OORDENKING
Ek plaas hierdie keer een van die oordenkings, wat oor Radio Pretoria uitgesaai is
(5-11 Julie) – net verkort.
LEES: Gen 46:20-27; Ps 87
TEKS: Ps 87:6; Gen 46:21(b)
NIE EEN ONTBREEK NIE
Mens kan baie maklik voel dat jy niks in jou lewe beteken het nie. Ons HERE wys ons egter op iets heel besonders in hierdie twee tekste.
Dit was bedoel vir Israel, maar ook vir die kerk, en die enkeling.
1. Vir Israel
Satan het voortdurend probeer om God se volk te vernietig sodat die Verlosser nie uit hulle kon kom, soos aan Abraham belowe is nie.
Vir die ernstige gelowige was Jerusalem en Sion (die Tempel) sigbare tekens van hierdie Verbond. Dit was vir hulle ‘n geestelike tuiste. Hulle het gevoel ek behoort hier.
In swaar tye vir die volk, en vir individue, was daar dus altyd hierdie vastigheid. Hierdie Psalm is waarskynlik ná die terugkeer uit ballingskap gedig, toe Israel steeds baie verdruk is.
Tog: hulle weet God se genade kan nie gekeer word nie. Ek is ook “uit Sion”gebore!
2. VIR NUWE TESTAMENTIESE GELOWIGES
Die psalmdigter sien hoedat selfs nie-Israeliete sal toestroom om God te dien. In die geloof word hulle deel van God se volk.
Hulle is WEER-gebore, deur ‘n geboorte van die hart!
Grootheid word nie vir ons gemeet aan aardse standaarde nie, maar God se volk word getel uit geestelike rykes.
Die tweede Tempel het Christus gesien!
In Hom het die seën oor Abraham na alle volke uitgebrei. Die voorhangsel van die Tempel het geskeur, wat die toegang tot God (simbolies) gesluit het.
In CHRISTUS tel onse HERE sy uitverkorenes: Die en die is daar gebore
3. DIE ENKELING.
Vir ons, wat ons so klein voel, is dit dan besonder, dat ons nou KONINGSKINDERS is
Die twee name wat in Gen 46:21(b) genoem word gee ook lig op hierdie troos: Muppim en Huppin.
Dit is twee betekenislose “name.” Waarskynlik het hulle name deur die tyd verlore geraak. Tóg word hulle nie uitgelaat uit die geslagsregister van Abraham nie. Die twee woorde wat die name vervang het, kan in ons taal iets beteken soos “dinges” of “watsenaam”.
Maar hulle is nie uitgelaat nie!
By God is hulle bekend!
In Jesaja 40 verseker God ons: nie een ontbreek in sy plek nie.
So is die meeste mense ook: skaars bekend. Nie groot in wêreldse dinge nie
MAAR: Ons is gebore in die Verbond !
Almal, groot en klein, dra die Verbondsteken, die Doop. Daarmee word gesê: ook hy/sy is daar gebore. In die geloof almal kinders van Abraham.
Dit lei tot dankbaarheid. God self skryf die getalle op. Ons wil net meer getrou ons lofliedere laat opklink. Ons is deel van die skare, wat deel sal hê aan die Feesmaal van die Lam.
Dan is die stryd klaar gestry.
Miskien is ons nie-geliefd by die wêreld, maar God meet met ander maatstawe!
AMEN
- - - 0 - - -
UIT DIE KERKVERBAND
Beroepe ontvang:
Ds AP de Jager van Volksrust na Newcastle
Ds HJP de Beer van Pretoria-Meintjeskop na Ventersdorp
Ds HV Venter van Reddersburg na Bellville-Oos as medeleraar
Ds AP de Jager van Volksrust na Vryheid
Ds H Reinecke van George na Welkom
Dr J Smit van Witpoortjie na Rustenburg as medeleraar
Ds PJ Grové van Krokodilrivier na Pretoria-Brooklyn as medeleraar
Ds DPJ Erasmus van Jeffreysbaai na Amanzimtoti
Ds WM Snyman van Aranos na Welkom
Ds DJA Booyens van Ermelo na Cachet as medeleraar
Proponent Peet J van den Berg na Pretoria-Wes
Ds JA Berg van Vaalwater na Ventersdorp
Ds AF Berg van Bothaville na Standerton
Ds AH Stavast van Henneman/Ventersburg/Senekal-kombinasie na Newcastle
Ds AP Kruger van Boksburg-Suid na Welkom
Proponent Peet J van den Berg na Glencoe/Ladysmith-kombinasie
Ds PH Fick van Komatipoort na teologiese skool potchefstroom as professor in die deelpos van Kerk-Dogmageskiedenis en Latyn
Ds OJ Struwig van Hoedspruit na Ladysmith/Glencoe-kombinasie
Ds JA Berg van Vaalwater na Daniëlskuil/Delportshoop-kombinasie
Ds WJ Botha van Frankfort na Witpoortjie
Ds MJJ Erasmus van Koedoesrand na Die Kandelaar as sendeling vir Eersterust en omstreke
Beroepe Aanvaar:
Ds GC Coetzee van Groblersdal na Nigel
Ds AP de Jager van Volksrust na Vryheid
Dr J Smit van Witpoortjie na Rustenburg as medeleraar
Ds HV Venter van Reddersburg na Bellville-Oos as medeleraar
Ds PH Fick van Komatipoort na teologiese skool
Proponent Peet J van den Berg na Pretoria-Wes
.
Beroepe Bedank:
Dr De W Saaiman van Queenstown/Dordrecht na Amanzimtoti
Dr VE d’Assonville van Colesberg/Philipstown na Welkom
Ds AP de Jager van Volksrust na Newcastle
Ds HJP de Beer van Pretoria-Meintjeskop na Ventersdorp
Ds H Reinecke van George na Welkom
Dr HG Stoker van Rietvallei na Cachet as medeleraar
Ds RA Bain van Potgietersrus-Wes na Standerton
Dr MJJ Erasmus van Koedoesrand na Clencoe/Ladysmith
Ds DPJ Erasmus van Jeffreysbaai na Amanzimtoti
Ds PJ Grové van Krokodilrivier na Pretoria-Brooklyn as medeleraar
Ds AH Stavast van Henneman/Ventersdorp/Senekal-kombinasie na Newcastle
Ds WM Snyman van Aranos na Welkom
Ds DJA Booyens van Ermelo na Cachet as medeleraar
Proponent Peet J van den Berg na Glencoe/Ladysmith-kombinasie
Ds AF Berg van Bothaville na Standerton
Ds JA Berg van Vaalwater na Ventersdorp
Ds OJ Struwig van Hoedspruit na Ladysmith/Glencoe
- - - 0 - - -
Brief van Willie en Irene Labuschagne in die Emirate:
Hi liewe kerk-vriende
Na verdere gesukkel met sisteme hier in die Emirate, kan ek vandag rapporteer dat ek nou weer ‘n nuwe e-pos adres het, een wat nou hopelik gaan werk!! Ons het onlangs agterge-kom dat my mweb verbinding nie werk nie, en dat die e-mails wat ek stuur, en die boodskap van “sent” wat elke keer op skerm sien, toe niks van die aard is nie. Ek is jammer vir al die inligting wat nie na julle almal deur gekom het nie. Nou is alles weer reg, en my nuwe adres is:
Irene111@emirates.net.ae
Eerstens dan baie dankie aan al my wonderlike vriende wat soveel moeite gedoen het om my te sien en te onthaal met die afgelope besoek. Ek het elke kuier so geniet, en my mandjie omtrent volgepak om terug te bring. Hier het ek breedvoerig kom terug rapporteer aan Willie, en dit was weer ‘n lekkerte van voor af. Dit is vir ons so belangrik om ons band tuis sterk te hou. Baie dankie vir al julle liefde, ons waardeer dit opreg.
Omdat die tyd tuis vir my so kosbaar was, en ek die tyd optimaal benut het, was dit vir my makliker om terug te kom in die wete dat alles hier nie meer so baie vreemd is nie. Willie het mooi oorleef, hoewel hy sê dat hy 5kg gewig verloor het! Hier is ons nou terug in ons roetine, en behalwe vir die hitte wat met mening nou op ons toegesak het, gaan alles baie goed. Alle expats poog om gedurende Junie tot September met verlof te gaan na ander wêrelddele, waar die weer matig is, so daar is tans algehele uittog, veral omdat skole ook jaareind het en kinders nou omtrent 2,5 maande vakansie het. Aktiwiteite vir almal kom tot halt, en koffie-oggende, kwiltklasse begin eers weer Sept.
Ons kerkgemeenskap hier in Al Ain (waar ons bly) vorder ook nou goed. Ons dienste is nou verskuif na Sondagaande 7 tot 9. Ons het nou ‘n saal bekom, en die predikant van Dubai lewer gereeld dienste. Ons leer ook meer mense ken, en hulle beoog selfs ‘n Bybelstudiegroep van begin September. Ek het ‘n wonderlike groep dames van my portuur onlangs ontmoet, wat weekliks vergader sommer hier naby my. Meeste van hulle is al `n geruime tyd hier, en ek kan ook nou weer baie nuwe inligting kry van waar en hoe om sekere dinge te bekom, ens. Ek vra nog baie vrae en leer baie by hulle.
Met Willie gaan dit baie goed, en sy werk verskaf aan hom baie vreugde. Hy leer hierdie kultuur beter verstaan en kan nou vordering in sy dept sien. Hy is tans besig om hom al meer te omring met bekwame mense, en werf heelwat uit SA.
Ek is eerste week in Julie in SA tot begin September, aangesien dit te warm word hier, en Willie na verskeie kongresse gaan. Ons gesels weer. Baie groete aan almal, en onthou my nuwe adres!!
Vrede en vreugde vir julle
WILLIE EN IRENE
- - - 0 - - -
TSONGA-BYBEL: 100 JAAR
Dit is vanjaar net mooi ‘n eeu gelede dat die eerste volledige Bybel in Tsonga verskyn het. Dié Bybel is in twee dele in Switserland gedruk en deur die Britse en Buitelandse Bybelgenoodskap gepubliseer.
In 1875 begin twee Switsers, Paul Berthoud en Ernst Creux, die sendingstasie, Valdezia, in die noorde van Suid-Afrika. Die boere in die omgewing het die sendelinge gewaarsku dat die taal van die plaaslike bevolking nie maklik aangeleer kan word nie. Hulle het egter volhard en in 1883 verskyn’n boekie waarin onder andere die Tien Gebooie en uittreksels uit die Evangelies in Tsonga opgeteken is.
Om die Bybel vir die mense in hulle eie taal beskikbaar te stel, was vir die groepie sendelinge noodsaaklik. In 1892 verskyn die eerste volledige Bybelboeke in Tsonga, naamlik die evangelie volgens Lukas en die Handelinge van die Apostels. Berthoud, Creux en twee moedertaalsprekers was grootliks hiervoor verantwoordelik. In 1894 verskyn die volledige Nuwe Testament en toe in 1907 die volledige Bybel.
Vandag het die bykans 2 miloen Tsongasprekendes in ons land, sowel as die meer as 1,5 miljoen Tsongas wat in Mosambiek woon, ‘n Bybel.
Tsonga Christene het steeds ‘n behoefte aan die Bybel in hulle taal en die vreugde om ‘n eie Bybel in jou moedertaal te ontvang, was onlangs duidelik sigbaar tydens ‘n diens wat in die Olifantskamp in die Nasionale Krugerwildtuin gehou is om die 100ste bestaansjaar van die Tsonga Bybel te vier. ‘n Hele aantal van die personeellede daar is Tsongaspre-kend en van hulle het met groot dankbaarheid vir die eerste keer ‘n eie Bybel ontvang.
- - - 0 - - -
As ruimtevullers gebruik ons weer van skrywer/digter CJ Langenhoven se spreuke.
= As jy nie goeie geselskap kan kry nie, probeer om dié wat jy kan kry, goed te maak.
= Bly spaarsaam sodat jy vrygewig kan bly.
- - - 0 - - -
SY WOORDE OPEN JOU Oë
Die legkaart is vandag voltooi. So beskryf Esté van Zyl, die ABET (Adult Basic Education and Training)-koördineerder vir die De Doorns/Touwsrivier area, dié geleendheid waartydens die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ‘n Grootdrukbybel in Afrikaans kom oorhandig het aan ‘n merkwaardige vrou van Touwsrvier: die 98-jarige Anna Ernest. Anna het op ‘n hoë ouderdom van 97 vir die eerste keer leer lees en skryf en vandag hou sy opgewonde haar eie Bybel vas wat sy self kan lees. “As jy die Bybel self kan lees, open die Here jou oë deur sy woorde,” is al wat sy kan sê.
Anna het op ‘n plaas grootgeword. Haar familie was baie arm en sy het eers skape opgepas en later mense se huise skoongemaak. Met behulp van Esté van Zyl en die onderrig van ‘n plaaslike afgetrede onderwyseres, Dina Kippies, het Anna geleer lees en skryf.
Ongeletterdheid is ‘n groot probleem in Suid-Afrika. Tussen 12 en 20 miljoen mense in die land is nie funksioneel geletterd nie. Dit beteken dat die Bybel vir hulle ‘n geslote boek is.
Anna sê dat sy op 98 nog baie jonk voel, want, “ek het dan onlangs eers leer lees. Hoe meer ek in my Bybel lees, hoe meer wil ek lees en leer”.
- - - 0 - - -
= Vir die bestendige goeie werkman, soos vir die bestendig-slegte, is daar geen lof nie.
= Daar is mense wie se oë so bestendig na bó gerig is, dat hulle nie sien hoe min hulle hande hier onder op aarde doen nie.
= Moenie jouself in ‘n posisie plaas waarin jy ‘n verduideliking moet gee nie. As hulle dit nie glo nie, dink hulle jy is skuldig.
= Daar is twee soorte werksmense: een werk vir sy loon, en die ander word beloon vir sy werk.
= Van al die paaie wat ek al gekom het, dink ek met meer genot aan die opdraendes waar ek uitgesukkel het, as aan die maklike afdraendes waar ek afgerol het.
= Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.
= Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou medemens, jou oordeel vir jouself en jou gewete vir jou God.
- - - 0 - - -
EUROPA-CHRISTELIK OF MOSLEM? –H.de Villiers
A.
CHRISTELIK
In ‘n artikel in Kerkblad (Jun. 07) skryf Herman Toerien oor die veranderings in Europese regerings.
Nederland
Christelike partye het oorgeneem. Daar word gestreef na terugkeer na Christelike norme.
Duitsland
Die Christen-Demokratiese Unie is deel van die regering. Daar is bv. ‘n ooreenkoms met die Lutherse en Roomse gesluit om Christelike skoolleerplanne te herstel.
België, Swede en Denemarke
In Vlaandere regeer die Christen-demokrate. In Swede ook.
Veral oor die Moslem-indringing begin Christene nou wakker word. Toerien verwys ook na Amerika, waar die Christian Coalition vier miljoen lede het! Hulle is hewig aktief.
MOSLEM?
In hierdie selfde kwartaal lees ek deel van ‘n reeks oor Islam (Moslems) in Europa.
Alleenlik die Christendom kan hulle invloed teenstaan. Die aardse humanisme en new age kan dit nie oorwin nie.
Europa het veral einde 1900’s in massa’s die kerke verlaat. Hierdie skrywer stel dat Europa kultureel en ekonomies besig is met selfmoord. Hulle verraai hulle toekomstige geslagte
Daar is ‘n hewige toestroom na paganisme (heidendom). Skrywer vergelyk Europa met Rigters 2:10, dat daar ‘n ander geslag gekom het wat God nie geken het nie..
Hy sê hulle “has rejected the pleasure of worship and replaced it with the worship of pleasure”.
Relatiwisme, evolusionisme, situasie-etiek, reinkarnasie, Harry Potter, Da Vinci Code Hoax, Gospel of Judas en okkulte (new age) is aanvaar, in die plek van Christus.
B Seëninge deur die Evangelie (vanuit Europa)
Vanaf die Hervorming het Europa die dominante industrie wêreldwyd gehad
(vir lank) en baie gegee aan die lande, wat op ander maniere weer deur hulle
uitgebuit is:-
= Mediese wetenskap wat lewens red.
= Landboukunde, bv. waar die houtploeg wat een familie voed, vervang word met ‘n ysterploeg wat drie families voed, dan die trekker wat sestig voed. Hongersnood verminder.
= Geletterdheid kom na volke wat geen geskrewe taal het nie.
= Demokrasie en regverdige wetgewing (soms).
= Afskaffing van slawerny (eers later).
= Paaie, spoorweë, brue, skole, hospitale, howe, kerke en die Bybel in honderde tale.
Dit was die invloed van die Reformasie , maar Europa oorleef slegs op geleende seëninge (van hulle voorouers af).
Hulle sny hulself af van die Bron van lewe. Hulle het God vergeet!
Daaroor sê die skrywer: Deur sy kinders te aborteer, aborteer Europa sy
toekoms. Deur die skole te ontkersten, veroordeel hy sy jeug. Deur sy
samelewing te verheidens, word sy inwoners pervers. Deur die miljoene
Moslem immigrant-werkers, pleeg hy selfmoord.
- - - 0 - - -
VOLGORDE VAN DIE OU TESTAMENT
Miga se profesieë – Miga 4 tot 7, volg ongeveer op Jesaja.
Geveg om Jerusalem: 2 Kron 32:1; Jes 36:1; 2 Kon 18:13-16; 2 Kron 31:2-8
2 Kon 18:17-26; 2 Kron 32:9-14; Jes 36:2-1; 2 Kon 18:27-35; 2 Kron 32:15-19;
Jes 29:1-24; Jes 30: 1-31:9 Jes 32:1-20; 33:1-24.
Hiskia as koning in hierdie tyd: 2 Kon 18:36-37; Jes 36:21,22; 2 Kon 19:1; Jes 37:1.;
2 Kon 19:2-7; Jes 37:2-7
Dan plaas sommiges Ps 44 hier.
Verdere stryd om Jerusalem: 2 Kron 32:17; 2 Kon 19:8-13; Jes 37:8-13; 2 Kron 32:20;
2 Kon 19:14-19; Jes 37:14-20; Ps 73
Jesaja en Hiskia: 2 Kon 1:20-34; Jes 37:21-35
Nog verdere geskiedenis van hierdie tyd: 2 Kon 19:35-36; 2 Kron 32:21-22.;
Jes 37:36-37; Ps 75 en 76; 2 Kron 32:23-30; 2 Kon 20:20; 2 Kon 20:12-19;
Jes 39:1-8; 2 Kron 32:31; 2 Kon 20:21; 2 Kron 32:32-33
Goddelose Manassa: 2 Kon 17:24-41; 21:1-9; 2 Kron 33:1-9; 2 Kon 21:10-15;
2 Kron 33:10; Jes 22:15-25; 2 Kon 19:37; Jes 37:38; 2 Kon 21:16; 2 Kron 33:11-17;
2 Kon 21:17,18; 2 Kron 33:18-20
Amon: 2 Kon 21:19-22; 2 Kron 33:21-24; 2 Kon 1:23-25
Gehoorsame Koning Josia: 2 Kon 21:24; 2 Kron 3:25; 2 Kron 34:1,2; 2 Kon 22:1-2;
2 Kon 23:25
Nahum:1: 1-3:19
Jojakim: 2 Kron 34:3-7 (Profeet Daniël in hierdie tyd ongeveer gebore)
Jeremia: 1:1-3:5; Sefanja 1:1-3:20; 2 Kon 22:3-20; 2 Kron 34:8-28; 2 Kon 23:1-3;
2 Kron 34: 29-32; Jeremia 3:6-6:30; 2 Kon 23:21-27; 2 Kron 35:1-19; 2 Kon 23:4-24;
2 Kron 34:33
Jeremia 7: 1-12:17
Babel word ‘n wêreldmag (volgende keer, DV)
- - - 0 - - -
= Moenie ongeduldig wees met die gesprek van ‘n dwaas nie, hy gee die beste wat hy het, en hou niks agter nie.
- - - 0 - - -
FIGURE UIT DIE KERKGESKIEDENIS (Luther, vervolg)
Die Roomse Pous het geld nodig gehad om hulle reuse gebou in Rome te voltooi.
Slim plan: verkoop “aflaat-briewe” aan die bygelowige volk. Daarvolgens kon mense geld betaal om oorledenes uit die “Vagevuur” te verlos. Dit is, volgens die Roomse, ‘n voorportaal van die hel, waar mense nog bietjie moet straf dra en betaal vir hulle sondes.
Onmiddellik het Luther reageer, en 95 stellings teen die Roomse dwalings opgestel. Dit het hy aangebring op die Kerkdeur in Wittenberg, Duitsland.
Tereg word gesê dat Luther se hamerslae deur die hele wêreld weerklink het.
Die Protestantisme het begin – die protes in alle lande teen die on-Bybelse en heidense Roomse leer. Tientalle Protestante is in die volgende 300 jaar deur die Roomse gemartel en vermoor, omdat hulle die Skrif eerder geglo het as die Pous.
Soos God Paulus wes-waarts gedryf het met die Evangelie, sou Hy dit nou ook weer doen. Eers het die Protestantse Nederland, en daarna ook Engeland veel groter dele van die wêreld bereik en oorgeneem, as die Rooms-gesinde lande.
Ons sien vandag nog die goeie gevolge, waar Protestante heers, teenoor die swak lewens in lande waar die Portugese en Spanjaarde oorgeneem het
Hoewel dekadensie wêreldwyd is, is die behoudende werk van die Protestante in hulle lande groot.
Oor Luther se veelbewoë lewe, sê ons nie verder meer nie, behalwe dat hy voortdurend vervolg is, maar vasgestaan het by sy geloof. Ons kan maar net stel dat God in hom die regte man op die regte tyd gegee het.
Mag ons ook in hierdie tyd van afval van die waarheid so vas staan. Laat dit wees met die woorde wat aan Luther toegeskryf word:
“Hier staan ek, ek kan nie anders nie, GOD HELP MY!”
- - - 0 - - -
= Moenie inmeng waar twee baklei nie. Hulle slaan mekaar net van èèn kant af, maar vir jou takel hulle van twèè kante af.
= Leen jou ore uit aan almal wat ‘n tong het, maar moenie jou tong uitleen aan almal wat ore het nie.
- - - 0 - - -
HANDELSMERKE
Hierdie stuk is `n verkorte vertaalde weergawe van `n e-pos wat Br Nico vd Dussen gestuur het. Dit is geskryf deur Neil Boorman, en die titel: “Bonfire of the brands”.
Die stuk begin met die volgende aanhaling:-
“In this secular society of ours, where family and Church once gave us a sense of belonging, identity and meaning, there is now Apple, Mercedes and Coke.
These brands offer us a set of beliefs and goals which we can aspire to.”
Oral om ons sien ons handelsmerke :flitsende neon, borde, en daar is etikette op ons klere, tekkies en alles wat ons hanteer.
Die skrywer stel dat hy verslaaf was aan “labels”.
Hy het uit sy pad gegaan om “die beste” te hê. (statussimbole).
As iets aangebied word, word, moet dit geborg word deur die bekendste make. Jy moet byhou om iets te wees.
Dit is nét Adidas, Technics, Budweiser, Sony wat tel.
Bekende maatskappye betaal onnoemlike bedrae om hulle naam op sportspanne se klere te kry. Ons word letterlik toegepleister met etikette. Daar is sekere handelsmerke wat díe onderste grens aandui, waaronder jy nie moet val as jy in tel wil wees nie.
Dit het die skrywer begin kwel.
Dit is bereken dat die gemiddelde mens in Engeland daagliks met meer as 3000 advertensie-boodskappe oorspoel word!
Jou selfbeeld (sê die advertensies) gaan ly as jy “minderwaardige” etikette dra.
Jy moet Reeboks dra en “Docs”. Die wyse waarop jy geld spandeer definieer jou. In 1899 het Thorstein Veblen al geskryf oor die “Theory of the Leisure Class”.
Kevin Roberts , van Saatchi & Saatchi, het die volgende gesê: “As groot handelsmerke wil oorleef, moet hulle lojaliteit skep. Die geheim daarvan is om misterie, sensualiteit en intimiteit te skep. ‘n Langtermyn emosionele band moet met verbruikers geskep word”.
Skrywer stel dat hy díe beloftes geglo het dat sekere handelsmerke hom meer aantreklik maak, meer suksesvol, gelukkiger. Tog het dit met tyd hom terneergedruk gemaak.
Hy het besef die handelsmerke het sy pyn veroorsaak. Vir elke nuwe statussimbool wat hy gekoop het en elke nuwe “uitbreiding” vir sy identiteit wat hy bygekry het, het hy iets van homself verloor.
Hoe kan dit iets vir hom doen? Dit is maar net handelsmerke!
Hy het besluit om daarvan ontslae te raak. Om geluk daarbuite te vind, sy regte “ek”.
Hy het ‘n Handelsmerk-vrye lewe begin. Hy moes liewer besluit wat hy nodig het, en níe wat hy “wil hê”nie. Noodsaak , eerder as status.
Dan sal hy dalk begin om stoflike dinge te beoordeel op die regte grondslag.
(N.S. Ek dink ek is op die regte spoor by Pepstores! - Ds Hennie.)
- - - 0 - - -
Die Ou Testamentiese Apokriewe (vervolg)
-Deur J.Boer (vertaal en verkort)
DIE BOEK VAN DIE OPREGTE:
Dit word nie genoem in art. 6, Nederlandse Geloofsbelydenis nie.
Daar word in Josua 10:13 en 2 Sam. 1:18 na hierdie bek verwys, as aanvullende en bevestigende getuienis. Die titel beteken eintlik “die juiste of ware verhaal.” Dit gee uitvoerige beskrywing van gebeure van die skepping af tot die verowering van Kanaän, wat in de Bybel slegs kort weergegee word.
Hierin word vertel dat Henog ‘n groot leraar was, nie net in die Wet van God nie, maar ook in ander wetenskappe. Daarin word vertel dat daar wel bekering was in sy dae, maar die goddeloosheid het later steeds meer geword.
Verder word van Noag se roeping vertel, hoe hy saam met Metusalem teen sy tydgenote profeteer het en 120 jaar gegee het vir hulle bekering. Intussen is die ark gebou en het die Sondvloed gekom. Metusalem sterf kort voor die Vloed. Hiervolgens sou Noag se seuns in opdrag van God met Metusalem se drie dogters getrou het.
Dan volg hoe die mensheid na die Sondvloed oor die aarde versprei het, oor hoe Nimrod oor Mesopotamië geheers het (die Babel-bouer) en van konflik tussen Abraham (en sy vader Tera) met Nimrod, oor Tera se afgode. Hiervolgens sou Nimrod die doodstraf oor Abraham uitgespreek het, omdat hy Tera se afgode met ‘n byl vernietig het.
Abraham sou dan aan die vuurdood ontkom het.
Daar volg ook geskiedenis van Izak, Jacob en Josef - met ‘n minder gunstige tekening van Josef. Verhale van Simsonkrag van Jakob se seuns word vertel, oor die onderdrukking in Egipte, oor Moses, die uittog uit Egipte en die woestynreis tot met die verowering van Kanaän.
Daar is oordrywings in die boek, waarskynlik met Joodse oorskrywing. Dit verswak die outoriteit van die boek. Die oordrywing was waarskynlik om Joodse patriotisme te streel, met aandik en dramatisering.
Hoewel vroom bedoel, kan die boek daarom nie as historiese geskrif tel nie, en dit het geen Goddelike gesag nie. Tog is dit die moeite werd om te lees.
- - - 0 - - -
Die volgende artikel het ek tussen ou papiere in die kerk se kluis ontdek.
Br Leonard vd Dussen het hierdie verslag jare gelede geskryf (Ds Hennie.)
KENNIS IS MAG.
VERSLAG OOR BESOEK AAN HATFIELD BAPTISTE TE GARSFONTEIN OP SONDAGOGGEND 24 AUGUSTUS 1986.
Ons het ongeveer ‘n halfuur voor die aanvang van die “erediens” by die kerk aangekom en is by die deur elkeen met ‘n handdruk en ‘n sagte “God bless you!” begroet. Binne in die kerk het ‘n gesellige atmosfeer geheers van mense wat vrolik met mekaar gesels, hoewel daar ook heelwat was wat verveeld rondgekyk het.
Die orkes het hul plekke op die verhoog gaan inneem en na die instrumente tot hul bevrediging gestem was, het die musiek begin:
Sentimentele kontemporêre musiek met ‘n “gospel” – inslag; trompette, viole, fluite, elektroniese orrel en dies meer.
Ongeveer nege-uur het die sangleier vanaf die kateder op die verhoog die samesang gelei. Woorde word op ‘n reuse elektroniese bord agter die verhoog getoon. Liedere is merendeels Engels en die woorde baie herhalend van aard. Tipiese frases soos “loof die Heer” en “We shall conquer” kom dikwels voor. Jesus Christus word besing as die onoorwinlike leidsman vir wie die wêreld verower sal word. Enkele mense het hul hande vorentoe opgesteek in meegevoel met hul sang.
Die liedere is soms vrolik en dan word daar ritmies saam hande geklap, hoewel dit soos die sang nie besonder entoesiasties gedoen is nie.
Na ongeveer ‘n kwartuur se sang het Ed [die hoof-pastoor] oorgeneem en die vers gelees waar God aan Josua die oorwinning oor Jerigo belowe (Josua 6:2). Hy verduidelik toe dat dit is hoe God Pretoria, die land en die wêreld in ons hand gee om dit vir Hom te verower.
Hy het vertel van die strategie wat hulle (die kerkleiding) beplan het in samewerking met die ander charismatiese kerke en het gevra dat elkeen nou moet uitgaan om die stad te verower sodat God se Koninkryk gevestig kan word.
Daarna het verskeie pastore getuienisse gelewer oor verskillende sake soos die noodsaaklikheid om die Heilige gees te ontvang, om weg te doen met rasse-onderskeid en die noodsaaklikheid van kerkeenheid.
Een het sy getuienis in ‘n eentonige sangstem gelewer.
Vervolgens is al die streke se pastore vorentoe geroep om die groot aantal nuwe pastore (deel van die nuwe oorwinningstrategie) in te seën. Ed het egter gevra dat die twee hoofstreekleiers van Pretoria hom die hande oplê en God se seën oor hom uitspreek alvorens hy hulle die hande oplê. Hulle het dit so gedoen waarna hulle weer voor hom geniel het en geseën is.
Vervolgens onder sagte sang van die gemeente met orkes se begeleiding, is die nuwelinge een vir een lank omhels en sterkte toegewens. Toe dit so halfpad klaar was, het ons vertrek; na ‘n uur en ‘n half.
Daar was geen sprake van ‘n erediens nie. Mens-tot-mens-verhoudinge is geweldig beklemtoon. Ed het self groot gewag gemaak van die feit dat juis hy geroep is as leier van die nuwe oorname van die stad en die land vir God, en het sy besondere talente om dit te doen, beskryf.....
Geen lid van die JJ.V. was huiwerig om te loop toe een die voorstel maak nie. Dit was tekenend van die gevoel wat mens kry dat jy nie daar hoort nie, dat God in waardigheid en heiligheid binne die vaste norme van sy Woord en die tydbeproefde tradisies en gewoontes van die Christelike kerk gedien moet word.
- - - 0 - - -
TWEE KANTE VAN ‘N SAAK
Met die sprake van olie wat opraak, wil olie-lande soveel moontlik geld maak. Petrol-pryse wat styg, laat outomaties alles styg.
IS PETROL EGTER WERKLIK SO DUUR?
Die volgende e-pos laat mens nadink......
Dieet-Coke, 100ml @R2.80 = R28.00 per liter!
Lipton ys-tee, 200ml @ R3.50 = R17.50 p/l.
Amstel 750ml @ R9.50 = R12.60 p/l
Energade 250ml @ R3.00 = R12.00 p/l
Remvloeistof 100ml @ R6.00 = R60.00 p/l
Vicks neus-sproei 50ml @ R9.00= R180.00p/l
Hugo bos-sprei 50ml @ R225.00= R4500.00p/l !!!
Wat betaal mense vir die “spesiale” botteltjies water?
500ml @ R15 @ R30 p/l (vir water)
Die e-pos sê dan pittig:
Volgende keer wat jy by ‘n pomp stop, wees bly jou motor loop nie
op een van hierdie duur produkte nie.
Dan sluit dit af: As jy nie hierdie informasie verder aangee nie, gaan jy ‘n pap wiel kry!
- - - 0 - - -
HELP !
(Ds Hennie)
Tannie Marietjie Fourie het vir lank kos vir die Danville Projek elke Woensdag gaan haal by Uitkyk Vleismark in Silverton. Sy bly egter nou baie ver, en ek het die takie oorgeneem.
Daar is egter ses-weke per jaar wat ek weg is, en ek vra weer asb vrywilligers om net daardie paar kere te help.
As daar Ses gewilliges is, is dit net een maal per jaar wat elkeen hierdie stukkie werk hoef te doen
Skakel my asseblief !
Met my langverlof, einde September, het ons iemand nodig vir 26 September, asook 3, 10 en 17 Oktober.
- - - 0 - - -
Die “sleutel van die kennis” (Luk 11:52) en die Psalmomdigting 2001
Die valse eksegese (Skrifverklaring) van die Joodse teoloë
- Prof VE D’Asonville -
Dit is Jesus Christus wat van “die sleutel van die kennis” in die Kerk praat. Ons lees dit in Luk. 11:52:
“Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder”
Dit was die hoogtepunt van ‘n verdoemende reeks herhalings van “wee julle” oor die Fariseërs en Wetgeleerdes. Hulle was die toonaangewende teoloë van destyds.
En is daar ooit ‘n groter woord van vervloeking as die “wee hulle” wat kom uit die mond van Jesus Christus? Dan kom die lewe tot stilstand. Daar is geen uitkoms meer nie. Alle deure word toegesluit. Die kerk word pikdonker met die Bybel en al. Geen redding vir die sondaar meer nie.
Hierdie “wee julle” wat Jesus uitspreek is die teenoorgestelde van die “salig is hulle” in dieselfde hoofstuk:
“Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar” (Luk. 11:28).
Vreeslik is die oordeel oor die mens wat “die sleutel van die kennis” wegneem. Soveel verskrikliker word dit as die kerkleiers (teoloë) hierdie sleutel uit die kerk verwyder! Dit was die groot misdaad van die Wetgeleerdes.
Hierdie manne met al hulle Bybelkennis gaan self nie die Koninkryk van God in nie, maar hulle versper ook die pad vir die ander wat wil ingaan – juis vir die arme, verlore sondaars . Die sleutel wat hierdie Koninkryk moet oopsluit, word verwyder. Met die Heilige Skrifte in die hand, verwerp hulle die Seun van God. Met al die wetskodes en reglemente waarmee hulle die orde wil handhaaf, word die evangelie van genade uitgeban.
Jesus Christus is die sleutel
“Die sleutel van die kennis”...Wat is dit? Dit is die kennis van God in Jesus Christus en sy Woord. Dit is die enigste ware “teologie”. Met hierdie kennis word die Koninkryk van God oopgesluit. Dit is die enigste suiwer, ware Skrifuitleg waarvan Jesus Christus die INHOUD is. Hierdie saak is so allerbelangrik dat die apostel Petrus aan die kerk skryf:
“Julle moet veral dit weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet.1:20).
Juis die hele Ou Testament verkondig Jesus Christus. Hy, ons Verlosser, sê dit oor en oor aan die Skrifgeleerdes en ons:
“Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het, en dit is die wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie”
(Joh.5:39-40).
“O, onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!....En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Luk.24:25,27).
“Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in Moses en die profete en die psalms vervul moet word.” (Luk.24:44).
Sonder Christus, geslote kerkdeure
Met die sleutel Jesus Christus staan of val die kerk – ook ‘n gereformeerde kerk. En hierin is Christus se uitroep van “wee julle” vir ons ‘n aangrypende waarskuwing. Met die volmaakte Bybel en die mooiste digwerk in die psalms en ook die Dordtse kerkorde in die hand, kan die deure van God se Koninkryk steeds toegesluit bly. Met die roemrykste tradisies en ‘n effektiewe “gereformeerde” sisteem, kan sondaars voor geslote poorte staan – want iemand in die gemeente het die sleutel weggegooi.
Die Wetgeleerdes (teoloë) het die wet geken. Hulle besit die teks van die ou Testament. Die Joodse Talmoed (tradisies, sedelesse ordereëlings, “sinodebesluite”) is altyd byderhand. Die struktuur van hulle godsdiens om die artikels van die wet na te kom, is presies uitgewerk. Aan die buitekant van hierdie “kerklike struktuur” is die beker en die bord skoon, maar, so sê Jesus aan hierdie teoloë, “van binne is julle vol roof en boosheid” (Luk.11:39)
Die Nuwe Psalm-omdigting 2001
Hoe is dit tog moontlik? Die Christus profesieë is uit die Nuwe Psalmomdigting van 2001 “verwyder”. So het die digter van die Psalm-omdigting dit in die Sondagkoerant, Rapport van 4 November 2001, aan ‘n joernalis vertel. Hy vertel van die “Messiaanse verwysings in sekere psalms wat nou op grond van nuwe navorsing verwyder is” (p.25)
Behalwe die “verwydering” van die Wet (bv. Ps 1) en die Verbond (bv. Ps 25) op plekke uit die psalms, weet ons dat die verwysings oor Christus o.a. uit die volgende berymde Psalms met opset weggelaat is:
Psalms 2;7, 22:8, 22:17b, 22:23, 22:24, 31:6, 37:11, 41:10, 45:7, 47:6, 67:3, 68:19, 69:10, 82:6, 89:13 en 110:1
Oor Psalm 110 het die digter in Die Kerkbode van 13 April 2002 verklaar dat hierdie Psalm “volgens my teologiese adviseurs.... nie ‘n Messiaanse Psalm” is nie. Gereformeerde teoloë?
Het hulle nie hulle Bybels gelees nie of was dit moedswillig? Die dwaling is oorstelpend. Psalm 110 word ten minste 13 keer in die Nuwe Testament direk op Jesus Christus toegepas; ook deur Jesus Christus self om sy godheid teenoor die Fariseërs te bewys (Mat. 22:44; Mark.12:36; Luk.20:42). Psalm 110 is vir Petrus op die Pinksterdag die bewys dat Jesus Christus die heilige Gees uitgestort het (Hand.2:34).
Die sleutel van die kennis uit die Psalms weggeneem
Dit is ‘n meedoënlose feit: Die Nuwe Psalmomdigting 2001 het Christus uit die Psalms verwyder. Die digter vertel dit self en ons kan dit bewys. En nou?
Wie kan dit met ‘n vrye gewete in die kerk sing? Hoe is dit tog moontlik dat die sinode besluit het dat ons in die eredienste Psalms sonder Christus moet sing? En ook die kinders by hulle katkisasies moet sulke Psalms leer. En ook by ons huisgodsdiens! Die sleutel is weggeneem. Die deure van God se koninkryk word toegeslaan.
“Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Mat.10:34).
“Elkeen wat hom vir My en My woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Markus 8:38 en Luk 9:6).
- - - 0 - - -
Friday, August 3, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment