Wednesday, July 11, 2007

5. BY DIE VADER

LEES: Hebreërs 2:2-18

Selfs vir die kleinste dinge kan mense iemand nodig kry om bemiddelend op te tree. Mense soek na iemand om `n saak namens hulle te stel – gewoonlik `n sleutelpersoon.
Dink bv aan die boek Ester, hoe sy namens die volk Israel toegang gesoek het by die koning, om die volk te red van `n volksmoord.

Ook op geestelike gebied soek die mensdom al eeue lank na ander, wat vir hulle kan intree by bonatuurklike magte, bv by hulle afgode of voorvaders, Dit is waarom alle afgodsdienste waarsêers, fortuinvertellers, spiritualiste, toordokters of priesters en ander persone het wat namens die mense intree.
Die bonatuurlike magte moet hierdeur in `n goeie stemming gehou word. Daarvoor betaal mense graag.

Wat leer die enige, ware en ewige God ons in Sy Woordopenbaring ?

Daar is geen ander Middelaar nie, geen ander om by die Vader te kom nie, as deur Jesus Christus. Geen heilig-verklaardes deur `n kerk en ook nie Maria, die moeder van Christus in aardse sin, kan vir ons intree nie. Hulle het almal ook Jesus nodig, as ons enigste Voorspraak.

Hebr 2 leer ons hieroor:
1. Dit is hiervoor dat Christus gekom het.
2. Hy is daarvoor verheerlik.
3. Alles kom alleenlik deur Hom.

1.CHRSTUS HET HIERVOOR GEKOM

Waarvoor ?
Om ons met God te versoen.
Hy kon dit doen, omdat Hy waaragtig mens geword het. Ook was Hy sondeloos. `n Sondige mens kan nie eers vir sy eie sonde betaal nie.
Tegelyk daarmee moes Hy ook God wees, want Hy moes na Sy Godheid die toorn oor ons sondes dra.

Slegs deur `n goddelike wonder kon dit gebeur. Hy behou Sy goddelike natuur, maar deur die maagd Maria word Hy as ware mens gebore. In alle opsigte gelyk aan ons – uitgesonderd die sonde.

Nou wys die Hebr-skrywer ons daarop dat Christus daarom ons enigste Hoëpriester kan wees, wat die offer vir ons sondes kon bring.
Net so kan Hy alleenlik ons Voorspraak by die Vader wees, want Hy is Self ook versoek en het gely vir ons.

Wie anders kan tereg ons help in ons versoekings en lyding ?
Dit is waarom die skrywer in hoofstuk 4 kan sê: “Laat ons met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry, en genade, om op die regte tyd gehelp te word.”
In hoofstuk 10 sê hy weer dat ons die vrymoedigheid het “om die heiligdom in te gaan DEUR DIE BLOED VAN CHRISTUS.”
-2-

2.CHRISTUS IS OOK HIERVOOR VERHEERLIK

Die heidene se idee van hulle gode is dat hulle te hoog en verhewe is om te benader. Daarom soek hulle allerhande bemiddelaars om vir hulle in te tree.

Hierdie idee is die Christendom ingedra deur mense wat nie werklik hulle heidense wortels agtergelaat het nie. Toe die Christelike godsdiens in die 4e eeu wettig verklaar is, en later die bevoorregte staatsgodsdiens, het dit mode geword om Christen te wees. Dit as sekerlik ook noodsaaklik om poste by die staat te beklee.
Daarom het mense ongekontrolleerd die kerk ingestroom, en nie waarlik die ware godsdiens geken nie.

Mense-idees het begin oorheers. Belangrike leerstellings uit die Skrif is weggelaat, en dinge is bygevoeg, soos allehande “heiliges” wat vir ons sou kon intree.


Natuurlik is Christus ontsaglik verhewe bo ons. Hy is immers ook God !
Tog leer Hy ons dat Hy met ons swakhede medelyde het. Sy verhewenheid hoef ons nie te laat terugdeins nie, maar moet ons juis met vrymoedigheid vervul: Hy is ons Voorspraak by die Vader, wat juis ook met die oog daarop verhoog is – verheerlik is.

3.DAAR IS GEEN ANDER MIDDELAAR NIE

Christus het met klem gesê: “EK is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Geen ander het die helse magte vir ons trotseer en oorwin nie. Deur wie anders kan ons verhoor word, as deur Hom, wat ook ware God is nie. Deur Hom het ons kinders van God geword.

Ons is dus nie so nederig, dat ons nie na Christus kan gaan nie. Die Heilige Gees tree dan selfs vir ons in met onuitspreeklike sugte !
Ons is dan selfs waardig om aan die tafel van die Here aan te sit met Nagmal.

Ons moet al die mens-uitgedinkte middelaars en “heiliges” van die Roomse HHomHHverwerp, want ALMAL wat in Christus verkies is, word deur God geheilig.

Heerlik is God se werk, en volmaak, net soos Sy Woord. Ons mag daar nie iets by voeg nie ! (Openb 22:18,19)

Ons kan toetree met `n waaragtige hart en in volle geloofsverse-kering.

AMEN

- - - 0 - - -

No comments: