Monday, July 9, 2007

3. HEILIGING VAN GOD SE NAAM

LEES: 1 Samuel 17:3-50
TEKS: vs 43-47
SING: Ps 68:13; Ps 40:1; Skb 14:1,2; Ps 130:1,2

Die DERDE GEBOD raak jou as `n profeet van die allerhoogste God.
In die eerste twee gebooie gaan dit oor ons priesterlike diens en in die vierde oor ons koningskap in ons werk en rus.

Die gebooie mag so negatief lyk – telkens hoor mens net jy mag nie – tog leer ons in die res van die Skrif die positiewe sy daarvan ken.
As God dus sê jy mag nie sy Naam laster nie, weet ons om daarby uit die Woord te lees jy moet sy Naam reg bely.

I. GOD AANVAAR NIE “NEUTRALITEIT NIE

Daar is geen posisie tussen bely van Sy Naam, en dit om te vloek nie.
Wie nie vir Hom is nie, is teen Hom.

Christus het immers gesê dat nie almal wat sê Here, Here, sal ingaan in die Koninkryk van die hemele nie. Baie “Here”-uitroepers bely Hom dus nie werklik nie !
Jeremia het ook die volk verwyt dat hulle ewe vroom in die Tempel staan die uitroep Die HERE se Tempel is dit ! …. Maar tog aangaan met hulle sondige lewens. Hulle bely Hom nie meer as Emmanuel, “God met ons” nie. Hulle het net bygelowig gedink die Tempel se bestaan is genoeg.
Esegiel het gesien hoe die heerlikheid van die HERE opstyg vanaf die Tempel, en Jerusalem verlaat.

Eers as hulle uit hulle land weggevoer is, begin hulle besef dat hulle gefaal het as volk, wat die Naam van God aan die hele wêreld moes bely.
Selfs na die terugkeer uit hulle ballingskap moes hulle telkens vermaan word. Daarom spot Sagaria met hulle,dat hulle so “onskuldig” vra Waarin moet ons terugkeer ?Dan wys die profeet hulle daarop dat hulle maar weer op die spore van hulle vaders was.

Maleagi 1 vertel hoe die mense altyd graag `n bekuldigende vinger na God wil wys, om hulleself te verontskuldig. Hulle het God steeds maar net met met `n halwe hart wou dien.
Hulle het nie die liefde van God raakgesien daarin dat Hy profete stuur om hulle tot be-sinning te bring nie.

Die Israeliete het God nie werklik verkondig nie, en Hom dus ook nie reg gedien nie !
Hulle glo, maar glo ook nie.
Dit herinner aan die Laodisense (Openb 3), wat nie warm of koud was nie, maar lou. Mens kan nie sê dat hulle God haat nie, maar hulle betoon beslis ook nie hulle liefde nie.
Hulle het de geloof, en God se diens, met `n toeskouershouding benader.

-2-

II. GOD ROEP ONS OM PROFETE TE WEES

Ons het nou daarop gewys dat mens nie koue, lou profete kan wees, en nog dink dat jy God behaag nie.

Om Christen te wees, beteken om Hom na te volg wat in alles die Naam van Sy Vader verkondig het.

Daarom het ons die gedeelte gelees van Dawid se konfrontasie met Goliat. Hier staan die kontras tussen belyder en spotter so duidelik uit.
Goliat wil Dawid intimideer deur God te bespot en Israel as God se Volk te vloek. Hy daag God Self daarmee uit.
Dawid kom nie met Goliat se wapenrusting hom tegemoet nie, maar met `n belydenis van die God van die Verbond. Dawid kom in die Naam van die HERE. Sy slingervel mag belaglik lyk in vergelyking met Goliat se wapens, maar:
Dawid sien die ongelykheid in hulle stryd anders: Hy sien die reusagtige Goliat as `n nietige stoffie voor God. Hy is vir die jong seun net `n veragtelike lasteraar. `n Nietige skepsel. Ons weet wat die uitkoms van die stryd was, want dit was nie Dawid wat geveg het nie, maar God.


Die HERE het uit genade Hom openbaar aan die mens, wat deur die sondeval Hom verlaat en vergeet het. Sonder Sy Woord sou ons Hom nie geken het nie. Hy het Hom openbaar sodat ons Hom reg kan ken en bely … as profete Hom kan verkondig.

III. NOU MOET ONS DIE PROFETIESE ROEPING UITLEEF

HOE ?

= Ons moet Hom ken.
Ons moet die Woord ondersoek en lees.
Ons moet in persoonlike gemeenskap met Hom leef – deur die Gees, die Woord en met gebed. Huisgodsdiens, katkisasie, Bybelstudie, en vernaamste: die erediens is waar die gemeenskap onderhou word.

Om hierdie dinge na te laat is om die gemeenskap met God te laat skade ly. Dit veroorsaak eerstens die louheid van die Laodisense, en lei ons dan verder weg op die pad wat Psalm 1 teken: Eers wandel mens in die raad van die goddeloses, dan veragter jy deurdat sy op hulle pad gaan, en uiteindelik maak jy jou tuis … sit in die kring van die spotters.

Om Here, Here te roep, maar nie met jou hele hart nie, is nie om Sy wil te doen nie.

= Ons moet die Naam van onse HERE bely.
-3-
Negatief stel die die Derde Gebod dat Sy Naam nie misbruik mag word nie. Alle ydele woorde stry hierteen.
Ons moet dit haat en ontvlug.
Ons mag nie vervloek nie, asof ons God is nie.
Vermy alle verdraaiings van Sy Naam, en gebruik dit nie as `n stopwoord, asof dit die punktuasie van jou sinne uitmaak nie. Selfs in ons gebede kan ons hierdie heilige Naam ydellik gebruik.

Selfs die tekens van Sy mag durf ons nie misbruik nie. Ons maak vloekwoorde van die onweer en weerlig. Sonder dat ons dit besef, roep ons dit as straf oor ander mense uit: ons vervloek dus !

= Maar ons mag ook nie die Naam van die HERE glad nie gebruik nie!
Hy MOET deur ons bely word.

Ons moet ons ook nie vereenselwig met die, wat bloot van “`n opperwese” praat, asof God nie Sy Naam aan ons bekend gemaak het nie. Op hierdie manier wil mense vermy om aanstoot te gee aan ander, wat ander gode dien.
DAAR IS MAAR EEN WARE GOD: DIE DRIE-ENIGE GOD, VADER SEUN EN HEILIGE GEES, wat Hom in Sy Woord aan ons openbaar het.

Ons moet sy Naam heilig deur vermaning van die wat dit misbruik.
Ons ede mag slegs by Sy Naam geneem word, en in waarheid wees. Hy getuig vir die waarheid van ons woorde, en straf as ons leuens verkondig.


Om van harte in die ware God te glo, is om Hom van harte te dien.

Christus het ons die opdrag gegee om Hom te verkondig tot aan die eindes van die aarde. Laat ons dit met verlossings-blydskap en –dankbaarheid doen.
Soos Hy Self, en deur die Heilige Gees deur die Apostels in waarheid aan ons verkondig het, moet ons ook doen. Ons moet die Woord suiwer hou, en suiwer verkondig, want ook die verdraaiing van die Woord is laster !

Wees lewende verkondigers – met woorde en dade. Ons dade moet immers oortuiging by ons belydenis voeg. `n Gelowige is anders as `n ongelowige.

Wie Christus bely, sal ook deur Hom bely word voor Sy Vader wat in die hemel is. Deur Hom alleen kom ons by die Vader ….
· Christus is die Weg, die Waarheid en die Lewe !

AMEN.

- - - 0 - - -

No comments: