12.`N ANDER HEERLIKEID
LEES: Johannes 2:6-11
Die “heerlikheid” van selfs die mees uitstaande mense is maar AFGELEIDE heerlikheid.
Almal werk tog met talente wat hulle van God ontvang het.
Die mens het met die Sondeval die heerlikheid VERLOOR
waarin hy oorspronklik geskape is.
Die dinge wat die mensdom gewoonlik raaksien en prys, is baiemaal maar erg misplaas. Ons meet mekaar slegs aan dinge soos prestasie in werk, sport, gewildheid, skoonheid, grootte van huise, blink motors of stywe bankrekenings, ens.
WêRELDSE VERERING IS OP WêRELDSE DINGE INGESTEL.
Christus openbaar aan ons `n ander heerlikheid in Sy prediking, werk en wonders.
DIE TYD EN PLEK VAN SY EERSTE WONDER
Dit was besonder, en met `n doel gekies.
Jesus gebruik `n alledaagse geleentheid, `n troue, daarvoor. Hy doen hierdie wonder tussen gewone mense.
Daarmee wys Hy dat Hy nie by ons verbygaan in die gewone, daaglikse gang van ons lewens nie. Niks wat ons raak gaan by Hom verby nie.
Vir alles het ons Sy seën nodig.
OOK IN DIE GEBEURE LEER HY ONS
Hy betoon Hom as soewerein en onafhanklik. In Sy werk vir die uitverkorenes laat Hy Hom deur niks bind nie.
SY HEERLIKHEID verhef Hom bo die gewone bande wat mense bind. Selfs sy menslike respek en eer vir Maria maak plek vir Sy majesteit, as Hy Sy werk uitvoer. Daarom sy antwoord aan haar.
SY ABSOLUTE MAG toon Christus vir die eerste keer by hierdie troue in die dorpie Kana, as Hy water in wyn verander. En Hy toon daarby sy volmaakte liefde.
Hy het gekom om alles te herstel.
As ons in Openb 21:5 lees dat God sê:”Kyk, Ek maak alles nuut”, weet ons dit is gegrond op Christus se oorwinningswerk.
Christus het ook ons siening van wat heerlik en goed is kom regstel. Hy leer ons wat uitstaande en aanvaarbaar voor God is. Deur Sy gehoorsaamheid aan die Vader het Hy ons ander, hoër waardes kom leer.
Ons ag nou ander dinge as heerlik, as wat die gewone aardse instelling is.
Sy ONGEBONDENHEID deur gewone bande het ons nie losgemaak van ons bande nie –
Deurdat Hy nie `n woonplek gehad het nie en
-2-
deur Sy verlatenheid van God en mens aan die kuis, het Hy juis ons bande kom herstel.
Dit geld vir ALLE bande – ook die huwelik, wat Hy in sy ereplek verhef het. Daarom gebuik Hy juis `n troue om daar vir die eerste keer Sy heerlikheid aan die dissipels te openbaar.
VERSKILLENDE MENSE HET OP VERSKILLEND MANIERE OP HIERDIE WONDER REAGEER:
= By sommiges was daar net verbasing – verwondering – en daarmee
Klaar. Dit was die geval met die skinkers.
= By ander was daar net genieting, sonder verdere navraag.
= Maar dan was daar die dissipels en ander soos hulle ! By hulle
is daar die fondament gelê van `n verdiepte, stewiger geloof in
Jesus.
Die wyn by Kana sou opraak en mense sou waarskynlik gou vergeet daarvan. By die wat Jesus se wonder egter IN `N WARE GELOOF ervaar het, sou daar iets bly wat hulle altyd kon saamdra: geloof in Sy Goddelike mag.
HULLE HET NIE BLOOT DIE GAWES GENIET NIE, MAAR DIE GEWER DAARVAN NIE VERGEET NIE.
As dit ook in ons lewens die geval is, geld die woorde van Joh 1 ook vir ons, DAT ONS SY HEERLIKHEID AANSKOU HET.
Natuurlik moet ons nie altyd net op soek wees na wonders nie, wat ons moet doen, is om te bly in die geloof in die Wonderwerker. Ons ken Christus se heerlike verhoging aan die regterhand van die Vader en ons ervaar sy liefde in alles wat oor ons kom.
VEEL EN GROTER wonders sou nog volg op hierdie een te Kana, en ons sien uit na `n heerlikheid met Christus se Wederkoms, wat in geen mens se gedagtes eers kan bestaan nie.
ALLE DINGE SAL IN HEELIKHEID HERSTEL WORD !
Bedink daarom ons HERE Christus se heerlikheid met groot erns en sonder ophou.
Alles wat die Bruidskerk deur die eeue belewe is deel van die UITWERKING van die heerlikheid wat God ons in Christus gee. Dit sal VIR EWIG wees.
Die gelowiges sal verheerlik word, soos wat die mens voor die Sondeval was. Ons sal op die laaste dag in volmaaktheid opstaan uit die dood.
Ons sal dan as konings die opdrag van God aan die mens volmaak kan uitvoer.
DIT ALLES KRY ONS UIT GOD SE GENADIGE VERKIESING.
DIE WONDERGEWER VERRYK NOU REEDS ONS LEWENS DEUR DIE GELOOF, MAAR DAN SAL GELOOF OORGAAN IN AANSKOUING !
Amen.
Sunday, August 26, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment