het. Die bindingsooreenkoms bevat onder meer voorskriftelike bepalings oor prosedures ten opsigte van die beroeping van dosente aan die Teologiese Skool asook toesighouding oor die opleiding self. Dit word 'n vraag of die Kerke die reg behou om tugtelike toesig oor die dosente te hou en hulle, synde deur die NWU minstens gedeeltelik werknemers van die staat, te mag afsit of ontslaan. Ten spyte daarvan dat die Kerke nie vooraf in die opstel en aangaan van die ooreenkoms geken is nie, is die Kerke gesamentlik en afsonderlik en die betrokke universiteit die partye in die ooreenkoms en word die Kerke tot die benodigde finansiële verpligtinge verbind.
Die saak gaan inderdaad baie verder terug toe talle Kerke sedert die jare-tagtig hulle eiesinnige gang gegaan het ten opsigte van sake soos kelkies en ander gebruike “omdat die nie-invoering daarvan die sinode onnodig vertraag”. Sodoende het 'n groot aantal Kerke reeds lankal Kerkverband verbreek deur nie volgens die presbiteriale Kerkreg by afsprake met ander Kerke te hou nie.