Thursday, July 19, 2007

7.DIE RUSDAG IS `N BESONDERE DAG

LEES: Exodus 31:12-18; Heidelbergse Kategismus Sondag 38
TEKS: Exodus 20:8-11

Die hele wêreld hou by die week, soos God dit ingestel het. Almal se kalenders is so ingerig !
Al het die meeste mense net `n vyfdag-werkweek, `n week bly `n week !

Die bestaan van die week is `n stille getuienis, of mense dit nou wil weet of nie wil weet nie.

Hierdie instelling van God het tot die verste heidense lande deurgedring, deur die verspreiding van die Christendom, met die tyd van die kolonialisme. Westerse nasies het die grootste deel van die wêreld of regeer of beïnvloed.
Dit bly `n seën vir elkeen wat die oë en ore het daarvoor.

Selfs toe in die begin van die ou kommunistiese Rusland gepoog is om met die Rusdag weg te doen as gevolg van die Christelike kon-notasie daarvan, het hulle gou gesien dat die mense hierdie rus nodig het. Die God-ingestelde afwisseling van werk en rus MOET bly.

Dit is omdat wat God in die mens en Sy skepping ingebou het, so kragtig is. Hy het selfs rus vir ons bepaal.
In Ex 20 verbind Hy die Sabbatsgebod met Sy skeppingswerk – ses dae werk en een dag rus. Waar Moses die Wet herhaal (Deut 5), verbind Hy hierdie gebod ook met Israel se redding uit Egipte: Die Rusdag spreek van VERLOSSING …. Ook rus van die kwaad, die sonde.

Hy gee hierdie gebod met besondere redes: Naamlik dat die dag in Sy diens gebruik word. Hy gee dit ook ter wille van ons, en daar word `n opdrag hiermee verbind.
1.TOT EER EN DIENS VAN GOD

Dit is opmerklik dat die opstellers van die Kategismus alle vrae vermy het oor wat nie mag nie, en stel wat MOET.
Die dag gaan om die diens van God deur die gelowiges. Die Skepper van alle dinge, die Allerhoogste eis Sy eer en diens op.
Daarom moet die eredienste op hierdie dag onderhou word.

Ons HERE gee orde vir ons indeling van ons tyd.
Sy rus na die skeppingswerk is egter nie ons soort rus nie. Hy het steeds Sy hand aan die skepping gehou. As Hy dit een oomblik sou wegneem, sal alles in chaos verval.
Dit was dus nie `n ONAKTIEWE rus nie. God sluimer of slaap nie (Ps 121). Dit was `n gerigte rus.

In die Ou Testamentiese tyd het Hy hierdie rus bepaal vir die sewende dag.
Christus het die Wet vir ons vervul – ook in die hou van die vyfde gebod. Deur Sy oorwinningswerk begin Hy nou `n nuwe tydperk. Deur Sy Apostels en die eerste Christene het die eerste

-2-

dag van die week nou Rusdag geword …. Die dag van Sy opstanding uit die dood.
In plaas van die week af te sluit met die dag aan God gewy, BEGIN ons week nou daarmee.

Sien ons HERE se barmhartigheid hierin: Hy stel dat ons werksdae nou gerig word vanuit ons diens aan Hom op die eerste dag. Ons moet die dag wy aan diens van God, dit afsonder vir Hom, wat ons ook in die ander dae dra en bewaar.
Vir ons is Christus se opstandingsdag die eerste dag, nie net van die gewone week nie, maar van ons ewige rus. Hy het die ingelei. Nou kyk ons vanuit ons Rusdag vooruit na die ewige Sabbatsrus, na die “werkweek” van hierdie lewe.

Die Kategismus noem `n volgende taak wat uit hierdie gebod voortspruit –
Dit word so gestel: ons moet “die skole onderhou”. Hiermee word bedoel dat dit wat vir ons so belangrik is vir die Rusdag, die verkondiging van die Woord, moet onderhou word.
Hoe ? Deur die opleiding van Woordverkondigers !
Die predikking moet onderhou word. Die Woord moet suiwer uitgelê en toegepas word op ons lewens. Hierdie gebod moet ons dus elke Sondag wanneer ons dit aanhoor herinner aan die BELANGRIKSTE OPDRAG VAN CHRISTUS:
Gaan verkondig aan alle nasies !

Ons moet n
ie net hierdie opleiding onderhou nie, maar toesien dat dit SUIWER is. As dit nie so is nie, HOE kan die gemeentes opgebou word in `n ware geloof ?

Hierdie is `n belangrike taak in ons eer van die HERE.

Ons mag die Rusdag nie verwaarloos nie en ons mag nie die opleiding verwaarloos nie.

2.VIR ONS WELSYN

Ons het ook rus nodig, in die gewone sin van die woord. Daaroor sal niemand stry nie. So moes die Russe eers uitvind nadat hulle `n sewedag werksweek probeer het.

Maar daar is veel meer in hierdie gebod.
Dit gaan om ons geestelike welsyn !

Op die Rusdag met alles wat maar kan, tot stilstand kom, want die dag moet afgesonder word aan die diens van Die HERE.
Saam met die ander gelowiges moet byeengekom word, soos die Hebreërskrywer dit stel: die mense moes nie die onderlinge byeenkomste nalaat, soos sommiges die gewoonte gehad het nie. (Hebr 10:25.)
Ons moet ons dan toespits op omgang met God, veral in die amptelike erediens, en dit moet deurwerk na ons werk en aktiwiteite in die week.

Ons vind hieruit:
-3-

= Ons moet elke dag van al ons bose werke rus.
= Ons moet die eredienste bywoon, waar God die Heilige Gees deur
die prediking in ons harte werk.
= Ons begin die ewige Sabbat reeds in hierdie lewe.

Die heiliging van die dag aan Die HERE werk heiligend deur in ons lewens !

Ons moet die Hebreeus waarin die Wet oorspronklik geskryf is, nie verdraai nie. Wat in die ’33-Vertaling met “gedenk” vertaal is, gee die bedoeling van God beter deur, as die “sorg dat jy …. die Sabbatdag hou” van die nuwe vertaling.
Om maar net te “sorg” verswak die verbinding van hierdie woord met die HEILIGING. Toewyding word daarmee bedoel. Hoe diep-ernstig kan ons nie die mens-ingestelde Geloftedag hou, terwyl ons die God-ingestelde Rusdag met mense-redenasies al minder ag.

Die woord “dag” word hier gebruik in die sin van DAAGLIKS, of voortdurend. So moet ons toewyding op hierdie dag altyd met ons bly.
Met “Sabbat” word nie maar net `n ruspouse bedoel nie. Dit is heilig aan Die HERE. Die heiliging maak wel nie `n afgodjie van die dag (soos by die Fariseërs) nie, maar ons moet ons toewy …. die dag heilig.

3.DIE RUSDAG-GEBOD IS OOK `N WERKGEBOD

Die rus van die Rusdag is verder gerig as net op een dag van die week.
Ons het reeds daarop gewys dat dit wat ons dan doen moet deurwerk na die res van die week.

God het aan die mens by sy skepping `n werkoprag gegee. Ons moet die skepping bewerk en bewaak. Werk is `n voorreg en genieting.
Die vyfde gebod BEGIN met die bevel om te werk. Hier beteken die Hebreeuse woord: deeglik,voltooid doen. AL jou werk.
Jy moet voorsien.


As ons al hierdie positiewe betekenisse van die gebod werklik begryp en uitleef, hoef ons nie te verval in allerhande spitsvon-dige praatjies oor wat mag en nie mag op Sondag nie.
Die Fariseërs het wet op wet gemaak en elke moontlikwe situasie bespreek oor die Sabbat. Uiteindelik het hulle spekulasies uitgeloop op allerhande gebruikies waarmee hulle die Sabbatsgebod kon omseil !

Ons moet nie dink dat ons daaraan ontkom het nie. Selfs vandag word steeds aan die heiliging van die Rusdag geknaag op sinodes.

As ons egter toegewyd bly sal ons net altyd weer belewe hoe STANDVASTIG die gebooie van God is.
Tye kan maar verander, maar die Wet bly altyd toepaslik.

As “die tye” nuwe eise stel, geld God se Wet steeds daarvoor.

-4-

Ons moet nie God se gebooie verswak om by ons aan te pas nie.

Laat ons die Rusdag met toewyding en eerbied gedenk en daarmee gehoorsaam bly.

As Deut 5 hierdie gebod ook verbind met die Uittog uit Egipte, is dit vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges ook toepaslik:
Israel se verlossing uit die slawekettings was een groot profesie van Christus se werk. Hy het ons uit die slawekettings van Satan en die sonde bevry.
Nou is Hy met ons op `n ewiheidspad, na ons ewige Sabbatsrus.

Ons rus hier moet `n aktiewe rus wees. Diens van God ! Dan is ons werk elke dag ook `n rus-in-God.

Christus is die rus-Bringer, in Wie ons opnuut elke week begin.

AMEN.

- - - 0 - - -

No comments: