Oordenkings vir Radio Pretoria – Julie 2007
GOD SE WIL IN ONS DROEFHEID
LEES: Esegiel 24:16-24
TEKS: vs 23-24
Alles kan soms net verkeerd gaan. Partymaal is dit deur ander mense se optrede, soms deur natuurrampe, of dinge wil eenvoudig nie uitwerk soos hulle moet nie.
Dan kan ons so hartseer word.
Wat Eseg 24 ons hieroor leer, is dat ons hartseer soms oor verkeerde dinge is, of verkeerd gerig kan wees.
Om dit reg te stel, leer hierdie gedeelte ons
1.Ons moet ons diens van God reg verstaan, en
2.ons moet deeglike selfkennis he.
1.ONS DIENS REG VERSTAAN
Esegiel is saam met die Noordlike ryk van Israel reeds in ballingskap.
Vir eeue het hulle `n vervalsde godsdiens bedryf by twee mens-ingestelde bymekaarkomplekke. Daar het hulle kalwerdiens gepleeg.
Hulle het eeue lank nie na God se profete geluister nie, en hulle nie geglo nie. Eers toe God se waarskuwings waar word en hulle uit Israel weggevoer is, het baie begin besef dat hulle godsdiens vals was.
Dit as `n eiewillige, heidense diens wat hulle vir hulle HERE wou opdis !
Wanneer die volgende rampe kom, waaroor Esegiel nou sou profeeer, sou hulle eers werklik besef:
ONS HET TEEN GOD GESONDIG !
Hierdie profesie moes op `n besondere manier na hulle kom:
`n Swaar slag sou Esegiel tref, en die manier waarop hy die slag moes dra, sou in wese die profesie wees.
Esegiel kry `n skok-bevel: Sy vrou gaan skielik sterf, en hy mag nie rou oor haar nie !
In sy hart, innerlik, sou hy verseker die rou voel, maar hy mag dit nie uiterlik betoon het nie.
Ons weet dat dit `n gesonde saak is om jou rousmart te beleef. Dit is deel van ons verwerking van `n geliefde se dood.
Die oosterlinge het baie deeglik aan hulle gevoelens uiting gegee deur verskeie dinge:
= Hulle het met onbedekte koppe gesit en
= dan het hulle selfs stof en as op hulle gestrooi.
= Hulle het hardop geweeklaag, en
= kaalvoet geloop, terwyl mans ook hulle baarde bedek
het.
= Ander mense het vir die rouendes kos gebring.
-2-
Omdat Esegiel niks van die gebruiklike dinge gedoen het nie, het die mense gevra waarom.
Dit sou net so gewees het, as toe koning Dawid se howelinge navraag gedoen het oor sy omgekeerde gedrag met die dood van sy en Batseba se eerste baba. Voor die kind se dood het Dawid gehuil en gekla, maar daarna gewas, gaan aanbid en ge-eet.
Die betekenis an Dawid se optrede was wel anders, maar in beide gevalle het dit betekenis gehad.
Dawid het die mense geleer dat sy trane nie die kind sou terugbring nie, maar dat hy glo dat die kind as verbondskind by DIE HERE is.
Esegiel se optrede was heel `n ander profesie. Dit moes `n skok-preek vir sy mense wees.
Hulle het steeds gehoop dat, so lank as die die tempel staan, hulle weer na hulle land sou terugkeer. Wanneer hule navraag doen oor Esegiel se eienaardge optrede, hoor hulle dat Jerusalem en die tempel gaan val !
En wanneer dit gebeur, mag hulle ook nie rou nie !
Dan sal hulle besef Wie hulle God en HERE is.
Hulle sal leer wat Hy werklik in sy diens eis:
HULLE MOES BY HOM VERSOENING SOEK VIR HULLE SONDES.
Hulle moes leer dat hulle van hulle goddiens self en van die tempel afgode gemaak het. Hulle het gedink dat Israel en die tempel waarborg genoeg was dat God vir hulle moet sorg.
In `n visioen het God vir Esegiel gewys dat selfs in die tempel afgosdiens bedryf was !
Daarom mag hulle nie rou wanneer die tempel val nie:
Dit sou net `n rou oor uitelike dinge wees, en is nie die berou wat God by hulle gesoek het nie.
Hy het behae in `n gebroke en verslae hart oor hulle sondes.
2.DIE VOLK SOU SO TOT SELF-KENNIS MOES KOM
Met die tempel se val sou hulle eers besef dat God ernstig was met Sy waarskuwings, en dat hulle geestelike val wel so groot was as wat die profete gese het.
Hulle moes leer dat die geskiedenis stewig in God se hand is. Dit is nie Israel wat so groot is, dat Hy aan hulle iets skuld nie …. asof Hy verplig is om aan hulle goed te doen nie.
Afstam van Abraham na die vlees beteken niks nie: hulle moes geestelike kinders van Abraham wees.
God bestaan nie ter wille van Israel nie, maar hulle bestaan om Hom te eer.
Hy is nie deur die tempel gebind om aan hulle goed te doen nie, en daarsonder bly Hy steeds heerlik, wonderbaar, almagtig.
Israel se hartseer was verkeerd gerig.
-3-
In 2 Kor 7 lees ons hieroor at ons droefheid `n droefheid tot God moet wees.
OOK ONS MOET HIERUIT LEER
Ons moet ook elke dag met verslae harte voor ONS HERE staan. Ons maak immers ons sondes elke dag meer !
Ons moet ons sondes en die gevolge daarvan ken.
Dan alleen sal ons nie by onsself as mens nie, maar in Christus die enigste uitvlug soek en vind. In Hom alleen vind ons God se ontferming.
Op sy kruispad het Jesus Christus aan die vroue gese om nie te huil nie.
= Hulle moes nie huil oor wat hulle gedink het hulle verloor
nie ….
= nie huil oor die uitwendige verloor van Hom nie ….
Maar eerder oor die sonde, wat sy versoenende dood noodsaaklik gemaak het.
Sy dood is immers rede tot blydskap. Daardie kruispad het Hy tot ons verlossing geloop.
Ons moet weet om TOT GOD bedroef te wees.
Dan is Christus se kruispad vir ons `n troos.
Deur ons sondes op Hom te neem het Hy volbring wat ons nie kan nie: die skuld voor God is betaal !
Hy het ons sondes op Hom geneem in die tempel van sy vlees. Op Golgotha is daardie tempel afgebreek, tot `n volkome versoening van al ons sondes.
En Hy het na drie dae daardie tempel herbou toe Hy deur die dood gebreek het en opgestaan het.
Nou deel Hy Sy weldade aan ons mee.
Hy het sy Heilige Gees aan ons gestuur wat ons oortuig van ons sondes, en deur Wie ons nou blye versekering van vergiffenis het.
Hierdie verlossing moes van bo kom, weens ons onmag in die sonde. God alleen het die mag om ons weer op te bou, soos Hy Israel weer opgebou het.
Tevergeefs probeer mense dus self aan hulle saligheid bou, as God nie daaraan bou nie (Ps 127).
Nou kan ons lewende stene wees in die lewende tempel van God se volk, in Christus gebou, met Hom as die Hoeksteen, gebou op die prediking van die Apostels – nie gebou deur mensehande nie !
Laat ons nou voluit leef uit dankbaarheid, tot Sy eer.
In Christus sal ons trane afgevee word.
Amen.
Friday, June 29, 2007
Saturday, June 23, 2007
Subscribe to:
Posts (Atom)