8.TOT WAAR LAAT GOD GESAG STREK ?
LEES: Prediker 8:1-10; Rom 13:1-7; Kategismus Sondag 39
TEKS: vers 8(b)
Gehoorsaamheid aan gesag is gehoorsaamheid aan God
Mens kan dadelik stel dat die meeste mense werklik in `n groot mate wetsgehoorsaam is. Ons is immers voortdurend besig om te voldoen aan reëls, regulasies en wette …. of dit nou van die staat is, of van organisasies waaraan ons behoort, of sportklubs, op skool, by die werk, op pad, tuis.
Maar dit bly tog `n groot vraag in hoe verre ons aan die wese van die vyfde gebod getrou is.
IS ONS DUS GETROU AAN GOD ?
Wat kan ons sê is DIE WESE van die 5e gebod ?
Dit leer ons duidelik in die Nuwe Testament: dat ons moet gehoor-saam wees SOOS AAN DIE HERE – - LIEFDE TOT GOD ! Ons moet doelbewus gehoorsaam wees aan DIE HERE se eis tot gehoorsaamheid.
As ek gesag eerbiedig, eerbiedig ek God !
Dit is dan die wese, of grond, van die gebod. As ek die grond ken, beoefen ek dit getrou.
Met die 5e gebod begin die tweede tafel van die Wet: dat ek my naaste so lief moet hê soos myself.
Wat Gods Woord nou aan ons gewetens vra, is: beoefen ek hierdie liefde ? …. omdat ek God liefhet ?
Aanslag van die Bose op gesag
Ons weet al hierdie dinge wat reeds gesê is.
Maar besef ons, dat die tweede ding wat hier ter sake is, is dat Satan steeds met sy voortdurende aanslag teen GESAG besig is ?
Steeds ? Ja !
Hy het daardie aanslag al in die Paradys begin, toe hy Eva laat rebelleer het teen God se bevel. Sy het hom geglo dat DIE HERE hulle ten onregte weerhou van die aanloklike vrug van die boom van kennis van goed en kwaad.
As vader van die leuen, is Satan ook vader van die opstand teen God se gesag,
Dit is daarom nie verbasend dat die tweede tafel van die Wet juis begin deur orde en gesag te beveel nie.
Saam met die opstand teen God se gesag,het die mensenatuur verander van gehoorsaamheid na onverdraagsaamheid teenoor gesag. Die liefde tot God het verander in haat van Sy bevele. Die liefde vir orde het verlore gegaan.
Outomaties is die liefde vir die naaste ook weg.
Dit is nie verniet dat God met die gebod die gesin gebruik as wegspringplek nie.
-2-
Die ouer-kind verhouding is die begin van `n mens se leerskool.
Uit die res van die Woord is dit egter duidelik dat ALLE gesags-verhoudings hiermee vasgevat is. Dit is die gebod vir owerheid en onderdaan.
In Christus se Bergpredikasie (Matt 5-7) kan ons stel as die Grondwet van die Koninkryk. Daarin leer Hy dat Hy nie gekom het om die Wet van God op te hef nie, maar om dit te vervul !
Hy leer ons dat ons onderhouding van die Wet strenger moet wees as die van die Fariseërs. Die Fariseërs het voorgegee dat hulle die Wet so nougeset hou,
Maar hulle leer was niks anders as OMSEILING van die Wet nie !
Om ware Koninkryksburgers te wees, het ons Koninkryks-GEHOORSAAMHEID NODIG.
Erkenning van gesag is die eerste gebod oor ons verhouding van liefde teenoor ons naaste.
Ons kyk vervolgens na (1) die REDE en (2) die DOEN van die 5e gebod.
1.DIE REDE/grond vir ons naasteliefde
In die Woord Hy leer ons om die lieflike VERSKEIDENHEID in die skepping raak te sien.
Dit beteken dat ons moet besef daar is ook ONGELYKHEID en ver-skeidenheid onder mense, al is ons almal voor God GELYK.
Ongelykheid is deel van die verskeidenheid. Ons het ook `n roeping om die mensheid te leer wat God bedoel met gesag.
Van die tyd van die Franse Rewolusie af het die humanistiese idee dat ALMAL GELYK IS met rasse skrede vooruit gegaan. Satan se doel daarmee is om respek vir gesag af te breek.
Hierdie “gelykheid” het slagspreuk geword vir almal wat selfs massas mense gelyk wil gebruik om vir hulle self en hulle ideologie mag in te palm. Wanorde en onmin word gesaai.
Die vaders van die kommunisme het hulle beywer om minagting vir gesag wêreldwyd te saai. Hulle het gestel dat `n land wat nie meer sy gesagsfigure vertrou nie “RYP IS VIR DIE REWOLUSIE”.
Wat hulle nie besef nie, is dat hulle ideologie BOEMERANG !
Is ons 2007-regering nie besig om met die reuse-stakings terug te kry wat hulle die mense geleer het, toe hulle self die mag wou kry nie !
Kom ons vergewis ons eerder met WAT GOD ONS LEER, en die rede/ wese van die Gebod oor gesag.
Hy het nie net mense naas mens gestel nie, maar ook mense oor mense. Die ongelykheid/verskeidenheid word van die begin af selfs in die huwelik gestel: Na die sondeval sê Hy dat die man oor die vrou sal heers.
Verder leer ons in die Woord van talle ongelykhede: kinders onder ouers se gesag; heersers en onderdane; meesters en slawe ( hoewel
-3-
slawerny as sulks nie goedgepraat word nie ).
Vanuit die gesinskring word geleer hoe die hele lewe sal wees: gesag, onderdanigheid en gehoorsaamheid is nodig vir `n ordelike lewe.
Daar is regerings, besture, komitees, direksies, range en oral is daar gesagstrukture. Gesag word gehandhaaf deur verkeers- en ander polisie, magistrate en regters, hoofmanne, vooritters, prefekte, skolierpatrollies en leerlingrade.
Te veel om te noem !
God het gesag ingestel ter wille van orde, tot welsyn van die mensheid.
In 2 Thess 2 hoor ons van `n veel hoër doel van orde en gesag: God gebruik dit om die koms van die Antichris teen te hou !
Van kleins af leer ons gesag ken, en soos mens groter word, word hierdie dinge en hulle verpligtinge al hoe meer ingewikkeld.
Om gesag te ontken is sonde !
2.DIE DOEN VAN DIE GEBOD
Let daarop hoe beoefening van die 5e gebod saamhang met die volgende gebooie:
= Hoeveel oortredings teen gesag en wet lei nie tot oortreding
van die sesde gebod nie: haat, wraak en MOORD ?
= Hoeveel gevalle van ontrou, egbreuk en skeiding het nie te doen
met `n ontkenning van gesag of die verkeerde uitoefen daarvan
nie ? (Sewende gebod.)
= Dit geld net so by die oorsake van diefstal en oneerlikheid.
( Agste gebod.)
= Valse ede, leuens en ligvaardige oordele is oortreding van die
negende gebod, en staan dikwels direk teenoor gesag. Ons slegte
begeertes wat ons najaag (tiende gebod) weerstaan dikwels die
wette wat ons naaste moet beskerm.
En al hierdie dinge begin by die erkenning van God se gesag.
Hy stel die menseverhoudings daar van man/vrou, ouer/kind, rege-ring/onderdaan, werkgewer en –nemer, bestuur en lede, polisieman/
en wetsgehoorsame, kerkraad en gemeente ens., ens.
Oral het ons te doen met naastes wat God bo of onder ons gestel het.
Van kindsbeen af ontgroei ons sekere verhoudings, soos die teenoor ons ouers of onderwysers, maar ons groei weer in ander in. Tog kan die eerbied en liefde bly bestaan.
Ons eie gesag kan groei, soos by bevordering, maar dit verander nie aan die beginsels wat God beveel nie.
`n Verdere ding wat ons nie mag vergeet nie, is dat ons almal vol sondes en gebreke is.
-4-
GEDULD met mekaar se tekortkominge is ook God se wil – of dit teenoor `n meerdere of mindere is !
Elkeen moet die posisie wat hy of sy beklee, met eer vol staan. As mindere moet ons ons taak volbring en as meerdere.
Die naasteliefde moet ander aanspreek.
Gesag mag nie deur ons in oneer gebring word nie, en ons kan ondergeskikte posisies met eer beklee.
So kan `n goeie sersant meer vir manskappe beteken as `n offisier wat met oneer in sy posisie staan. Omgekeers ook: `n goeie meerdere kan die minderwaardige optrede van `n mindere tot niet maak.
Oral beteken regverdigheid, liefde en erkennning meer as enigiets anders. Opregtheid en vertroue bou op ! Liefde vir die waarheid moet vertroetel word.
Eerbaarheid beteken dat mens jou taak volbring,al is jou meerdere se oog nie op jou nie. Dan hoef `n meerdere nie sy mindere te beswaar nie.
Koning Dawid se seuns dien vir ons as voorbeeld van mense wat nie ouerlike of staatagesag geëer het nie.
3.TOT HOE VER STREK GESAG ?
Mens hoor in die Bybel van opstand en teenstand teen owerhede, ten spyte van die vermanings om gesag te respekteer.
Die Apostels het gelewe in die tyd van heidense Romeinse keisers, en tog geleer volgens Rom 13 – gee “eer aan die wat eer, vrees aan die wat vrees toekom.”
Ook: bid vir die owerhede.
Die Hervormer Johannes Calvyn se voorrede aan sy Institusie was gerig aan die Franse koning, wat die dood van duisende Hugenote op sy gewete gehad het. Tog was hierdie voorrede met `n erkenning van die gesag van die koning geskryf.
Is daar `n lyn wat ons kan trek, waar ons gesag teenstaan ?
Hier is ook `n duidelike riglyn. Petrus en Johannes se antwoord aan die Sanhedrin was dat hulle God meer gehoorsaam moet wees as mense.
Die Joodse raad het hulle verbied om Christus te verkondig, maar die Apostels het voet neergesit: tot hiertoe en nie verder nie !
Christus het ons voorgegaan in die erkenning van die owerheid: “betaal aan die keiser wat aan die keiser toekom.”
Maar BO dit staan Jesus se woorde: “… en aan God wat God toekom.” DIT STAAN EERSTE !
-5-
Nou lewe ons dag vir dag met God se 5e gebod: eer en gehoorsaam.
Hoe doen ons dit ?
Op duisende maniere !
Ons gehoorsaam soveel ordelike riglyne. Ons stop by `n stop-straat. Ons hou (hopelik) snelheidsreëls. Ons is (glo ons) eerlik met die invul van belastingvorms. Ons hou by die regulasies van dosyne dinge, en ook by statute en reglemente.
Ons moet in al hierdie dinge ons oog na BO hou, op Christus, wat die Wet van God vir ons vervul het, sodat Hy ons skuld voor God kon betaal.
Hy het volkome gehoorsaamheid uitgelewe, om ons ontwil. Nou leer Hy ons dit ook: Koninkryk-gehoorsaamheid, Ons optrede moet ander wys op ons hoër gehoorsaamheid.
Ons optrede moet verkondiging wees van liefde vir orde en vrede.
Daarom moet ons die tree na opstand en teenstand slegs in die uiterste omstandighede gee:
Die vraag moet bly: Is ons God gehoorsaam ?
Is alles moontlik gedoen op `n pad van
vrede ?
Is daar geen ander weg oor nie ?
Is ons optrede fanatisisme, of ordelik
en wyslik ?
So sal ons voor God se troon met verantwoording kan staan.
Vir ons bly gebed en berusting, vredigheid en liefde bo alles.
Laat ons die liefde vir orde en gesag nooit verloor nie ! So werk ons mee in die teenstand teen die donker koninryk van die duiwel, en dien God met ons hele hart, siel en kragte.
AMEN.
- - - 0 - - -
Monday, July 23, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment